Vraag:
Ek boer ekstensief, maar wil my kalwers kruipvoeding gee om 'n swaarder kalf te speen. Op watter ouderdom begin ek en kan u vir my 'n samestelling van 'n mengsel voorskryf wat ek self kan meng? Hoeveel van die voer moet per kalf per dag ingeneem word? Dink u dat dit betalend sal wees? Moet ek hierdie kalwers ook 'n groei-stimulant in die oor sit? Het u enige addisionele aanbeveling vir optimale groei? - Johan van Zyl (ajvz@telkomsa.net)
Antwoord:
Kruipvoeding neem normaalweg 'n aanvang op 2½ tot 3 maande ouderdom van die kalwers en word tot speen gevoer. Die volgende kruipvoermengsel word aanbeveel: 700kg gemaalde mielies + 200 kg Voermol SB 100 + 100 kg Voermol Procon 33.
Kruipvoer word altyd ad lib gevoer. Kalwers vreet oor die hele periode gemiddeld 1,6% van liggaamsmassa, wat ongeveer 2,8kg kruipvoer/kalf/dag is. Kruipvoer het in proewe die gemiddelde groei van die kalwers met 48% verhoog.
Indien die kalwers kruipvoer ontvang, kan hulle op ongeveer drie maande met 'n oorinplantaat geïnplanteer word. Slegs diere wat vir bemarking bestem is, moet geïnplanteer word. Teeldiere mag nie geïnplanteer word nie.
Indien die weiding beperk is en daar 'n goeie kans is dat die koeie skraal met die aanvang van die paarseisoen sal wees, sal kruipvoeding help om die massaverlies te beperk, wat 'n hoër kalfpersentasie tot gevolg kan hê. Met kruipvoeding kan die kalwers óf swaarder gespeen word óf hulle kan vroeër gespeen word.
Indien die koeie skraal is en/of die weiding is beperk, sal die voorsiening van 'n produksielek (bv. Voermol Produksielek) teen 1.5kg/koei/dag vanaf 21 dae voor die paarseisoen vir 63 dae 'n noemenswaardige verbetering in kalfpersentasie teweegbring.
19 Mei 2008