Skaapvoerkraal: Pas op, dis nie só maklik
Dr. JASPER COETZEE
'n Skaapvoerkraal vereis baie meer kundigheid asook 'n baie hoër bestuurspeil as dié van 'n beesvoerkraal en die vlak daarvan is meer vergelykbaar met dié van 'n melkery. Voer-omsetting (kg voer ingeneem per kg massatoename) is die heel belangrikste faktor om in 'n voerkraalonderneming op te konsentreer om winsmarges te verbeter - veral in tye van hoë voerpryse en relatief lae vleispryse. Voeromsetting (VOS) verbeter soos die energie-konsentrasie van die rantsoen verhoog deurdat die voerinname daal terwyl die groeitempo (GDT) toeneem. Die tipe en gehalte van die voerkraallam en die -rantsoen asook die vlak van die voerkraalbestuur, veral suksesvolle aanpassing, speel ook 'n kardinale rol om GDT en VOS en dus wins te verbeter.
Tipe en gehalte voerkraallam
Die gehalte van die lammers wat afgerond word, het 'n groot invloed op die voeromsetting en groeitempo van die lammers en gevolglik die winsgewendheid daarvan. Die gesegde: "You cannot feed the wrong lamb right" is in hierdie geval baie waar. Swak en boepenslammers asook enige lammers wat nie 'n hoë groeitempo in die voerkraal handhaaf nie, moet so gou moontlik verkoop word omdat hulle die winsgewendheid van hierdie onderneming verlaag.
Die ideale voerkraallam moet aan die volgende vereistes voldoen:
'n Gesonde lam ('n swak, boepenslam presteer nie). Moenie siek lammers vir 'n voerkraal aankoop nie.
'n Jong (3 - 6 maande), goed uitgegroeide lam met 'n dun vetlaag en 'n groot karkas (28 - 32 kg).
'n Vleiswoltipe lam met 'n hoë groeipotensiaal.
'n Kruisraslam wat weens basterkrag 'n baie hoë GDT met 'n uitstekende VOS het.
Gee voorkeur aan lammers wat kruipvoeding ontvang het of wat gewoond is aan byvoeding.
Tipe en gehalte voerkraalrantsoen
Om maksimum wins in 'n voerkraal te realiseer, is dit van kritieke belang om die voerkoste per kg massatoename te verlaag, hoofsaaklik deur die verbetering van die voeromsetting. Dit kan egter nie geskied deur die voerkraalrantsoen goedkoper te maak deur goedkoper grondstowwe (bv. newe- en/of afvalprodukte) met 'n lae energiedigtheid en voedingswaarde te gebruik nie omdat dit tot 'n drastiese verlaging van die voeromsetting sal lei. Uitstekende voeromsetting en gevolglike hoë winsmarges is slegs moontlik indien 'n energieryke, hoë gehalte gebalanseerde rantsoen wat al die kritieke voedingstowwe asook minerale, spoorelemente en vitamienes in die regte hoeveelhede en verhoudinge bevat, gebruik word. Verder moet die rantsoen 'n optimum hoeveelheid ruvoer bevat om maksimum kragvoerinname te verseker, maar terseldertyd suurpens te voorkom.
'n Voerkraalrantsoen moet aan die volgende vereistes voldoen:
'n Hoë insluitingsvlak van energiebronne om 'n hoë GDT en 'n uitstekende VOS te verseker. Mielies is die heel beste energiebron omdat dit baie hoog in energie en ook baie smaaklik is. Heel garspitte lewer ook uitstekende resultate. Graan-neweprodukte, soos hominy chop en semels, is baie lywig en nie so smaaklik nie en het 'n laer voerinname en swakker VOS tot gevolg.
'n Lae insluiting van 'n hoogs verteerbare en smaaklike ruvoer met 'n hoë voedingstof-inhoud. Lusern is feitlik die enigste ruvoerbron wat aan hierdie vereistes voldoen en dien ook as 'n uitstekende natuurlike buffer weens sy hoë kalsiuminhoud.
'n Hoë spoorelement- en vitamienvlakke is noodsaaklik om 'n hoë GDT en uitstekende VOS te verseker asook vir 'n sterk immuunstelsel om hoë weerstand teen siektes te verseker. Beide Voermol SS 200 en Procon bevat hoë vlakke van noodsaaklike spoorelemente en vitamienes in die regte verhoudinge.
Hoogs smaaklik en nie stowwerig nie om hoë innames te verseker. In hierdie verband is die gebruik van melassegebaseerde produkte (bv. Voermol SS 200, Voermol Procon 33 en Voermol Melassemeel) hoogs aan te beveel.
