Landbou
Voedingsprogram vir skape
Dr. JASPER COETZEE

Die doel van hierdie artikel is om slegs breë riglyne te gee met betrekking tot 'n voedingsprogram vir skape. Indien meer spesifieke inligting verlang word, moet dr. Jasper Coetzee gekontak word.

1. Prikkelvoeding van teelramme
Om 'n hoë besetting en tweelinggeboortes te verseker, moet ramme in 'n uitstekende kondisie, vrugbaar en dekbehendig wees, oor 'n baie hoë geslagsdrang beskik en topfiks wees om ooie meermale gedurende haar hittesiklus te dek asook groot testes (skrotum-omtrek van meer as 30 cm op 15 maande ouderdom) hê om voldoende spermselle te produseer. Aangesien die ontwikkeling van spermselle ongeveer twee maande neem, moet alle aktiwiteite ten minste twee maande voor paring geskied. Teelramme moet gevolglik vanaf twee maande voor paring 'n deurvloeiproteïengebaseerde ramprikkellek soos Voermol Superlampille of Ramprikkellekmengsel (200 kg Voermol SS 200 + 150 kg Voermol Procon 33 + 80 kg Voermol Melassemeel + 575 kg gemaalde mielies of heel kleingrane) teen 'n beperkte peil (300 — 750 g/ram/dag) gevoer word. Daar moet voldoende vreetspasie wees sodat alle ramme gelyktydig kan vreet. Indien die weiding skaars is, moet goeie kwaliteit lusernhooi ad lib. bygevoer word. Sodra byvoeding 'n aanvang neem, moet met die oefening (30 minute vinnig stap twee maal daagliks) van die ramme begin word. Waar geoefende (fikse) ramme met ooie gepaar was, was die besetting van die ooie 92 % teenoor die 76 % van die ongeoefende ramme se ooie. Alle ander aktiwiteite, soos die nodige doserings vir beide ronde- en neuswurm, entings (nie bloutong of enige enting wat 'n koorsreaksie tot gevolg het nie) en inspuitings van Multimin asook Vitamine A en E, moet twee maande voor die paarseisoen gedoen word.

2. Uitgroei van vervangingsooie (jongooie)
Om 'n hoë lampersentasie te verseker, moet jongooie vanaf speen voortdurend groei en in geen stadium voor paring massa verloor nie. Daar moet veral voorkom word dat jongooie ses maande voor paring massa verloor, want dit kan tot 'n betekenisvolle verlaging in besetting en gevolglik lampersentasie lei. Die optimale uitgroei van vervangingsooie is noodsaaklik, want die massa wat 'n jongooi met tweetand bereik, bepaal haar uiteindelike grootte en produksie. Vir elke 1 kg wat sy swaarder is met eerste paring, styg haar lampersentasie met ongeveer 1.5 tot 2 %. Om 'n hoë lampersentasie te verseker, moet jongooie in 'n uitstekende kondisie (3.5 KP) met eerste paring wees, minstens 70 % (verkieslik 75 %) van volwasse massa met paring op 12 maande bereik of minstens 80 % (verkieslik 85 — 90 %) indien op 18 maande gepaar word. Daarbenewens word die hoogste lampersentasie verkry indien die voedingspeil van jongooie alreeds vanaf twee maande voor paring verhoog word deur hulle in spaarkampe met 'n produksielek (bv. Maxiblokke, Superlamkorrels of Maxiwollekmengsel) te plaas.

3. Prikkelvoeding van teelooie
Ooie wat met paring in massa toeneem, is meer geneig om tweelinge te produseer as dié wat massa handhaaf of verloor. Besetting en tweelinggeboortes neem af indien die ooie kort voor die prikkelperiode massa verloor. Om 'n hoë lampersentasie te verseker, moet ooie in 'n uitstekende kondisie (3.5 Kondisiepunt) met paring wees en vir elke kg wat hulle swaarder is met paring, styg die lampersentasie met ongeveer 1.5 %. Om ooie in 'n stygende massa te kry, moet hulle vanaf ongeveer drie weke voor paring vir minstens ses weke in spaarkampe geplaas word en/of produksielekke (bv. Voermol Maxiwollekke, Maxiblok, Energieblok, sjokoladegrane of Super 18) teen 250 tot 400 g/ooi/dag gevoer word. Dit is hoogs aan te beveel om ooie vier tot ses weke voor paring Multimin plus Vitamien A en E te spuit asook die nodige doserings en entings toe te dien. Vanaf vier weke voor paring moet ooie rustig gehou word en geen stresvolle aktiwiteite moet in hierdie periode uitgevoer word nie. Waar ooie twee tot vier weke voor paring geskeer en gedip is, was die besetting 89 % as gevolg van hierdie stresvolle aktiwiteite teenoor 96 % waar hierdie aktiwiteite langer as vier weke voor paring geskied het. Waar ooie kort voor paring oor 'n lang afstand aangejaag is, het die stres as gevolg daarvan hulle ovulasietempo met tot 60 % vertraag.

