Sonder oesreste of verdroogde plantmateriaal sou dit haas onmoontlik wees om vee in die somersaaigebiede te oorwinter. Verskillende benuttingsmetodes van die plantmateriaal het koste-implikasies en daarom moet deeglik besin word voor mielies net summier afgesny word. Met 'n mielieprys wat so hoog as R2 500/ton kan styg (Janovsky, 2007), is produsente dringend op soek na ekonomiese alternatiewe energiebronne.
Die omvang van die 2006/2007 droogte in die somersaaigebiede is van so 'n aard dat daar feitlik geen gebied is wat nie deur die droogte geraak is nie. Hoewel die graanvorming en gevolglik die graanproduksie geweldig deur die droogte benadeel is, het daar 'n redelike hoeveelheid vegetatiewe groei plaasgevind. Ten spyte van die droogte is daar dus 'n redelike hoeveelheid plantmateriaal waarop diere kan oorwinter. Hierdie plantmateriaal kan op verskillende maniere benut word. Voordat dit geskied, moet die koste-implikasie van elke metode eers oorweeg word. Optimale benutting van verdroogde graangewasse is slegs moontlik indien die ontbrekende voedingstowwe aangevul word om 'n gebalanseerde rantsoen vir die diere te verseker.
Direkte beweiding van verdroogde graangewasse
Die goedkoopste manier om hierdie weiding (bv. mielies, graansorghum en sonneblom) te benut, is om die gewas net so op die land te laat en te bewei. Skape benut die graan baie goed en daar is feitlik geen vermorsing nie. Die grootste risiko is dat skape hulle aan die graan kan oorvreet en groot verliese kan as gevolg van suurpens voorkom. Skape moet geleidelik oor ten minste 14 dae op die graan aangepas word voordat hulle op die lande gaan en terselfdertyd moet Voermol Landelek (V15414) voorsien word. Landelek bevat medikamente en buffers om suurpens te beperk. Op Dag 1 en 2 van die 14 dae-aanpassings-periode word mielies daagliks teen 200 g/skaap gegee en daarna word dit elke tweede dag met 100 g/skaap verhoog. Vars Landelek moet te alle tye beskikbaar wees in lekbakke wat naby die waterkrippe geplaas is om 'n daaglikse inname van ten minste 200 g vir 'n 45 kg skaap te verseker.
Peulplantgewasse (bv. sojabone en ander bone) wat verdroog het, kan baie goed deur skape benut word. Skape moet geleidelik oor ten minste 14 dae op hierdie peulplantgewasse aangepas word om spysverteringsteurnisse te voorkom. 'n Breuk in die wol by wolproduserende rasse kom algemeen voor indien die aanpassing nie geleidelik geskied nie. Die regte aanvulling op bonegewasse en -reste is Voermol Molovite (V7266) wat daagliks teen ongeveer 200 g/50 kg skaap gevoer word.
Beeste benut verdroogde plantmateriaal op die land baie goed, maar as daar 'n redelike hoeveelheid (meer as 0.5 t/ha) graan is, vind vermorsing plaas. Pitte wat op die grond val, gaan verlore en beter benutting is moontlik waar beeste in kombinasie met skape wei.
Inkuiling van droogtebeskadigde gewasse
Alvorens kuilvoer gemaak word, moet daar baie deeglik oor die kostes en aanwending van kuilvoer besin word. Om mielies met 'n enkelrykerwer te sny en uit te ry, kos tans (Maart 2007) ongeveer R340/ha. Die ideale vogpersentasie om kuilvoer te sny, is tussen 65 % en
70 %. Die plantmateriaal moet fyn (10 - 20 mm) gekerf en baie goed gekompakteer word om goeie fermentasie te kry. Die suikers in verdroogde mielies is gewoonlik hoog genoeg vir normale fermentasie, maar indien dit nie die geval is nie kan Voermol Melassemeel (V1995) ook as 'n energiebron (40 - 80 kg melassemeel/ton nat kuilvoer) gebruik word om kuilvoer beter te preserveer.
