Die landbou is 'n sikliese bedryf: Dit geld nie net die weer nie, maar ook die produk- en die finansmarkte. Dit beteken daar is volop slaggate vir elke boer.
Die voorkoms van siklusse maak die bedryf van 'n sake-onderneming ingewikkeld. Een van die moeilike vrae is wanneer 'n bepaalde siklus gaan begin of eindig. Om dit nóg ingewikkelder te maak, stem die verskillende siklusse waaraan 'n boer onderhewig is, nie altyd ooreen nie.
Dit is 'n goeie idee om beleggings te diversifiseer . . . maar ook die boerdery self. Dit is waar dat daar 'n saak uit te maak is vir spesialisasie, maar dit kan slegs volhoubaar wees as die boer genoeg reserwes buite die spesifieke bedryf moet hê waarop hy kan terugval in die swakker jare wat noodwendig gaan kom.
Saaiboere is die laaste paar jaar deur 'n siklus van dalende pryse en baie kapitaal is opgebruik. Die veeboere, weer, het die laaste jaar of wat 'n opswaaisiklus ervaar en diegene wat voorbereid was, pluk nou die vrugte.
Wanneer dit voorspoedig met 'n bedryf gaan, wil almal op die wa klim. Veeboerdery is nou besonder aantreklik, maar myns insiens is dit nou te laat, want die beste prysstygings is agter die rug.
Daar is aanduidings dat die opswaaisiklus vir graan en oliesade reeds begin het en vir die volgende jaar gaan voortduur. Daarna sal die pryse moontlik weer terug-swaai. Presies wanneer, kan niemand voorspel nie. Dit sal egter eers in 2007 duidelik wees. Die produsente van uitvoergoedere wag in spanning om te sien of die rand se verswakking gaan voortduur tot die volgende uitvoerseisoen, terwyl dit duidelik is dat die wêreld se finansiële markte minstens 'n paar maande lank in 'n onstabiele fase gaan wees.
Die skerp styging in veral mielie- en sekere oliesaadpryse gaan natuurlik weer sy eie uitdagings bring. Baie saaiboere se langtermynbeplanning is nie goed nie en hulle spring rond soos wat die landbouwinde waai. Diegene wat 'n goeie produksie- en bemarkingstelsel het, pluk nou die vrugte daarvan. In die geval van veeboere is die dae van goedkoop kragvoer voorlopig verby en gaan die bestuur van voerkoste se belangrikheid weer toeneem.
Die internasionale mark vir graan en vee is ook aan siklusse onderhewig en veranderinge in die vraag en aanbod speel 'n groot rol. Terloops, die meeste van die wêreld se mielies, koring en oliesaad gaan na die veevoermark. Die verloop van sake in die veemarkte, met deesdae 'n paar veesiektes wat produksie en uitvoer ontwrig, speel in hierdie verband 'n rol. Die groeiende vraag na etanol en biodiesel het die laaste twee jaar nuwe woema aan die vraag na mielies en sojabone op die wêreldmarkte gegee.
Grafiek 1 skets die verloop van enkele belangrike produkpryse in die internasionale mark.

Dit is duidelik dat die pryse wat veeboere nou kry, aan die daal is. Dit lyk of veesiektes hier 'n rol speel. Die voorkoms van voëlgriep, bek-en-klou-seer en malbeessiekte maak verbruikers versigtig. Uitvoerbeperkings op beesvleis uit Kanada, Amerika en Brasilië het pryse wel gestut. Daar is egter nou aanduidings dat van die uitvoer binnekort hervat gaan word, wat die invoer van beesvleis na Suid-Afrika sal laat toeneem. Die ingevoerde vleis sal goedkoper wees as die heersende binnelandse markpryse.
Saamgevat: Internasionale veeprodukpryse het reeds hul hoogtepunt bereik en is nou in 'n daalfase. Die opheffing van die verbod op invoer en die waarde van die rand teen ander geldeenhede gaan bepaal met hoeveel pryse in Suid-Afrika in die volgende jaar kan daal.