Moet 'n hoë gehalte proteïenkonsentraat bevat wat deurvloeiproteïen voorsien (bv. Voermol SS 200 en Procon 33) om spiergroei te bevorder, GDT te verhoog en VOS te verbeter. Deurvloeiproteïeninsluiting in die vorm van Voermol Procon 33 en SS 200 verhoog uitslagpersentasie omdat dit spiergroei bevorder en oormatige vetaansit voorkom, 'n aspek wat al hoe belangriker word soos die verbruiker skraler vleis (A1) verkies.
Moet sekere medikamente bevat om optimale diereprestasie te verseker. Voermol SS 200 bevat 'n ionofoor, 'n sogenaamde groeibevorderaar, wat die vlugtige vetsuurverhouding in die rumen verander waardeur groei en voeromsetting met tot 10 tot 15 % verbeter word en terselfdertyd help dit om koksidiose en suurpens te beheer. Voermol SS 200 bevat verder ook sekere spesifieke teikenmedikasies soos sinkbasitrasien, ammoniumsoute en buffers. Sinkbasitrasien voorkom die vorming van sodanige lewer-absesse en verbeter VOS met 2 tot 3 %. Verder bevat dit ook ammoniumsoute om blaasstene te voorkom asook buffers om suurpens (asidose) te beperk.
Die ideale volledige voerkraalrantsoen in 'n gemaalde vorm vir lammers is: 150 kg gemaalde lusern (20 - 25 mm partikellengte) + 200 kg Voermol SS 200 (V8592) + 50 kg Voermol Procon 33 (V12701) + 80 kg Voermol melassemeel (V1995) + 525 kg gemaalde mielies of heel gars. Hierdie rantsoen gee uitstekende VOS en uitslagpersentasies van so hoog as 50 % is al gerapporteer. Indien uitslagpersentasie laer is as 45 % moet ondersoek onverwyld ingestel word, want dit is een plek waar 'n voerkraal groot finansiële verliese kan lei. In hierdie verband is dit hoogs aan te beveel om lammers direk oor die skaal te verkoop.
Hoewel gemaalde voerkraalrantsoene uitstekende resultate lewer, word beter diereprestasies met verkorrelde rantsoene (bv. 150 kg lusern + 200 kg Voermol SS 200 + 50 kg Voermol Procon + 600 kg mielies) verkry weens 'n hoër inname en omdat vermorsing aansienlik beperk word.
Suksesvolle en doeltreffende aanpassing in die voerkraal
Uitstekende diereprestasies in 'n voerkraal is grootliks afhanklik van doeltreffende en suksesvolle aanpassing en gevolglik moet lammers stadig en geleidelik op die voerkraal-rantsoen aangepas word. Suksesvolle aanpassing kan as volg geskied:
Gebruik lynkrippe met voldoende vreetspasie 250 tot 300 mm/lam (moet verkieslik almal gelyktydig kan vreet). Selfvoerders moenie in voerkrale gebruik word nie omdat stadige en geleidelik aanpassing daarmee nie moontlik is nie.
Voer vir die eerste 10 tot 14 dae addisioneel eenkant 'n goeie gehalte ruvoer (bv. ongemaalde lusernhooi) ad lib. om suksesvolle aanpassing te verseker. Die addisionele lusernhooibyvoeding kan na ongeveer 10 tot 14 dae gestaak word. Die fisiese voorkoms van die mis moet as aanduiding dien of lusernhooibyvoeding gestaak kan word. As die mis pap is, moet langer met addisionele lusernhooibyvoeding voortgegaan word.
Begin die eerste dag met slegs 200 g van die volledige voerkraalrantsoen per lam en verhoog dit daarna elke dag met 100 g/lam tot ad lib.-peil (3,5 - 4,5 % van liggaamsmassa), dit is gewoonlik wanneer hulle begin om voer in die krippe te begin los. Die daaglikse voerkraalrantsoen moet in twee gelyke porsies (een helfte in die oggend en die ander helfte laatnamiddag) gevoer word. Na aanpassing moet die diere minstens twee tot drie keer per dag gevoer word en die voedingspeil moet so wees dat daar voor elke voeding nog 'n klein bietjie voer in die krippe is. Dit sal verseker dat hulle maksimum voer inneem, wat maksimum groei tot gevolg sal hê.
Algemene voerkraalaspekte van kritieke belang
Betekenisvolle verhoging in winsmarges is moontlik as die volgende riglyne gevolg word en die volgende aktiwiteite uitgevoer word:
Lammers moet met inname in die voerkraal in homogene (eenderse) groepe volgens massa, kondisie, ras en geslag ingedeel word. Die ideale tropgrootte is 25 tot 50 lammers per kraal met 'n maksimum van 100 lammers.
