Landbou
Europa lus vir meer springbokke
Deur THEUNS BOTHA (landbou@mweb.co.za)

Die land se grootste spesialis in die oes, verwerking en uitvoer van wildvleis, sit met die hande in die hare. In Europa het springbokvleis so gewild geword dat kwalik in die vraag voorsien kan word. Eet die Europeërs meer springbokvleis omdat die Springbokke verlede jaar rugby se wêreldbeker gebuit het in Parys, Frankryk?

Dié vraag laat mnr. Piet Neethling, bestuurder van Camdeboo Meat Processors op Graaff-Reinet, net skalks lag. "Ek wil eerder glo die rede is dat ons 'n kantoor in België het en regstreeks met klante oor die hele Europa skakel. Dit het tot die fenomenale uitbreiding van die mark die afgelope paar jaar bygedra. Klante in Europa kan nou regstreeks die reeds verwerkte vleis, in die verskillende snitte verpak, aankoop. In die verlede was hulle aangewese op houervragtewildsvleis uit Suid-Afrika."

Neethling se maatskappy, wat deur Camexo besit word, voer reeds die afgelope elf jaar volstruis- en wildsvleis na veral Europa uit. Hy kla dat as dit by die oes van wild kom, staan uitvoerders agter in die tou. "Wildboere verdien die beste prys uit trofeejag. Dan kom die verhandeling van lewende wild. Volgende op die lys is die biltongmark en éérs wanneer daar nog wild óór is, word ons genader om dit te kom oes."

Ten spyte van die toename in wildboerdery en die toename in getalle van die meeste wildsoorte is daar deesdae minder springbokke in die land. Daar is nie betroubare statistieke om met sekerheid te bepaal hoe groot die afname was nie. Een van die redes waarom die maatskappy sukkel om genoeg springbokke vir die uitvoermark te oes, kan aan die gewildheid van die diere vir biltongjag toegeskryf word en die feit dat ongediertes hul tol eis wanneer die ooie lam.

Veeboere met wie Landbouweekblad gepraat het, meen egter boere wat op bewaring ingestel is, wil nie met springbokke boer nie omdat hulle die veld verniel met hul weidingsgewoontes.

Mnr. Hennie Roets, besturende direkteur van Camexo, beklemtoon dat sy maatskappy van die hoogste pryse vir springbokvleis in die land betaal. Die afstand van die mark en die terrein waar dit geoes word, speel wel 'n rol met die onderhandelinge oor die prys. Die afgelope seisoen het die maatskappy gemiddeld R20/kg aan die haak met die vel aan (sonder die kop en die binnegoed) betaal. Dit vergelyk gunstig met die prys vir C3-skaapvleis.

Die maatskappy wat jaarliks sowat 200 ton bevrore wildsvleis uitvoer, het ook 'n handelsmerk vir springbokvleis geskep sodat dit nie met takbokvleis uit Nieu-Seeland verwar word nie. Die grootste aanvraag vir die vleis is gedurende die Europese winter. Vandat die wild in Suid-Afrika geoes word tot die tyd wat dit op die winkelrakke is, kan dus tot ses maande verloop.

Neethling sê boere wat hul wild deur sy maatskappy bemark, is van 'n stabiele inkomste verseker, omdat baie geld in die bemarkingsketting belê is. "Om volhoubaarheid in die mark te verseker en die maatskappy in staat te stel om goeie bemarkingsbeplanning te doen, sal dit help as boere ons vroegtydig inlig oor die hoeveelheid wild wat hulle beskikbaar het."

Volgens Roets is daar vier maatskappye in die land wat vleis uitvoer. Camdeboo is die markleier en hanteer sowat 45% van die mark vir wildsvleis. In teenstelling met die volstruisvleisuitvoer wat met die uitbreek van die H5N2-virus 'n terugslag gehad het, is die enigste bedreiging vir die uitvoer van wildsvleis die voorkoms van bek-en-klouseer in 'n gebied waar dit geoes word.

"Camdeboo wil die voorkeurmaatskappy in die land wees vir die verskaffers en die verbruikers. Die enigste probleem is dat ons te min springbokke kry om aan die sterk groeiende buitelandse mark te voorsien," sê hy.

Landbouweekblad, 28 Maart 2008