Landbou
Landbou-inkomste aan't herstel
Deur JOHAN WILLEMSE

Landbou-inkomste in Suid- Afrika het in die afgelope jaar skerp gegroei ná die dalings en verswakking van die vorige aantal jare. Volgens die Department van Landbou se jongste gegewens het die landbou se bruto inkomste met sowat 23% verbeter tot R92 809 miljoen vir die jaar (Oktober 2006 tot September 2007).

Die gevolg was dat die netto inkomste in die jaar ook aansienlik met sowat 77% tot R28 208 miljoen herstel het. Besteding aan intermediêre produksiemiddele het in die jaar tot September 2007 met 11,9% tot sowat R48 906 miljoen toegeneem.

Die gegewens moet in perspektief gesien word teen die dalende neiging van die voorafgaande dekade. Die 2005-06-jaar was sekerlik een van die moeilikste in die landbou se afgelope dekade. Boerderyskuld het aansienlik opgebou en die winsverhoudings het skerp verswak.

Volgens 'n onlangse grondige ontleding van Standard Bank se ekonomieafdeling oor die verloop van sake in die ekonomie en verwagtinge vir die volgende paar jaar word 'n herstelfase baie sterk aangedui en bewys.

Die landbou is sedert 1994 deur 'n groot aanpassingstadium, wat, volgens die bank, 'n sterker en fikser landbousektor daargestel het. 'n Landbousektor wat met die beste in diewêreld kan meeding ondanks al die remblokke.

Die bank se ontleding toon duidelik hoe die landbou se winste die afgelope sowat 15 jaar gekrimp het. Die relatiewe winsgewindheid is deur die bank gemeet as die netto bedryfsoorskot uitgedruk as 'n persentasie van produksiemiddele en arbeid.

Natuurlik het die dalende winsgewendheid aanleiding gegee tot dalende investering. Dit word uiteindelik weerspieël in die stygende neiging van landbou-invoer in Suid-Afrika. Die bank maak egter in die verslag die stelling dat landbouproduksie die hoeksteen is vir die verligting van armoede, honger en die gebrek aan voedselsekuriteit op die vasteland.

Die verslag verwys ook daarna dat een van die sleutelbesluite vir Nepad en die Verenigde Nasies se millenniumdoelwi tte is dat lande in Afrika sowat 10% van hul begrotings in die landbou moet investeer. Nodeloos om te sê dat Suid-Afrika nie naby dié doelwit kom nie - dit is in die orde van 1% tot 2%.

Die daalfase in die landbou die afgelope dekade is juis die resultaat van gebrekkige regeringsbeleid, nou reageer die mark. Natuurlik sal die politici se hande jeuk om regeringsmaatreëls in te stel om in die mark in te meng.

Die toename in die bruto produksiewaarde en die landbou se netto inkomste moet dus in dié perspektief gesien word. Dit is die mark se meganisme om hulpbronne na die landbou en voedsel aan te trek omdat daar tekorte is. Die tekorte is wêreldwyd en daarom het landbouprodukpryse wêreldwyd skerp gestyg en in die besonder ook in Suid-Afrika, want ons moet invoer en die koste raak al hoe hoër.

Die herstelpad van die landbou ten opsigte van beter pryse en hopelik ook beter opbrengste en natter weer, is nie vir alle bedrywe gelyk nie. Die basiese voedselbedrywe is waar die eerste reaksie nou voorkom. Grafiek 2 toon die styging in bruto inkomste vir enkele bedrywe vir die jaar tot September 2007 teenoor die jaar tot September 2006.

Dit is veral by die grane waar die inkomste beter is ondanks swak oeste in baie streke. Volgens die departement het die sagtevrugtebedryf en die sitrusbedryf se bruto inkomste (prys vermenigvuldig met produksie) aansienlik verbeter. So ook die veebedrywe en meer spesifiek dié van beesvleis en skaapvleis, maar ook eiers. By laasgenoemde was daar veral aansienlike produksie-uitbreidings en nie soseer prysstygings nie.

Die bydrae van stygende pryse tot die groter produksiewaarde word in grafiek 3 hieronder getoon. Dit is weer graan- en oliesaadpryse wat 50% tot 80% hoër is teenoor die vorige jaar. Dit is 'n drastiese omswaai en 'n sterk marksein. Dit toon ook dat voedselpryse onder sterk opwaartse druk is, want ander kostestygings in die voedselverwerkingsproses, soos vervoer, arbeid, verpakking en krag asook rentekoste wat skerp gestyg het, moet ook nog bygevoeg word.

Veeprodukpryse, veral in die intensiewe vertakkings, het nog nie veel gestyg nie. Dit duur gewoonlik so 6 tot 12maande voordat die skerp stygings in voerkoste na laer produksie deurwerk,wat dan pryse begin hoër druk. Die proses het nog nie regtig begin nie en baie intensiewe bedrywe het tans taamlike druk op hul voermarges.

Voerkrale maak nie wins nie, so ook melkboere en varkboere, om enkeles te noem. Produsentepryse in die veebedrywe sal nog heelwat moet styg om voermarges te laat herstel en produksievlakke in stand te hou. Die vermindering in verbruikers se inkomste weens die stygende rentekoerse plaas ook 'n demper op die moontlikheid van prysstygings.

Ondanks die skerp verhoging in die bruto inkomste in die akkerboubedrywe is die veebedrywe nou die belangrikste landbouvertakking in Suid-Afrika se landbou. Die veebedrywe se bruto inkomste is groter as dié van akkerbou en tuinbou saam.

Die veebedrywe is ook oor die afgelope aantal jare die groeiende bedrywe en word hoofsaaklik aangevuur deur beter indiensneming van werkers, 'n groeiende ekonomie, 'n toename in welvaart en beter eetpatrone. Dit iswêreldwyd die neiging en gaan na my mening nog voortduur. Die hoenderbedryf is nou die grootste enkele bedryf in Suid-Afrika se landbou.

Die skerp styging in produksiekoste is egter besig om net so vinnig op boerdery se winsgewendheid in te haal. Die pryse van sommige produksiemiddele in die akkerboubedryf is 30% tot 40% hoër as 'n jaar gelede en in die veebedrywe het voerkoste nógmeer gestyg.

Die landbou moet nie mislei word deur die styging in produkpryse nie. Produksiekoste vir die meeste bedrywe is skerp hoër en styg nóg. Dit plaas druk op kontantvloei, veral as die nuwe produksiesiklus se produksiemiddele gekoopmoetword, wat dan baie duurder is.

Ten slotte: Die gunstige ommeswaai in die landbousektor se finansies, soos deur die jongste gegewens van die Departement van Landbou aangetoon word, moet gesien word teen die agteruitgang in die landbou se finansies op langer termyn en is 'n markmeganisme wat sy eie regstelling doen. Die opwaartse siklus sal na my mening nog in die volgende jaar voortduur.

Landbouweekblad, 14 Desember 2007