Landbou
Beeste vreet plastiekpype
Dr. JASPER COETZEE

Vraag:
Ek het twee melkbeeste met 'n onversadigbare behoefte om plastiekpype te vreet. Bestaande waterpype word opgeëet. Die beeste loop daagliks van 07:30 tot 15:30 op groen lusernweiding en daarna op droë veld.

Hul aanvullende rantsoen is 2kg gemaalde geelmielies; 2kg gemaalde grondboontjiehooi; 2kg gemaalde lusern met melktyd soggens; 2kg gemaalde geelmielies met 2kg gemaalde grondboontjie hooi en 2kg gemaalde lusern saans.

Agri-winterlek 45 is vryelik beskikbaar en ek het die laaste twee weke 'n bietjie Engelse sout, hypo, blomswael, kopersulfaat en Beesfos P12 in hul melkrantsoen gegooi.

Waarom vreet hulle steeds die plastiekpype?

Antwoord:
Wanneer diere gewoonlik vreemde voorwerpe vreet, is dit dikwels 'n fosfor- en/of spoorelementtekort. Daarom sal presies vasgestel moet word hoeveel die diere van die verskillende byvoegings (hypo, swawel, ensovoorts) inneem om te bepaal of daar 'n tekort is.

Dit is uiters noodsaaklik dat diere ten alle tye 'n gebalanseerde rantsoen ontvang anders kan spoorelementtekorte geïnduseer word. Dit is bekend dat diere soms verveeld raak en dan ook geneig is om aan vreemde voorwerpe te kou en te vreet. Dit blyk dat Jerseys meer geneig is om dit te doen as Friese.

In kuddes waar ons soortgelyke probleme gehad het, het die voer van 'n Voermol Fosfaatblok die probleem opgelos. Hierdie blok is een van die blokke met die hoogste spoorelementinhoud op die mark en terselfdertyd gee dit die diere iets om aan te lek wat hulle besig hou en hulle verveeldheid help verdryf.

  • Geskryf deur dr. Jasper Coetzee (jasperco@iafrica.com)

    Landbouweekblad, 26 September 2007