Landbou
Blikbrein maak bul soek maklik
Deur ANDRIES GOUWS (agouws@landbou.com)

'n Webwerf waarop 'n mens met die druk van 'n paar sleutels 'n foto, die volle stamboom en prestasiegegewens van stoetdiere agter jou lessenaar kan bestudeer, maak dit maklik om die regte bulle vir jou kudde uit te soek. Niemand kon droom dat die internasionale webwerf van Breedplan so vinnig in Suid-Afrika sou groei nie. Die afgelope jaar het sowat 600 000 mense die Suid-Afrikaanse komponent van die webwerf besoek. Internasionaal was daar 2,5 miljoen besoeke.

Dr. Michael Bradfield, bestuurder van Breedplan SA, sê hulle het dit reggekry om alle stoetbeeste van telersgenootskappe wat lid is van Breedplan en wat tot dusver in Suid-Afrika geregistreer is, op die openbare platformte plaas waar enigeen volle besonderhede oor die dier en sy eienaar kan kry.

Volgens die besoeke aan die webwerf is dit veral kommersiële boere wat dit gebruik om diere deeglik te evalueer voordat hulle dit op veilings of privaat gaan koop omdat die gegewens hulle in staat stel om te bepaal watter diere die grootste genetiese en ekonomiese waarde vir hul boerdery sal hê, sê hy.

Maar die omvang van dié ontwikkeling is veel wyer. Enige beesboer op enige plek in die wêreld het toegang daartoe en kan die besonderhede bestudeer van elke telersgenootskap, stoetteler en bees ter wêreld wat by Breedplan ingeskakel is.

Dit sluit alle inligting in wat beskikbaar is ten opsigte van reproduksie, groei, karkasprestasie, stambome en besonderhede soos die getal nageslag en die prestasie per kudde, sê hy.

Dié webwerf is met die gebruik van die gevorderdste beesaantekening- en genetiese evaluasiestelsel ter wêreld ontwikkel. En die beste van alles is dat dit heeltemal gratis is. Daar is nie eers 'n aanmeldnaam of wagwoord nodig om toegang tot dié gebruikersvriendelike webwerf te kry nie.

Die webwerf kan maklik gevind word op al die webwerwe van die telersgenootskappe wat lid van Breedplan is. 'n Mens kan ook regstreeks by www.breedplan.co.za inskakel.

Die webwerf is in Afrikaans en Engels beskikbaar. Sekere funksies is egter net in Engels beskikbaar omdat dit 'n internasionale program is. Om hierdie artikel te verstaan, sal dit goed wees om die skerms een vir een op te roep en dit saam met die artikel te lees.

Op die eerste blad van die webwerf is daar 'n onskatbare bron van inligting,maar die funksies ominligting oor telers en stoetdiere te kry, is heel onder in die linkerkantse kolomonder die opskrif "Database search" met onderafdelings vir Suid-Afrika, Namibië en internasionaal.

Deur op een van dié drie te klik, verskyn al die beestelersgenootskappewat lid is van Breedplan in die bepaalde land of wêreldwyd op die skerm. Klik op die ras en die navraagvelde verskyn aan die linkerkant.

As 'n mens meer oor 'n teler wil weet, klik op "member enquiry" of as 'n dier se inligting benodig word op "animal enquiry". Op dié manier kan 'n spesifieke teler se besonderhede opgeroep word, al het 'n mens net sy naam of sy stoetery se naam. Daar is etlike moontlikhede.

Net so kan al die telers van die beesras opgeroep word of net telers in 'n spesifieke provinsie of selfs 'n spesifieke streek waar telers dieselfde poskode het.

Terwyl 'n mens op enige bladsy werk, kan enige ander navraagskerm ook opgeroep word. Veronderstel 'n kommersiële boer is soek na 'n spesifieke dier of groep diere wat aan verskillende kriteria moet voldoen.

