Landbou
Maak meer van droë weiding
Dr. JASPER COETZEE

Die voorsiening van 'n proteïenlek aan beeste op droë weiding is noodsaaklik omdat die voedingswaarde daarvan te laag is om normale produksie en reproduksie te onderhou. Voermol-proteïenlekke, -blokke en -konsentraatlekmengsels bevorder die vertering en inname van droë weiding, oesreste en ruvoer omdat dit voldoende vlakke van proteïen, aminosure, energie, minerale en spoorelemente verskaf wat die mikro-organismes in die grootpens van beeste stimuleer om ruvesel doeltreffender te verteer.

Vleisbeeste wat droë weiding (bv. natuurlike wintergrasveld en oesreste in die somerreënvalgebied asook droë graanstoppellande in die somer in die winterreënvalgebied) bewei, is meestal nie in staat om hulle kondisie en massa op hierdie lae gehalte weiding te handhaaf nie. Dit het lae speenpersentasies en -massas asook swak uitgroei van jongdiere tot gevolg. Die rede is omdat die daaglikse inname van die droë weiding te laag is asook dat die voedingstofinhoud daarvan te laag is om in die onderhoudsbehoefte van die diere te voorsien. Diere met 'n hoë voedingsbehoefte (bv. dragtige, lakterende en jong groeiende diere) word in hierdie geval die ergste benadeel. Die lae inname kan hoofsaaklik aan die onsmaaklikheid asook die lae verteerbaarheid en proteïeninhoud van die droë weiding toegeskryf word. Die aanvulling van ureum via 'n geskikte proteïenlek, kan die inname van droë weiding met tot 20 % verhoog.

Proteïenlekke omskep droë weiding in "hooi"
Wanneer droë weiding 'n proteïeninhoud van minder as 6 % en 'n verteerbaarheid van minder as 45 tot 50 % het, is dit nie meer in staat om in diere se onderhoudsbehoefte te voorsien nie en begin hulle kondisie en massa verloor. Droë wintergras en graanstoppels se proteïeninhoud kan so laag as 3.5 % met 'n verteerbaarheid van so laag as 35 tot 45 % wees. 'n Bydraende probleem tot die swak diereprestasie op droë weiding is dat die potensiële energie daarin nie ontsluit kan word nie weens die gedeeltelike lignifikasie (verhouting) daarvan en tweedens deur 'n onaktiewe mikroörganisme-populasie in die grootpens as gevolg van tekort aan hoofsaaklik proteïen, minerale en maklik-beskikbare energie.

Droë weiding se verteerbaarheid kan slegs verhoog word indien rumenmikroörganismes (RMO) gestimuleer word om dit maksimaal te verteer. Om dit reg te kry, moet 'n gunstige rumenomgewing vir die RMO geskep word, m.a.w. alle voedingstoftekorte (bv. proteïen, minerale, spoorelemente en Vitamien A) moet aangevul word. Proteïen vir die RMO word in die vorm van ureum aangevul, maar dit kan nie doeltreffend benut word sonder 'n bron van vinnig-beskikbare energie nie. Eweneens sal 'n tekort aan swawel die doeltreffende benutting van ureum benadeel. Navorsing toon ook dat waar mielies as energiebron in onderhoudslekke gebruik word, diere swakker presteer as waar 'n vinnig- en maklik-beskikbare energiebron (bv. melassemeel of -stroop) gebruik word.

Minerale wat veral belangrik is om maksimum vertering van vesel deur die RMO te verseker, is kobalt, fosfor, swawel en magnesium. Voermol se proteïenlekke bevat melassestroop as 'n vinnig-beskikbare energiebron asook voldoende swawel en ander noodsaaklike minerale terwyl dit ook 'n baie hoë vlak van spoorelemente in die regte verhouding asook Vitamien A voorsien. Hierdie lekke is ook hoog in kalium wat as 'n ekstra bonus beskou kan word omdat navorsing 'n positiewe massaverandering getoon het met die insluiting van kalium in ureumbevattende lekke wat op droë weiding gevoer is. Aangesien kalium matige laksering veroorsaak, voorkom dit droë galsiekte wat dikwels op droë weiding voorkom.