4. Voeding gedurende vroeë dragtigheid
Enige faktore wat spanning kan veroorsaak, moet gedurende die eerste maand van dragtigheid vermy word, want dit kan embriomortaliteite tot gevolg hê. Waar ooie gedurende paring gehanteer is deur hulle elke vierde dag kraal toe te bring om gedekte ooie te identifiseer, was hulle lampersentasie 65 % teenoor die 98 % van die ooie wat nie gehanteer is nie. Om embriomortaliteite en afsterwing van die fetus te voorkom, moet waar moontlik, geen stresvolle aktiwiteite (bv. dosering, ent, skeer, dip, ensovoorts) vir die eerste maand nadat die ramme uitgehaal is, uitgevoer word nie. Die verskil tussen die aantal lammers geskandeer en die wat werklik gebore word, is 'n aanduiding van die embrionale en fetale verliese (fetusse wat afsterf) en kan so hoog as 23 % wees. Gedurende die eerste maand van dragtigheid moet die paringskondisie van die ooie gehandhaaf word en enige massaverliese moet voorkom word. Indien nodig, kan 'n lek voorsien word, meestal dieselfde as wat vir prikkelvoeding gebruik word. Vermy die paring van ooie op klawer- en lusernweiding wat aan 'n vogstremming ly, deur insekte beskadig of met virusse of swamme besmet is omdat hierdie plante onder hierdie omstandighede hormone produseer wat die lampersentasie nadelig kan beïnvloed.

5. Voeding gedurende middragtigheid
Gedurende middragtigheid (Maand twee en drie van dragtigheid) is die optimale groei van die plasenta (nageboorte) van kritieke belang. 'n Klein nageboorte gee aanleiding tot 'n toename in lamvrektes weens te klein lammers (minder as 3.5 kg) met geboorte, swak lewens-vatbaarheid en swak moedereienskappe asook 'n lae melkproduksie (tot 25 % afname in melkproduksie) weens swak uierontwikkeling. Indien ooie in 'n uitstekende kondisie (3.5 Kondisiepunt) met paring was, is dit toelaatbaar dat hulle in middragtigheid kondisie verloor (nie meer as 0.5 Kondisiepunt nie) op voorwaarde dat hulle hulle massa oor hierdie periode handhaaf. Jongooie daarenteen groei nog en moet minstens 5 % (ouer as 18 maande) tot 7.5 % (jonger as 18 maande) in massa toeneem. Jongooie behoort dus as 'n aparte trop op voorkeurweiding bestuur te word. Indien die beskikbare weiding nie in die middragtige ooie se voedingsbehoeftes voorsien nie, moet 'n lek verskaf word. Die tipe lek hang van die tipe weiding asook die gehalte en hoeveelheid daarvan af. 'n Keuse van die volgende lekke is as aanvulling op droë weiding beskikbaar: Voermol Ekonolek; Proteïenblok; Energieblok; Produksielek; Supermol of Super 18. Alle droë ooie insluitend jongooie wat vir die eerste keer gepaar is, moet met skandering, 42 dae na paring, uitgeskot word.

