Vraag:
Kan julle aan my asb 'n paar geheime gee oor die voer van bulle?
Antwoord:
My bulle se kondisie is swak, wat beveel jy aan?
Die geheim by die voer van bulle is om vroegtydig met die voer van kragvoer te begin. Sodoende kan die kragvoer oor 'n langer periode teen 'n laer vlak gevoer word. Die voer van te hoë vlakke kragvoer gee aanleiding tot suurpens, opblaas, laminitis, uitgroei van hoewe, ens. Die gebruik van Voermol SB 100 gemeng met graan is my aanbeveling vir die voer van bulle.
Hoe moet die Voermol SB 100 gevoer word?
Meng 200kg Voermol SB 100 met 80kg Voermol Melassemeel en 720kg graan (mieliemeel, Hominy Chop, graansorghum, ens.). Die Voermol SB 100 bevat die nodige proteïen, minerale, Vitamiene A en bymiddels vir die veilige voer van graan. Voer die mengsel teen 1% tot 1.5% van liggaamsmassa met vrye toegang tot hooi en/of weiding. Indien die voorskrif gevolg word, behoort geen probleme met die voer van bulle ondervind te word nie.
Kan ek dieselfde mengsel vir my jong bulle gebruik?
By die voer van jong, aktiefgroeiende bulle beveel ek aan dat 50kg van die graan met 50kg Voermol HPK 36 vervang word in bg mengsel. Sodoende verhoog die rantsoen se proteïeninhoud wat spiergroei bevorder.
Is dit waar dat die voer van ionofore, soos bv Monensin-Na, die vrugbaarheid van bulle nadelig beïnvloed?
Hierdie bewering word dikwels deur vooraansaande telers gemaak. Dit is egter glad nie waar nie. Daar is heelwat navorsing gedoen wat bewys dat die voer van ionofore (teenwoordig in Voermol SB 100) geen nadelige uitwerking op bulvrugbaarheid het nie. Ionofore is in groot molekules en word nie deur die dier geabsorbeer nie. Ionofore is aktief in die grootpens waar hulle die mikrobepopulsie verander en sodoende die dier beskerm teen suurpens en opblaas. 'n Ongebalanseerde rantsoen is eerder die oorsaak van lae vrugbaarheid.
Waarna moet ek oplet by die voer van my bulle?
Die belangrikste is dat die bulle nie te vet gevoer word nie. 'n Vet bul is dikwels lui, pas moeilik onder nuwe omstandighede aan en indien die bul te vet is kan dit sy vrugbaarheid benadeel. 'n Bul moet goed vertoon en moet dus 'n gebalanseerde rantsoen ontvang.
Gee vir my 'n voorbeeld van 'n goeie Fase D rantsoen?
'n Fase D rantsoen moet goed gebalanseer wees tov proteïen, energie, minerale en spoorminerale. Die rantsoen moet nie te "warm" (te hoog in energie) wees nie. In 'n Fase D-toets word die bulle in die toets met mekaar vergelyk en nie met bulle in 'n ander toets en op 'n ander rantsoen nie. Dit maak dus nie sin om vir 'n buitensporig hoë GDT te voer nie. Vir 'n goeie rantsoen, meng 150kg Voermol SB 100 met 450kg mieliemeel, 100kg heel katoensaad en 200kg grof gemaalde hooi. Dit gee 'n mengsel van 900kg wat ad lib gevoer behoort te word.
Wat van oliesade soos katoen- of sonneblomsaad?
Hierdie is ideale grondstowwe om in rantsoene vir bulle te gebruik. Hierdie sade is hoog in energie wat vanaf vet afkomstig is. Deur dus 10% tot 15% van die mieliemeel met 'n oliesaad te vervang bly die energie-inhoud van die voer onveranderd maar die styselvlak verlaag. Dit het die voordeel dat die risiko vir suurpens en vir die uitgroei van hoewe verlaag. Verder is oliesade hoog in proteïen wat verseker dat bulle behoorlik uitgroei en 'n beter voorkoms het met 'n blink en gladde haarkleed.
Ek het vir my 'n baie goeie bul op 'n veiling gekoop. Watter voerprogram moet ek volg om die beste diens uit die bul te kry?
Bulle wat op 'n veiling te koop aangebied word, is gewoonlik in 'n baie goeie kondisie. Indien so 'n bul direk op veldweiding in die trop teelkoeie geplaas word, sal hy baie vinnig gewig verloor en swak presteer. Met die aankoop van so 'n bul is dit dus belangrik dat hy stadig en stelselmatig aan sy nuwe omgewing gewoond gemaak word. Die volgende stappe dien as riglyn:
1. Voer presies dieselfde voer vir sowat 14 dae nadat die bul by sy nuwe tuiste aangekom het.
2. Verlaag die voer stelselmatig oor ongeveer 7 dae en gee vrye toegang tot weiding en/of hooi asook 'n goeie lek.
3. Sorg dat die bul voldoende oefening kry.
25 Mei 2007