Lekke vir vleisbeeste op droë weiding
Die aangewese tyd om proteïenlekke op droë gras in die somerreënvalgebied te voorsien, is na die eerste swaar ryp in die winter óf wanneer die meeste grane op die afgeoeste graanlande opgevreet is. Bekker (1996) is van mening dat proteïenlekaanvulling 'n aanvang moet neem wanneer massastilstand intree. Die standaard aanbeveling is om onderskeidelik 150 en 180 g proteïen/bees/dag op soetgras- en suurgrasveld te voer. Bekker (1994) se studies toon egter dat dit soms nodig is om 200 g proteïen op soeter veld en 250 g proteïen/bees/dag op suurveld en oesreste vir onderhoud te voorsien.

Om 'n hoë besettingsyfer te verseker, moet die doelwit wees dat koeie in die somerreënvalgebied gedurende die droë wintermaande verkieslik nie meer as 10 % van hulle herfsmassa verloor nie. Voermol Voere bemark 'n reeks proteïenlekke, -lekkonsentrate en -blokke vir vleisbeeste wat as aanvulling op droë weiding en oesreste gebruik kan word en wat deurgaans 'n uitstekende respons gee indien hulle korrek aangewend word. Produsente word aangeraai om dié lekke te kies wat hulle spesifieke omstandighede die beste pas. Voermol Premix 450 (V4676) word aanbeveel vir baie strawwe winters; Suurveldlek (V10265) vir laer innames, byvoorbeeld waar tradisionele winterlekke se innames te hoog is; Hoëveldlek (V16150) vir hoër fosforaanvulling en Dundee Lekkonsentraat met of sonder ekstra fosfor (V10737) vir selfmeng asook Proteïenblok (V10448) en Beesblok (V10932) waar lekbakke nie beskikbaar is nie. Waar beeste en droë skape saam wei, kan Bees/skaaplek (V16975), Rumevite Ekonolek (V11147) of Proteïenblok (V10448) gevoer word. Vir meer besonderhede oor leksamestelling, lekmengsels, gebruiksaanwysings en aanbevole innamepeile moet Voermol se nuutste Produkhandleiding geraadpleeg word.

Afgesien van herhaalde waarskuwings dat produsente nie hoendermis as 'n proteïenaanvulling op droë weiding moet gebruik nie, word die praktyk nog steeds toegepas. Een van Voemol se kliënte het verlede jaar 'n proef in die verband gedoen. Die kudde wat met 'n Voermol Dundeelekmengsel op droë gras oorwinter is, het 'n kalfpersentasie van 91 % gehad terwyl die kudde wat mieliereste bewei en hoendermis ontvang het 'n kalfpersentasie van 74 % gehad het. Die kudde wat slegs op droë gras en hoendermis oorwinter is, het 'n kalfpersentasie van slegs 65 % gehad.

Samevatting
Sonder voldoende proteïenaanvulling via lekke op droë weiding bereik teelkoeie nie hulle teikenkondisie met aanvang van die paarseisoen nie en het dit swak herbesetting en gevolglik laer kalfpersentasies tot gevolg. Verskeie navorsingsproewe toon dat die oorwintering van beeste op gespaarde grasveld in die somerreënvalgebied met 'n geskikte proteïenlek 'n baie goedkoper alternatief is as die gebruik van hooi en kuilvoer. Indien die gewenste respons met proteïenlekke nie verkry word nie, is die mees algemene oorsaak, behalwe 'n tekort aan droë weiding, 'n te lae totale proteïeninname weens 'n te lae lekinname of weens 'n oorskatting van die proteïen wat vanaf die weiding voorsien word. In hierdie geval moet proteïeninname vanaf die lek verhoog word. Maksimum vertering van droë weiding kan verseker word deur te voorkom dat diere langer as 12 tot 24 uur sonder lek is.

  • Geskryf deur Dr. Jasper Coetzee, Voermol Voere
    Vir meer tegniese inligting oor lekke vir skape en beeste raadpleeg u naaste Voermol-agent of Voermol se Hoofkantoor (032 - 4395599) of stuur 'n e-pos aan info@voermol.co.za.

    22 Mei 2007