Landbou
Amerika verdubbel subsidies aan sy boere
Johan Willemse

Amerika se federale regering sorg goed dat dié land se boere in produksie bly, en nuwe wetgewing wat subsidies en ander hulpmaatreëls aan produsente reguleer, is aanvaar. In dié hulpmaatreëls beloop die totale subsidie aan boere in Amerika nou $190 miljard (R1 900 miljard).

Amerika se landboubeleid is gebaseer op wetgewing waarin die beleid en staatsondersteuning aan dié sektor elke ses jaar heeltemal heroorweeg en deur die land se wetgewende stelsel beweeg voordat dit wet word.

In die sogenaamde "Freedom to Farm"-wet van 1996 is die streng voorskrifte oor subsidies aan boere verslap. Markkragte het beter gewerk en boere het beweegruimte gehad om by pryse aan te pas. Dié benadering was in die gees van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) se inisiatief vir vryer internasionale handel en veral om handelsbeskerming en subsidies te verminder.

Dit was deel van die debat tussen die arm en ryk lande dat beter handelsgeleenthede die weg is om arm lande te laat groei, eerder as subsidies en skenkings. Pres. Thabo Mbeki se groeiplan vir Afrika is in 'n groot mate hierop geskoei.

Een van die redes waarom Amerika se landbouwetgewing en ondersteuningsmaatreëls vir ander lande belangrik is, is omdat dié land die grootste produsent én uitvoerder van landbouprodukte is, maar veral van graan. Die Amerikaanse graanbeurse word as basis vir feitlik alle internasionale handel in graan gebruik. Dié beurse beïnvloed graanpryse in Suid-Afrika regstreeks, en dié prys werk na die plaaslike veebedryf deur.

Volgens die Amerikaanse wetgewing wat in Mei gefinaliseer is, verhoog die federale regering sy landboubegroting van VSA$100 miljard (1996) tot VSA$190 miljard. Dié wetgewing geld vir die volgende ses jaar, maar is van so 'n aard dat dié geld nie regstreeks nie, maar via sekere maatreëls aan boere uitbetaal word. Dit behels meer vir navorsing en onder meer bewaring en voedselhulp.

Uiteraard gaan dit Suid-Afrika se landbou oor die volgende ses jaar regstreeks raak. Dit behoort produksie in Amerika te verhoog, wat die internasionale voorraad van veral graan gaan vergroot. Gunstige uitvoerprojekte sal verder help om die internasionale pryse van baie landbouprodukte laer te druk. Onthou, graanpryse is nie net die basis van baie voedselsoorte nie, maar is ook die grootste produksiemiddel vir die intensiewe veebedrywe. Dit beteken dat handelsgeleenthede strammer gaan raak en dat dit vir mededingers, wat sonder staatsondersteuning in die ope mark moet meeding, moeiliker gaan word om handel te dryf.

Pres. Mbeki het onlangs aangedui dat dié nuwe wetgewing binne die WHO en ander internasionale forums met Amerika opgeneem gaan word. Amerika is uit verskeie oorde gekritiseer oor sy nuwe beleid en die impak wat dit op internasionale landbouhandel kan hê. Maar, as pres. Mbeki nie aan sy Zimbabwiese eweknie voorwaardes wil stel oor dié land se grond- en landboubeleid wat die hele Suider-Afrika destabiliseer nie, waarom sal Amerika sy interne beleid aanpas om enkele buitelandse politici tevrede te stel?

Die Amerikaanse bevolking beskou die aanvalle van 11 September 2001 as 'n ernstige bedreiging vir sy voortbestaan, en die FBI het pas weer gewaarsku dat nóg aanvalle verwag word. Die Amerikaners poog derhalwe om selfversorgend te word in 'n vyandige wêreld. Die Amerikaanse departement van landbou sien dít as een van die belangrikste doelwitte van die nuwe wet, en die land is bereid om sy ondersteuning aan sy landbou te verdubbel om dié doelwit te bereik.

Onthou egter dat die Europese Unie een van die ander grootste landbouprodusente is. Dié unie ondersteun sy landbou net so swaar en sal noodwendig versigtig wees om die Amerikaners te kritiseer. Kritici is tans beperk tot die sogenaamde Cairns-groep van lande, 'n kleiner groep wat vrye handel voorstaan. Australië, Suid-Afrika en sekere lande in Suid-Amerika is lid van dié organisasie.

Alle landbou-ondernemers sal die invloed van dié wetgewing op die sektor deeglik moet bestudeer en begrip toon vir die gevolge op die markte. Suid-Afrika sal dié beleid nie kan ignoreer nie.

Die redenasie is nie dat Suid-Afrika moet terugkeer na markingryping en allerlei vorme van staatsinmenging in die landbou nie, maar om ernstig te herbesin oor die beleidmaatreëls om voldoende ondersteuning aan die sektor te gee, ook in streeksverband, veral omdat hongersnood tot 10 miljoen mense in buurlande ernstig bedreig.