6. Voeding gedurende laatdragtigheid
Laatdragtige ooie moet vanaf vier tot ses weke, in sommige geval selfs vanaf agt weke, voor lam voldoende deurvloeiproteïen inneem om uierontwikkeling te stimuleer, bies- en melk-produksie te verhoog, moedereienskappe en lewenskragtigheid van lammers te verbeter asook geboorteprobleme (geel lammers met geboorte) en abnormale dik taai bies te beperk wat almal meehelp om lamvrektes te beperk en/of lamgroei te verhoog. Die aanvulling van deurvloeiproteïen op swak kwaliteit droë weiding het die massa lam gespeen per ooi gepaar met tot 5.1 kg verhoog asook die daaropvolgende lampersentasie met tot 28 %. Ooie mag maksimum 0.5 Kondisiepunt (KP) gedurende laatdragtigheid verloor solank hulle kondisie met lam nie swakker as 2.5 KP is nie. Die beste resultate word egter verkry indien hulle kondisie met lam 3.0 tot 3.5 KP is. Volwasse ooie moet minstens 15 % (d.i. 7.5 kg vir 'n 50 kg ooi) en jongooie 10 % in massa gedurende die laaste twee maande van dragtigheid toeneem om 'n gewenste geboortemassa (3.5 — 5.5 kg) vir hoë lamoorlewing te verseker. Die voorsiening van 'n hoë deurvloeiproteïenlek (300 — 500 g/ooi/dag) soos 'n Maxiwollek-mengsel (250 kg Voermol Maxiwol + 200 kg gemaalde mielies of heel kleingrane + 50 kg sout); Maxiwol Produksiekorrels; Maxiwol Readymix of Maxiblok) vier tot ses weke voor lam word hoogs aanbeveel. Ooie wat gedurende laatdragtigheid ondervoed is se piek en volhoubaarheid van melkproduksie is laer as goed gevoerde ooie. Ooie moet ook vier tot ses weke voor lam met Multimin plus Vitamien A en E ingespuit word asook die nodige doserings en entings ontvang. Indien weiding skaars is of ooie in lamhokke laat lam word, moet 'n volledige rantsoen [375 kg gemaalde lusern (20 — 25 mm lengtes) + 350 kg gemaalde mielies + 150 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 50 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel)] gevoer word. Aangesien hierdie rantsoen ureum bevat, moet die maksimum inname tot 2.5 kg/ooi/dag beperk word om ureumvergiftiging te voorkom. Indien hoër peile gevoer moet word, skakel dr. Jasper Coetzee vir 'n alternatiewe rantsoen. Ooie moet stadig en geleidelik op hierdie volledige rantsoen aangepas word om suurpens te voorkom.

7. Voeding gedurende laktasie
Die voedingspeil gedurende die eerste twee maande na lam moet sodanig wees dat ooie nie meer as 10 % van hulle massa verloor nie. Proewe toon dat waar die ooie meer massa verloor het, hulle daaropvolgende lampersentasie tot 25 en in een geval tot 51 persentasie-eenhede laer was. Dit is toelaatbaar dat ooie in vroeë laktasie kondisie verloor solank die kondisiepunt nie laer as 2.0, maar verkieslik nie laer as 2.5 daal nie. Jongooie wat vir die eerste keer lam, moenie meer as 3 % en volwasse ooie nie meer as 7 % in massa gedurende die eerste twee maande van laktasie verloor nie. Om 'n hoë speenmassa te verseker asook 'n hoë lampersentasie met die daaropvolgende lamseisoen, is dit hoogs aan te beveel dat dieselfde deurvloeiproteïengebaseerde lekke wat gedurende laatdragtigheid gevoer word, ook gedurende vroeë laktasie verskaf word. Die ideaal is dat ooie na lam na groen aangeplante weiding geskuif word. 'n Beperking van voerinname kan melkproduksie met tot 50 % verlaag. Die groei van tweelinglammers word nadelig beïnvloed indien die ooie vir langer as 10 dae 'n voedingsbeperking ervaar. Melkproduksie van ooie word nadelig beïnvloed deur 'n voedingsbeperking van vier weke en geen styging in melkproduksie vind plaas nie al word ad lib-voeding na hierdie periode voorsien. Indien ooie nie skandeer word nie, moet die soog- en droogtegniek gebruik word om droë ooie asook ooie wat gelam het, maar met stertsny geen lam soog nie, te identifiseer. Al hierdie ooie, insluitend jongooie wat die eerste keer gepaar is, moet uitgeskot word. Hierdie ooie moet verkoop word en die geld kan gebruik word om dragtige ooie in te koop.