Lammers moet binne 24 uur ná inname in die voerkraal geprosesseer word (beperk stres in die voerkraal omdat dit die voerkraalprestasie nadelig beinvloed deur die hantering van diere asook die uitvoer van alle aktiwiteite in die voerkraal altyd rustig en kalm te laat geskied):
(i) Ideaal is as lammers ongeveer drie tot vier weke voor inname geskeer word. Indien dit nie moontlik is nie, moet lammers met lang wol met inname geskeer word. Indien dit egter baie koud is, moet hulle nie geskeer word nie, want dit verhoog hulle onderhoudsbehoefte wat weer die voeromsetting verlaag.
(ii) Lammers moet met 'n doeltreffende breëspektrumdoseermiddel gedoseer of gespuit word wat beide interne (insluitend neuswurm) en eksterne parasiete beheer asook met 'n breëspektrumentstof, wat onder andere bloednier en pasteurella bevat, geïmmuniseer word. Ander entings word slegs gedoen indien siektes voorkom.
(iii) Die inspuiting van Multimin (sonder koper) en Vitamien A en E is hoogs aanbeveel.
(iv) Lammers moet met 'n geskikte oorinplantaat (bv. Ralgro® of Zeraplix) geïnplanteer word. Hierdie inplantate is groeistimulante wat groei met tot 16 % en voeromsetting met tot 15 % verbeter deurdat dit spiergroei stimuleer en vet-neerlegging vertraag.
(v) Lammers moet verkieslik met genommerde oorplaatjies geïdentifiseer word sodat hulle individuele groei voortdurend gemonitor kan word deur gereelde wegings (weekliks). Voerinname moet minstens weekliks gemonitor word vir berekening van gemiddelde voeromsetting asook vroeë opsporing van siek diere.
(vi) Alle voet- en oogprobleme moet ook behandel word om te verhoed dat dit verder versprei.
Maak voorsiening vir voldoende vloeroppervlakte (minimum 1,5 - 2,5 m2lam, maar 5 tot 8 m2/lam word as ideaal beskou, veral onder natter toestande).
Vir goeie dreinasie om vrotpootjie en siektes te beperk, moet die voerkraal verkieslik 'n helling van 2 tot 6 % hê.
Voorsien voldoende skaduwee (0,5 - 1,0 m2/lam) gedurende warm weer en skuiling gedurende koue, nat winderige weer. Skadunette, dekriet of selfs koeltebome kan vir skaduwee voorsiening gebruik word, want dit is goedkoper as dakplate.
Voldoende skoon en koel drinkwater moet te alle tye beskikbaar wees. Waterbakke moet minstens twee tot drie keer per dag of elke keer wanneer die diere gevoer word, baie deeglik skoongemaak word. Een balklep-varktipe waterbak (150 - 200 mm deursnee) is voldoende vir 50 en selfs 100 skape mits die waterdruk hoog is. Lekkende waterbakke moet vermy word, want die enigste plekke waar vlieglarwes en koksidiose organismes kan uitbroei, is in die nat mis.
Soos lammers markklaarheid bereik, moet hulle bemark word, verkieslik een keer per week.
Samevatting
Die tipe en gehalte lam wat gevoer word asook die tipe en gehalte van die voerkraalrantsoen is sleutelfaktore in die bepaling van winsgewendheid. Die gebruik van sogenaamde "goedkoop" rantsoene wat 'n hoë persentasie laegraadse ruvoer, graan-neweprodukte en afvalprodukte bevat, is dikwels verantwoordelik vir lae groeitempo en swak voeromsetting wat voerkraalwins ernstig knou. Om steeds wins te maak in tye van hoë graanpryse word aanbeveel dat 'n hoë kwaliteit gebalanseerde rantsoen gebruik word en dat slegs goeie gehalte lammers, wat in voerkrale presteer, afgerond word. Ondanks die hoë graanpryse kan die afronding van 'n skraal nie-marklaarlam (A0) om sy graad na 'n A2 te verbeter, egter steeds geregverdig word deurdat sy vleiswaarde verhoog word. Bestuurspraktyke veral dié wat te doen het met voedingsbestuur, gesondheidsbeheer en toesig asook doeltreffende fasiliteite speel ook 'n sleutelrol in die welslae van 'n skaapvoerkraal.
Vir verdere inligting oor die voerkraalafronding van lammers asook bestuurspraktyke en afrondingsrantsoene vir die produksie van natuurlik geproduseerde ISO 9002-gesertifiseerde vleis (Natural Lamb) skryf aan dr. Jasper Coetzee, Voermol Voere, Posbus 13, Maidstone 4380 of skakel Voermol se Hoofkantoor (032 439 5599) of stuur 'n e-pos na info@voermol.co.za
18 September 2006