Landbou
Byvoeding vir wintermaande
Deur Dr. JASPER COETZEE

Vraag:
Die toediening van oorgang- en winterlek vir my bykans 180 Bonsmaras beloop 'n aardige bedrag. Die "pre-mix" winterlek wat ek gee kos amper R100 per sak. En vir 'n kudde van 180 beeste teen 300 gram per bees per dag kos dit my ongeveer R150 000 vir 'n tydperk van vyf maande.

Is daar miskien alternatiewe voeding byvoorbeeld gemaalde lusern en kuilvoer (mieliereste) met melasse wat vir veldbeeste gegee kan word om hulle deur die winter te onderhou? My koeie sal swaar dragtig wees teen die einde van die winter en ek wil nie hul kondisie te veel verswak nie. - Etienne Bruwer (etienneb@nda.agric.za)

Antwoord:
Lekkoste moet só bereken word: 180 beeste X 0.3 kg X 150 dae = 8100 kg lek. Teen R2/kg is die totale lekkoste R16 200 en nie R150 000 nie.

Proewe wat op die Kokstad Proefplaas gedoen is, het bewys dat die goedkoopste wyse om koeie op veld te oorwinter deur middel van die die voorsiening van aanvanklik 'n winterlek (proteïenlek) opgevolg deur 'n produksielek in die laatwinter voor die eerste reë n. Vir doeltreffende benutting van winterveld moet die diere daagliks ureum inneem, met ander woorde die lek moet vrylik vir die diere beskikbaar wees.

'n Volledige jaarlikse lekprogram kos, afhangend van die omstandighede, R250 tot R300/koei wat steeds hoogs betalend is.

Sodra kuilvoer en lusern gevoer word, word veldinname verplaas wat onekonomies raak, want veld is die goedkoopste voer en moet optimaal benut word. Dít kan slegs met lekke gedoen word. Verder is mieliekuilvoer en lusern baie duur en vereis die baie arbeid om dit te meng en te voer asook vervoerkoste om dit uit te ry weens hulle lywigheid. Hierdie twee bronne voorsien ook nie voldoende minerale en veral spoorelemente nie wat weer die diere se produksie en veral reproduksie nadelig kan beïnvloed.

  • Geskryf deur dr. Jasper Coetzee (jasperco@iafrica.com)

    25 Julie 2007