Vraag:
Ek was onlangs op 'n plaas waar die beeste, skape en bokke uitskot aartappels met smaak geëet het. Die boer vra my toe of dit voordele inhou of nadelig mag wees. Wat is u kommentaar? - Leon Kruger (Lkruger@ARC.agric.za)
Antwoord:
Aartappels kan aan herkouers (skape & beeste) gevoer word, maar dit moet deel uitmaak van 'n gebalanseerde rantsoen. Ongebalanseerde voedingstofvoorsiening aan byvoorbeeld ooie gee aanleiding tot lae lampersentasie, lae geboortemassa, hoë lamvrektes, laer melkproduksie en lae speenmassa (Leng et al., 2000).
Daar kan egter nie verwag word dat diere volgens hulle genetiese potensiaal moet produseer nie voordat hulle dieet (weiding + lek) nie behoorlik gebalanseer is nie. Optimum produksie en maksimum winsgewendheid word bereik deur 'n kombinasie van verbeterde genetiese potensiaal, toepassing van sleutel-bestuurspraktyke en inname van gebalanseerde voedingstowwe (Larsen, 2007). Kontak 'n voedingskundige om 'n rantsoen met aartappels te formuleer.
Te hoë inname van aartappels, sonder die voorsiening van voldoende ruvoer, kan tot suurpens (asidose) en vrektes lei. Pasop vir klein aartappels, veral by beeste, want dit kan in hulle slukderm gaan vassit indien hulle heel ingesluk word wat tot opblaas en vrektes kan lei.
Indien aartappels lank aan lig blootgestel word, verkleur dit groen. Sulke aartappels kan hoë vlakke van alkaloïdes bevat wat giftig is en maagwerk kan veroorsaak.
16 April 2008