8. Kruipvoeding van sogende lammers
'n Ooilam wie se moeder goeie voeding vanaf vier weke voor lam asook die ooilam self tot op 14 weke ouderdom, maar verkieslik tot geslagsrypheid ontvang het, sal maksimum ontwikkeling van die toekomstige reproduksiepotensiaal van die ooilam verseker. Spiersel-vermeerdering by lammers vind tot op drie maande ouderdom en spiergroei tot op ongeveer nege maande ouderdom plaas. Die maksimering van beide verhoog die karkaswaarde van slaglammers en die uiteindelike volwasse grootte van jongramme asook -ooie, wat in laasgenoemde geval verhoogde lewensproduksie en -reproduksie tot gevolg het. Speenmassa van lammers op 100 dae ouderdom behoort ongeveer 45 % van hulle volwasse massa te wees en minstens 50 % voordat hulle die droë seisoen ingaan. 'n Kruipvoermengsel (150 kg Voermol SS 200 + 150 kg Voermol Procon 33 + 80 kg Voermol Melassemeel + 625 kg gemaalde mielies of heel kleingrane) behoort ad lib. vanaf twee weke ouderdom tot ongeveer twee weke na speen voorsien te word indien die groei van speenlammers onvoldoende (minder as 200 g/dag) is of waar maksimum groei verlang word vir 'n vroeër speen- of bemarkingsouderdom. Lammers wat kruipvoeding ontvang en vir die slagmark bestem is, moet sodra hulle meer as 200 g/dag groei, met 'n geskikte oorinplantaat (bv. Ralgro®) geïnplanteer word omdat dit groei en voeromsetting verbeter. Indien lammers geen kruip-voeding ontvang nie, maar die kudde 'n geskiedenis van swak lamgroei na speen het, moet die lammers ses keer (m.a.w. elke tweede dag) gedurende die laaste 14 dae voor speen ongeveer 100 g Voermol Maxiwolkorrels of sjokoladegraan per lam per dag op die grond gevoer word. Daar moet voldoende vreetspasie wees sodat al die ooie en lammers gelyktydig kan vreet. Hierdie prosedure sal lammers leer om byvoeding te vreet, want lammers leer vreet deur nabootsing van hulle moeders. Dit is hoogs aan te beveel om met hierdie byvoeding voort te gaan tot ongeveer 14 dae na speen om die lammers oor die speenskok te help of verkieslik totdat hulle minstens 28 tot 30 kg weeg.

9. Voeding van droë ooie
Na speen moet droë ooie voldoende geleentheid gebied word om hulle massa wat hulle sedert die vorige paring verloor het, te herwin. Afhangend van die kondisie van die ooie met speentyd blyk dit dat die beste resultate in terme van lampersentasie verkry word as lammers minstens drie maande voor die volgende paring gespeen word. Proewe in dié verband toon dat dit die besetting van ooie bevoordeel (98 % vs. 90 % en 94 % vs. 79 %). Daar moet gepoog word om droë ooie met die aanvang van die prikkelperiode in 'n goeie kondisie (minstens 3.0 KP) te hê. Indien die gehalte en hoeveelheid van die beskikbare weiding van so 'n aard is dat hierdie mikpunt (d.i. 3.0 KP) nie haalbaar is nie, moet 'n lek verskaf word. Die tipe lek hang van die tipe weiding asook die gehalte en hoeveelheid daarvan af. 'n Keuse van die volgende lekke is as aanvulling op droë weiding beskikbaar: Voermol Ekonolek; Proteïenblok; Energieblok; Produksielek; Supermol of Super 18.

10. Afronding van speenlammers op groenweiding
Speenlammers wat vir die slagmark bestem is, kan met die gebruik van 'n spesiale lek asook deur die volg van sekere bestuursriglyne meestal heelwat meer winsgewend op groenweiding as in 'n voerkraal afgerond word. Afgesien daarvan dat die lammers in hierdie stelsel dieselfde groeitempo as in 'n voerkraal kan handhaaf, kan hulle tot 30 dae en sommige gevalle tot 60 dae gouer as dié wat geen byvoeding op die weiding ontvang het nie, afgerond word. Dit het tot gevolg dat meer diere op die weiding afgerond kan word of dat meer weiding vir die res van die kudde beskikbaar is. Voorvereistes vir suksesvolle afronding is goed uitgegroeide (28 — 32 kg) en gesonde lammers wat met Ralgro® geïnplanteer is en die voorsiening van 'n Superlamkorrels op 'n digte stand, volop aktief-groeiende, goeie kwaliteit, groen blaarryke en smaaklike, natuurlike of aangeplante weiding. Voermol Superlamkorrels moet daagliks in bakke teen 300 tot 500 g/lam/dag gevoer word. Daar moet voldoende vreetspasie wees sodat alle lammers gelyktydig kan vreet. Die nodige doserings en entings (veral bloednier) moet gedoen word voordat afronding 'n aanvang neem.

