Landbou
Verbeter kuddes met program
Deur JOHAN COETSEE (jcoetsee@landbou.com)

Die kommersiële landbou is vandag veel meer as net "boerdery". Dit is 'n sake-onderneming. En as dit nie noukeurig bestuur word nie, sal dit soos enige onderneming ten gronde gaan. Veeboerdery is geen uitsondering nie. As die aantekeningstelsel in 'n bees- of skaapboerdery swak is, raak dit moeilik omte oorleef.

Verskeie rekenaarprogramme bestaan vir veeboerdery, maar die meeste het hul oorsprong in die buiteland. Daar is egter een wat in Suid-Afrika vir plaaslike omstandighede geskep is, naamlik Intergis.

Boere ken dit, maar nie almal weet van die koppelprogram Logix ("Livestock Operational and Genetic Information Exchange") nie. Dit is 'n deurgang tot verskillende databasisse wat aanpasbaar is by elke boerdery se omstandighede.

Landbouweekblad het met 'n vleis- en 'n melkbeesstoetteler gesels. Hulle meen Logix vergemaklik hul lewe en het die winsgewendheid van hul boerderye verhoog.

Mnr. Rob Slater is bestuurder van Schoongezicht Jersey's buite Stellenbosch. Die boerdery het 652 koeie waarvan 310 in melk is. Slater meen een van die grootste voordele is dat hy altyd toegang het tot ál sy diere se inligting. Voorheen moes hy die SA Jerseytelersgenootskap of die Landbounavorsingsraad se Lewendehawe-besigheidseenheid kontak omalle inligting te kry.

As 'n telersgenootskap so besluit, kan lede ook mekaar se inligting sien. Dit is nuttig wanneer 'n teler koeie by 'n ander teler wil koop. Hy gaan na die indekslys van die telersgenootskap waar hy toegang kry tot die diere se produksiegeskiedenis en -waardes. Só kan hy, mét toestemming, byvoorbeeld die program vra om vir hom die beste 10, 50 of 100 koeie van die ras in die land uit te wys, gegrond op 'n sekere norm of verskillende norme wat vir hom belangrik is. Vir 'n teler wat embriospoeling doen, is sulke inligting belangrik om die regte keuses te maak.

Onlangs het 'n Jersey-teler 20 koeie van Schoongezicht gekoop. Hy kon met die Logix-program besluit watter koeie hy wil koop deur na hul produksie- en reproduksiesyfers en teelwaardes te kyk. Die transaksie self was net 'n formaliteit.

Slater kyk elke dag na die teelkuddeseleksieverslag van sy kudde om te sien of sy diere voldoen aan norme wat hy volgens die boerdery se behoeftes bepaal het. 'n Boer bepaal die norme en hy kan dadelik sien watter diere voldoen daaraan. Diere wat nie die paal haal nie, se swak syfers word in rooi omkring.

Daarvolgens kan bepaal word of die dier swak vaar weens bestuursleemtes of genetiese probleme. Dit maak besluitneming maklik en vinnig: Kan haar prestasie verbeter word of het sy 'n genetiese agterstand? Voorheen moes sulke inligting eers aangevra word.

Nog iets waarvan Slater hou, is dat 'n enkel-, drie- en vyfgenerasiestamboom van elke geregistreerde Jersey landwyd beskikbaar is wat produksie- en teelwaardes betref.

Geboortekennisgewings aan Stamboek word met dié program elektronies versend op dieselfde dag en die bevestiging kom binne 24 uur terug. Voorheen is gewag totdat daar 'n paar geboortes was en die inligting is per pos na die genootskap gestuur.

Dit het soms weke geduur voordat bevestiging teruggekom het.

Met die vryformaat verslag kan 'n verslag, gegrond op 'n dier se registrasie- en teelwaarde-inligting, asook melkproduksie en reproduksiesyfers opgeroep word.

Tydens veeartsbesoeke vir dragtigheidsondersoeke is alle inligting van elke dier in 'n verslag beskikbaar. Die verslag kan geskep word volgens eie voorkeure of norme. Enige inligting van enige dier kan in 'n mini-verslag vervat word.

Die "BLUP-bloedhond"-program kan gebruik word om van enige geregistreerde dier landwyd inligting te verkry oor liniêre klassifkasie en/of produksie-eienskappe. Dit help die boer besluit watter bulle of koeie om te koop. Slater stel sy normvereistes en die program gee die besonderhede van elke dier in die land wat daaraan voldoen op die rekenaarskerm.

Dit spaar hom geld en tyd en maak bestuursbesluite makliker en akkuraat.

Die program is ook ideaal vir vleisbeeste. Mnr. Danie van Breda, wat met Herefords op sy plaas Malrug by Riebeek-Kasteel boer, meen die Logix-program, wat hy sedert 2002 gebruik, het talle voordele wat besluitneming vergemaklik. Die elektroniese kontak met sy telersgenootskap en SA Stamboek vind hy nuttig. 'n Elektroniese lêer van enige geregistreerde dier kan gestuur of gevra en op sy eie program gelaai word. Volledige inligting is blitsvinnig beskikbaar. As hy belangrike norme in sy vleisbeeskudde uitstippel, kan hy met die "BLUP bloedhond" vinnig die top-100 bulle of koeie landwyd in daardie kategorie op sy rekenaarskerm hê, geselekteer uit alle Hereford-kuddes.