Gebruik die Brahman-skerm as voorbeeld. 'n Mens kan diere uitsoek met hul name, ID-nommers, die jaar waarin hulle aangekom het, die provinsie waar hulle voorkom of selfs die tipe dier.

Veronderstel jy is nie heeltemal seker van die dier se naam nie, maar jy weet dit begin met NM en hy is in 1996 gebore. Tik dan net NM 96% (die % is noodsaaklik sodat die stelsel alle diere met 'n NM96 sal soek) in die ruimte wat vir die dier se ID gemerk is. Die eerste 100 diere met NM96 in hul naam en geboortedatum sal dan verskyn. Die "next"-sleutel word dan gebruik om na onder te rol en 'n mens sien dan die dier se naam teenoor dier nr. 96. 'n Foto word saam met die dier se besonderhede vertoon (mits die eienaar 'n foto aan sy genootskap gestuur het, wat dit maklik invoeg) en boere met 'n logo kan dit op elke blad vertoon, wat as 'n skakel dien na die teler se eie webwerf.

Die blad waarop die diere se besonderhede vertoon word, bevat verskeie ander inligting, soos:

  • Volledige stamboominligting.
  • Besonderhede van die dier se nageslag.
  • Die getal nageslag per kudde, die getal prestasierekords wat aangeteken is en die getal dogters.

    Klik net op een van die blou merkers om dié inligting te kry.

    As die boer die nageslag van die dier wil besigtig, klik hy net op "pedigree" en die inligting verskyn op die skerm. Die prestasiesyfers wat daar verskyn, is ook as 'n grafiek beskikbaar. Om na die prestasiegegewens in grafiekvorm te kyk, klik op die "EBV Graph" en die bladsy verskyn op die skerm met die numeriese gegewens onder die grafiek.

    Om diere uit te soek wat aan bepaalde kriteria voldoen, is waarskynlik die bruikbaarste funksie van dié internetstelsel. Om dié funksie te gebruik, gaan na die teelwaardeskerm(" EBV enquiry").

    Op dié skerm kan 'n mens byvoorbeeld soek na bulle wat 'n nageslag behoort te produseer met bogemiddelde groei, goeie melkproduksie, 'n groot skrotumomvang en wat ook 'n kalf met 'n ondergemiddelde geboortegewig behoort te gee.

    Dié vereistes word eenvoudig in die betrokke kolomme ingetik en dan móét een van die vereistes in die soekvenstertjie ("sort by") onderaan die blad ingetik word (byvoorbeeld 200 dae gewig) om die soekproses aan die gang te sit.

    'n Lys van bulle wat voldoen aan die teelwaardevereistes wat die boer in die vorige kolomme ingevoer het, word aangedui. Hulle behoort almal kalwers te produseer met goeie groei, dogters wat genoeg melk sal gee en kalwers wat nie te swaar ismet geboorte nie.

    Omdat daar ook foto's van die meeste bulle beskikbaar sal wees, kan die boer die bulle identifiseer wat die beste aan sy vereistes sal voldoen en by sy kudde sal inpas. Hy hoef dan net na daardie bulle te gaan kyk. Dit bly belangrik om dié bulle onder oog te kry, want dan kan die boer beter oordeel hoe die bul (tipe) by sy kudde gaan inpas vir die doel waarvoor hy hom wil gebruik.

    Die opsie "Sale Catalogues" bied 'n lys diere met hul stamboom en prestasiegegewens wat te koop is. Telers kan ook foto's met op- en byskrifte in die taal van hul keuse van dié diere bysit. Die soektog na teelwaardevereistes kan ook in die verkoopskatalogus gebruik word om kriteria te stel waaraan bulle moet voldoen. Telers kan hul eie kommentaar in die katalogus byvoeg.

    Dié funksie het baie gewild geraak in Suid-Afrika, sê Bradfield. Boere sê hulle kry baie meer besoeke van mense wat daar na diere kyk.

    Landbouweekblad, 8 April 2008