11. Afronding van speenlammers in 'n voerkraal
Diversifisering word algemeen aanvaar as 'n strategie om die risiko in landbou te beperk. In hierdie verband behoort voerkraalafronding 'n integrale deel van 'n skaapboerdery uit te maak om die risiko te verlaag. Om maksimum wins in 'n voerkraal te realiseer, is dit van kritieke belang om die voerkoste per kg massatoename te verlaag hoofsaaklik deur verbetering van die voeromsetting (kg voer ingeneem/kg massatoename). Dit kan egter nie geskied deur die voerkraalrantsoen goedkoper te maak deur goedkoper grondstowwe (bv. laegraadse ruvoer, newe- en/of afvalprodukte) met 'n lae energiedigtheid en voedingswaarde te gebruik nie omdat dit tot 'n drastiese verlaging van voeromsetting sal lei. Daarenteen, hoe duurder hoë kwaliteit grondstowwe word, hoe belangriker en kritieker raak die gebruik van groeibevorderaars soos voerbymiddels en groeistimulante om die voeromsetting te verbeter en dus wins te maksimeer. Voorvereistes vir maksimum winsgenerering is goed uitgegroeide (28 — 32 kg) en gesonde lammers, suksesvolle aanpassing asook doeltreffende prosessering, uitstekende voerkraal-bestuur en -fasiliteite. Daarbenewens is die voorsiening (drie maal per dag) van 'n hoë kwaliteit gebalanseerde, hoogs smaaklike, energieryke rantsoen met die nodige buffers, ammoniumsoute, groeistimulante, deurvloeiproteïen, 'n reeks minerale en vitamines aan voerkraallammers ewe kritiek. 'n Voorbeeld van so 'n voerkraalrantsoen is: 200 kg Voermol SS 200 + 50 kg Voermol Procon 33 + 80 kg Voermol Melassemeel + 525 kg gemaalde mielies of heel gars + 150 kg gemaalde lusern (20 — 25 mm lengtes). Addisionele aktiwiteite wat uitgevoer moet word, is inplantering met Ralgro®; toediening van die nodige doserings en entings (veral bloednier); inspuiting van Multimin, Vitamien A en E asook skeiding van lammers in homogene groepe.

12. Afronding van speenlammers op oesreste of weimielies
Die inname van groot hoeveelhede grane verlaag die verteerbaarheid en inname van droë oesreste (bv. mielieblare en graanstoppels) en kan ook blaasstene, suurpens, swak diere-prestasies en selfs vrektes tot gevolg hê. Grane het verder 'n tekort aan proteïen, veral deurvloeiproteïen, asook kalsium, magnesium, sink en koper wat diereprestasie beperk. Weimielies asook kleingraan- en mielie-oesreste met baie graanpitte is veral geskik vir die afronding van speenlammers en -kalwers, maar is ook 'n waardevolle voedingsbron vir lakterende ooie en koeie asook vervangingsdiere. Om vrektes as gevolg van suurpens te beperk en terselfdertyd diereprestasie koste-doeltreffend te bevorder, moet Voermol Landelek aan skape (150 — 200 g/lam/dag) en beeste (800 — 1 200 g/bees/dag) op weimielies of oesreste met baie graanpitte voorsien word. Dit is hoogs aan te beveel om diere eers vir ongeveer 14 dae voordat hulle na weimielies of oesreste met baie graanpitte geskuif word, geleidelik op die grane en Landelek aan te pas (sien Voermol Produkhandleiding vir korrekte aanpassings-prosedures). Diere wat vir die slagmark bestem is, moet met 'n geskikte oorinplantaat geïnplanteer word wanneer afronding 'n aanvang neem.