Van Breda vind veral die reproduksieverslae nuttig, want alle data en syfers is oombliklik beskikbaar en diere wat nie aan sekere norme voldoen nie, word geïdentifiseer. Dan kan die geskiedenis van die swakker presteerder nagegaan word om te bepaal wat die probleem is.

Ook die teelkudde-seleksieverslag vir vleisbeeste is nuttig. As spesifiek na vleiseienskappe gesoek word, moet die moederinligting ook beskikbaar wees. Sodoende kan bepaal word of sy dalk te sterk melkeienskappe het en gepaar moet word met 'n bul wat sterk vleiseienskappe het. Op dié manier kan die nageslag se vleis- en melkeienskappe as't ware uitbalanseer.

Die fases C- en D-groei- en voerbenuttingsevaluasie vir vleisbeeste is belangrik. Dit sluit ook ultrasoniese meting vir die bepaling van vleisgehalte in.

Al die inligting is op Logix beskikbaar.

Voor 'n veiling kan op grond van die nommers van beeste wat aangebied word, op die beeste se totale geskiedenis ingegaan word (met die eienaar se toestemming).

Tydens die veiling weet die boer dan presies watter beeste hy soek.

Hy meen 'n jong teler of 'n nuwe toetreder tot die veebedryf sal moeilik sonder die program vorder. As hy nie jare ondervinding in 'n geslote kudde het nie, gáán verkeerde besluite geneem word. Die program maak dit makliker om foute uit te skakel.

Suid-Afrika se eie wêreldklas-dierestelsel
Deur JOHAN NORVAL
Die wetenskaplike, prakties toepasbare diere-aantekeningstelsel wat vir die Suid-Afrikaanse veebedryf ontwerp is, geniet internasionale erkenning, sê dr. Pierre van Rooyen, hoofbestuurder van SA Stamboek.

Hy meen die veebedryf, as die grootste vertakking in die landbou, het moontlikhede wat deur die verbetering van die genetiese produksiepotensiaal van die veestapel ontgin kan word.

Intergis is 'n noodsaaklike hulpmiddel daarvoor. SA Stamboek gebruik die program vir die registrasie van sy 5 000 telers se sowat 500 000 stoetdiere, terwyl die Landbounavorsingsraad (LNR) dit gebruik vir die verwerking van prestasietoetsdata van melkaantekening-, vleisbees-, kleinvee- en varkskemas.

SA Stamboek en die LNR se lewendehawe- besigheidseenheid (LHBE) is lede van Icar (International Committee for Animal Recording). Icar het in 2007 'n oudit gedoen van Intergis se rekenaarstelsel, asook alle tegniese en hanteringsprosedures van data vir alle diere-aantekeningsaksies (registrasie, prestasietoetsskemas en genetiese evaluasies) wat verwerk word. SA Stamboek en die LNR se aantekeningprosedures is deur Icar geakkrediteer, wat Intergis internasionale erkenning gee. Dit maak dat verskeie instansies internasionale BLUP-evaluasies saam met die LNR doen.

Intergis se internet-koppeling, (deur www.stamboek.co.za), gee telersgenootskappe en telers 24 uur toegang tot inligting, soos inligting oor telers, eienaarskap en oordragte, drie- en vyf-generasiestambome met prestasie- en BLUP-inligting, voortplantingsinligting en verslae oor diereprestasie en melkaantekening. Dit is gratis.

SA Stamboek en die LNR het 15 opgeleide veekundiges wat dit bedryf en help met minimum rasstandaarde, die saamstel van teeldoelwitte vir genetiese rasbevordering, inteel- en ander kuddeprofiele.

Kontak tussen veekundiges, navorsers en gebruikers van die stelsel bring mee dat navorsing in Suid-Afrika toepaslik en tydig is met nuwe produkte wat as hulpmiddels vir telers dien. Dit verseker volhoubaarheid en internasionale mededingendheid vir boere. Data word verkry van 20 vleisbees-, 6 melk-, 15 kleinvee- en 16 perdegenootskappe. Daar is 10,5 miljoen diere en 92 miljoen dierrekords op Intergis.

Werk word ook gedoen vir telers in Amerika, Australië, Brasilië, Argentinië, Uruguay, Namibië en Zambië.

Ander dienste is:

  • Die elektroniese ontvangs van geboortes en prestasiegegewens. Die registrasie van geboortes is binne 24 uur afgehandel.
  • Programmeerders hanteer genootskappe en telers se versoeke. Die koste hiervan is ingesluit by die algemene tariewe.
  • Voorsiening om keurings te hanteer en die redes vir afkeuring asook liniêre klassifkasies op te neem en te verwerk.
  • Foto's van diere as dit verskaf word.
  • Veilings- en skoukatalogusse met stamboom-, reproduksie- en prestasierekords.
  • Genootskappe se inspekteurs kry 'n nommer en inspeksies word getoets teen die nommer van 'n inspekteur.
  • Alle data word dubbel gepons en vergelyk vir ponsfoute. Verder word ewekansige geboortes by alle rasse geselekteer vir DNS-toetse om die ouers te verifieer.
  • Verifëring en gehaltebeheer word so na moontlik aan die bron gedoen sodat net betroubare inligting opgeneem word.

    Landbouweekblad, 25 April 2008