Die hersiene Amerikaanse wetgewing bestaan uit 'n verskeidenheid van programme. Kommoditeitsprogramme sluit die grane in die tabel in, maar ook regstreekse subsidies vir melk, grondbone, suiker, wol en bokhaar, heuning, appels en verskeie peul- en spesialiteitsgewasse. Die perk is 'n totale subsidie van $2,5 miljoen per boer.

Subsidies vir verskeie grond- en natuurbewaringsmaatreëls beloop $17,1 miljard. Hierin is voorsiening gemaak vir grond wat aan produksie onttrek is en waarvoor die betrokke boer jaarliks vergoed word.

Handelsondersteuning beloop $1,144 miljard, wat die ontwikkeling van uitvoermarkte en voedselhulp in sekere omstandighede insluit, asook uitvoersubsidies vir melkboere.

Voedingsprogramme van $6,4 miljard sluit in voedsel, seëls aan arm mense, skoolvoedingsprogramme en vele meer.

Amerika se departement van landbou bedryf kredietskemas om nuwe boere te help om lenings te bekom en om hulself te vestig. Sowat $1,03 miljard is begroot vir plattelandse ontwikkeling, wat insluit internetverbindings, die verwerking van produkte en die vestiging van agribesighede. Sowat $1,3 miljard is vir navorsing geoormerk.

Besteding aan hernieubare energiebronne en biobrandstof geniet baie aandag en die koste beloop sowat $450 miljoen per jaar.

In die tabel is 'n opsomming van enkele van die stutmaatreëls wat onder meer op grane van toepassing is. Dit is egter net 'n gedeelte van die ondersteuningsmaatreëls. Die tabel wys die leenkoers, regstreekse betalings en die teikenpryse aan.

Die teikenprys is 'n tipe van stutprys, wat gebruik word om betalings aan boere te doen wanneer die markprys onder dié vlak daal. Dit word ook teen-sikliese betalings genoem. Die bedrag is basies die verskil tussen die markprys en die teikenprys, bereken volgens 'n formule. Dit kan sekerlik ook as 'n soort vloerprys gesien word. Die relatiewe vlakke van die teikenprys tot die markprys vir verskillende kommoditeite kan boere dus beïnvloed in hul besluite oor aanplantings.

Die aanduidings is dat dit gunstiger vir Amerikaanse boere is om mielies en koring te plant as byvoorbeeld sojabone. Die kans vir groot oeste is hier dus beter, wat tot gevolg het dat die pryse op die graanbeurse aan die daal is, soos die figuur dit aandui. Dit het 'n regstreekse invloed op die vlak van pryse in Suid-Afrika, via in- en uitvoerpariteit.

Dit verg nie veel toeligting om die implikasies vir die plaaslike landbou te besef nie. Die rimpeleffek kan oor heelwat bedrywe strek. Invoertariewe sal dus weer in die kollig kom.

Regstreekse betalings word ook onder sekere voorwaardes aan boere gedoen. Die leenkoers is die prys waarteen boere hulle produkte aan die "Commodity Credit Corporation" of CCC kan voorsien. Die bedrag/prys word vir 'n sekere tydperk voorgeskiet teen die sekuriteit van die produk. Dit bied verdere stut- en kontantvloeivoordele aan boere.

Die programme is 'n komplekse stel maatreëls, maar kom daarop neer dat die produksie van strategiese produkte teen ongunstige wêreldpryse "gestut" word. Boere word dus redelik teen markprysveranderinge afgeskerm. Die gevolg is voldoende voedselproduksie, en uitvoermaatreëls word gebruik om die produkte op die wêreldmark te plaas. Navorsing en natuurbewaring sorg verder dat die landbou aan die voorpunt van ontwikkeling bly, al daal markpryse.

Die groot vraag is natuurlik hoe dit moontlik is dat die ondersteuningsmaatreëls binne die reëls van die WHO kan val? Die kort antwoord is dat Amerika en die EU die bestaande reëls in die vorige ronde onderhandelinge beding het. Hulle sorg bloot dat die ondersteuningsprogamme binne die WHO-reëls en die perke wat daar is, val.

Ten slotte

Volgens aanduidings beweeg die belangrikste landbouland in die wêreld nader aan selfvoorsiening in voedselproduksie en die federale regering is bereid om sy ondersteuning aan dié sektor aansienlik te vergroot. Die basis is eie belang en dit behoort 'n wekroep vir ons Regering te wees. Dit moet ook gebruik word om die swak politieke leierskap in die streek op die spits te dryf.

Suid-Afrika kan nie die tien miljoen mense wat in Suider-Afrika honger ly, ignoreer nie. 'n Wesentlike herbesinning oor landboubeleid en om die werklikheid in die oë te kyk, is noodsaaklik.