13. Grootmaak van teelramme
Teelramme moet grootgemaak word onder toestande wat vergelykbaar is met dié waaronder hulle nageslag moet produseer en reproduseer. Die meeste kommersiële skaapprodusente verkies geharde en aangepaste ramme en gevolglik moet jongramme op die veld met geen of minimale byvoeding grootgemaak word. Indien die veld nie 'n groei van minstens 90 g/dag van speen tot prestasietoetsing op 12 tot 15 maande kan onderhou nie, moet 'n lae vlak (250 — 500 g/ram/dag) van die ramprikkellek as byvoeding voorsien word. Na prestasietoetsing kan die ramme op die veld met die ramprikkellek (500 — 1 000 g/ram/dag) of met 'n volvoer (200 kg Voermol SS 200 + 50 kg Voermol Procon 33 + 80 kg Voermol Melassemeel + 350 kg gemaalde mielies of heel kleingraan + 200 kg gemaalde lusern + 100 kg gemaalde strooi of mielieblare) vir die veilings afgerond word. Die seleksie van teelramme moet baie akkuraat wees omdat die ram tot 75 % van die genetiese verbetering van die kudde bydra. Teelramme behoort op grond van hulle BLUP-teelwaardes geselekteer te word, want dit is die akkuraatste manier. Indien BLUP-teelwaardes nie bekend is nie, moet teelramme op grond van raseienskappe geselekteer word, maar daar moet veral gefokus word op die ekonomies belangrike groei- en vageienskappe. Om die kudde se reproduksietempo te verhoog, moet voorkeur gegee word aan ramme wat gebore is uit moeders wat meer lammers gespeen het as kere wat hulle lamkanse gehad het; meerlinggebore ramme en ramme met ferm en elastiese testes met 'n omtrek van meer as 35 cm op 15 maande (d.i. vir ramme in 'n goeie kondisie) asook ramme met 'n baie hoë geslagsdrang. Ramme met 'n hoë geslagsdrang het meestal 'n baie wakker en lewenskragtige houding; helder en lewendige oë; 'n aggressiewe geaardheid en pers lieste.

14. Samevatting
Doeltreffende byvoedingspraktyke vorm 'n integrale deel van doeltreffende bestuur- en telingpraktyke. Hier praktyke moet nie in isolasie van mekaar beskou word nie, maar wel as 'n eenheid, want gesamentlik vorm hulle die basis van 'n winsgewende skaapboerdery. Die strategiese aanvulling van die regte voedingstowwe, veral deurvloeiproteïen asook energie, spoorelemente en vitamines, in die regte hoeveelheid en kombinasies aan weidende diere is van kritieke belang om maksimum en koste-doeltreffende respons te verseker. Terselfdertyd moet 'n baie hoë bestuursvlak gehandhaaf word terwyl bestuurspraktyke voortdurend aangepas moet word. In hierdie verband is dit absoluut noodsaaklik dat 'n doeltreffende en wetenskaplik gefundeerde bestuurs- en gesondheidsbeheerprogram nougeset gevolg moet en aangepas word soos nuwe inligting beskikbaar raak. Om 'n hoogs produktiewe skaapkudde te verseker, moet geneties meerderwaardige teeldiere (ideaal om slegs beproefde superieure teelramme te gebruik wat geneties beter is as jou kudde) geselekteer word terwyl onproduktiewe diere (d.i. die wat nie lam nie of nie 'n lam speen nie) summier en voortdurend uitgeskot moet word.

Om maksimum wins te genereer, moet die produsent sy prioriteite reg kry en fokus op daardie aspekte (bv. reproduksietempo) wat die meeste wins genereer. Om 'n hoë prys en 'n pryspremie vir sy bemarkbare produk te verdien, word die produsent gedwing om 'n gehalte produk en dit wat die mark en die verbruiker vra, te produseer en kan hy nie meer enige hoeveelheid van enige gehalte en wanneer hy wil, produseer nie. Produsente word sterk aangeraai om suksesvolle produsente te besoek en van hulle te leer wat hulle doen om hoogs suksesvol te wees. Hierdie produsente het altyd nuwe idees en beter maniere om dinge te doen. Verder word produsente aangeraai om die nuutste tegnologie te gebruik, want volgens dr. Johan Willemse (2001) gaan 'n produsent baie moeilik sy inkomste teenoor uitgawe verhoog sonder om nuwe tegnologie en bestuursmetodes te gebruik. In hierdie verband is Australiese konsultante dit eens dat die gewilligheid van 'n produsent om nuwe tegnologie en bestuurspraktyke in sy kudde te gebruik, grootliks sy winsgewendheid bepaal. Produsente word versoek om die beste kundiges in die verband te konsulteer om op hoogte te kom van die nuutste tegnologie asook die mees winsgewende produksiestelsel(s) vir sy spesifieke omstandighede.

  • Geskryf deur dr. Jasper Coetzee, Voermol Voere (Tel.no.: 021 - 8879559; 0833 86 83 82; jasperco@iafrica.com)

    16 April 2007