Graan-, en in 'n mindere mate oliesaadpryse, het reeds heelwat gestyg en ontleders verwag dat pryse in die volgende maande nog kan styg.
In die geval van koring en mielies is die eindvoorraadvlakke in die wêreld die laagste in omtrent drie dekades. Dit laat min ruimte vir oesprobleme in die belangrike produksielande. Wêreldpryse gaan in die volgende paar maande waar-skynlik taamlik skommel, volgens internasionale kenners.
In die geval van koring het pryse reeds heelwat gestyg. Ontleders verwag dat die wêreldproduksie met sowat 10 miljoen ton gaan daal (produksie neem ook in Amerika af) terwyl die vraag bly groei. Die resultaat is dat die laagste voorraad tot verbruiksyfer in sowat 30 jaar verwag word.
In die geval van mielies is die situasie dat die produksie met sowat 13 miljoen ton gaan daal (swaai na sojabone in Amerika) en dat die wêreld se eindvoorraadvlakke tot verbruik gaan daal na van die laagste vlakke in baie jare. Terloops, internasionale suikerpryse is tans op hul hoogste vlak in 25 jaar, terwyl rys ook heelwat duurder geword het.
In die geval van oliesade is daar nie 'n problem vir die res van die jaar nie. Dit is weens die groot Amerikaanse oordragvoorraad en beplande groter aanplantings. Opwaartse druk op pryse kan eers einde vanjaar begin. Saaiboere sal moet koelkop bly deur die hele proses, deeglik beplan en by hul langtermyndoelwitte en -planne hou en nie rondspring nie.
Die grootste fout wat iemand kan maak terwyl pryse styg, is om te aanvaar pryse gaan aanhou styg. Markte werk altyd in siklusse en stygings word áltyd deur dalings gevolg. Selfs ná 2002 se goeie produkpryse het talle boere die doellyn gemis omdat hulle gemeen het pryse gaan bly styg. Die ander fout wat baie gemaak het, was om die meevaller van die hoë pryse nie sinvol in reserwes weg te sit nie.
Suid-Afrikaanse graan- en oliesaadpryse hou regstreeks verband met die vryelike invoer van graan, oliesade en produkte. Volgende jaar gaan Suid-Afrika 'n netto invoerder van mielies, koring en oliesaadprodukte wees. Sowat 1 miljoen ton mielies, sowat 1 miljoen ton koring, sowat 600 000 ton oliekoek en 640 000 ton oliesaad-olies sal ingevoer word. Binnelandse pryse gaan deur die internasionale prys en die wisselkoers beïnvloed word en daar kan selfs bottelnekke met die invoer verwag word. Dit is deels te wyte aan die kortsigtigheid van die Departement van Landbou om die kommersiële landbou te ignoreer. Die huidige mielie- en sonneblomoes gaan kleiner wees as wat aanvanklik verwag is weens plantsiekteprobleme - die resultaat van ernstige verwaarlosing van landbounavorsing deur die minister.
Saaiboere sal rustig hul weg deur die verwagte verdere prysstygings moet vind en die voordele van die stygsiklus benut en reserwes opbou. Dit verg natuurlik ook nie veel insig nie om te besef dat baie boere in die nuwe plantseisoen weer op die plantwa gaan spring en hul plase van "hoekpaal tot hoekpaal" beplant nie. Die tydsberekening om prysverskansingsbesluite te neem en uit te voer, gaan belangrik wees.
Intensiewe veeboere sal moet beplan met die oog op duurder voer. Na verwagting sal die stygfase 'n jaar of wat duur en heelwat winste verteer. In sekere gebiede kan daar selfs haakplekke wees met die beskikbaarheid van veral mielies.
Opgesom: Landboumarkte is siklies, soos finansiële markte en die weer. Dit wil voorkom of die graanpryssiklus minstens opwaarts gedraai het vir die volgende jaar. Die benutting van die geleenthede en die verloop van die siklus sal toegewyde aandag verg. Dit sal ook goed wees om te onthou dat pryse nie aanhoudend styg nie, daar gaan weer 'n daalfase kom.
30 Junie 2006