'n Melkkoei is die dier wat kuilvoer die doeltreffendste in geld omsit. Rantsoene met die maksimum insluiting van kuilvoer is op aanvraag beskikbaar. Verdroogde mieliekuilvoer kan met welslae in voerkraalrantsoene vir vleisbeeste gebruik word asook vir beperkte byvoeding om vleisbeeste mee te oorwinter. Die energiewaarde van mieliekuilvoer, en veral droogtekuilvoer, is te laag om beeste mee af te rond en daarom moet ekstra energie in die vorm van mielies of chop by 'n voerkraalrantsoen gevoeg word.
Skape kan ook kuilvoer benut, maar dit is onvoldoende as enigste voer vir produserende diere. Vir laatdragtige en lakterende ooie kan die volgende volledige rantsoen ad lib. gevoer word: 275 kg nat mieliekuilvoer + 225 kg gemaalde (25 mm) lusern + 325 gemaalde mielies + 125 kg Voermol Maxiwol (V4985) + 50 kg Voermol Procon (V12701). Gemufde kuilvoer moenie aan skape, veral dragtige ooie, gevoer word nie omdat hulle kan aborteer.
Ander benuttingsmetodes
Stoekmielies is nog 'n opsie, maar hoë arbeid- en maalkoste veroorsaak dat dit min in die praktyk gedoen word. Sny, hark en baal van verdroogde graangewasse is ander opsie, maar weens die hoë kostes is dit sekerlik die laaste benuttingsmetode om te oorweeg. 'n Riglynkoste vir sny, hark en baal met 'n rondebaler is ongeveer R490/ha. Die kwaliteit van gebaalde mieliereste is hoogstens voldoende vir onderhoud. Om beter benutting te kry, moet dit gemaal en met Voermol LS 33 (V2678) behandel word. LS 33 moet vooraf met gelyke dele water gemeng word. Een liter van hierdie mengsel word dan deeglik met 10 kg ruvoer gemeng. LS 33 verhoog die smaaklikheid en kwaliteit van enige swak gehalte ruvoer.
Alternatiewe vir duur mielies
As gevolg van die huidige hoë mielieprys, wat ook die prys van alle ander grane en graan-neweprodukte drasties verhoog het, is melasse-energie in die vorm van Voermol Melasse-meel 'n baie ekonomiese alternatief.
Volgens Wayne Perry is dit 'n erkende "duimreël" in die VSA dat mieliemeel in voerkraal-rantsoene vir beeste kilogram vir kilogram met melasse vervang kan word tot 'n maksimum daaglikse inname van 2 kg vir 300+ kg beeste en 2.5 kg vir 400+ kg beeste sonder enige effek op die groeitempo of voeromsettingsverhouding. Voermol Melassemeel kan dus tot 16 % in voerkraalrantsoene vir vleisbeeste ingesluit word om hominy chop, mieliemeel of ander grane te verplaas.
In melkbeesrantsoene word op grond van die navorsing van Lofgreen en andere aanvaar dat melasse teen 'n insluiting van 8 % in die totale rantsoen (100 % DM-basis) in die plek van mieliemeel en ander grane dieselfde produksieresultate tot gevolg sal hê. Voermol Melassemeel kan dus tot 8 % in volvoere en 12 tot 16 % in suiwelmele ingesluit word om mieliemeel of ander grane te verplaas.
Voermol Melassemeel kan tot 50 % van die grane in produksielekke en tot 100 % in onderhoudslekke vervang. In die geval van Voermol SS 200- of vloeivoergebaseerde skaap-afrondingsrantsoene kan 8 tot 12 % Voermol Melassemeel ingesluit word om grane te vervang. Teen hierdie insluitingspeile behoort dieselfde resultate as met slegs grane verkry te word.
Waar mielies gebruik word vir die meng van produksielekke kan dit geheel en al met kleingrane vervang word. Indien kleingrane nie beskikbaar is nie, is die heel beste en mees ekonomiese alternatief om een van Voermol se klaargemengde produksielekke [bv. Super 18 (V355); Produksielek (V10108) of Maxiwol Readymix (V7815)], produksieblokke [bv. Energieblok (V11456); Maxiblok (V17424) of Wildsblok (V13408)] of korrels [bv. Droogtekorrels (V5554); Maxiwol Produksiekorrels (V15415); Superlamkorrels (V17425) of Wildkorrel (V14942)] te gebruik.
Vir die volledige artikel, raadpleeg u naaste Voermol Agent of Voermol se hoofkantoor (032 - 4395599) of stuur 'n e-pos aan info@voermol.co.za.
11 Mei 2007