Landbou
As jy wil skrik, skrik eerste
Deur JOHAN WILLEMSE

Markte beweeg in siklusse. Hierdie verskynsel kom wêreldwyd voor en is goed bestudeer en beskryf. Dit geld ekonomiese groei en die finansmarkte. Daar is fundamentele redes daarvoor, maar die mensdom se kudde-instink is iets waarmee rekening gehou moet word.

Die reaksie van gewone mense en beleggers speel 'n groot rol in hierdie siklusse. Veral van belang hier is diemens se kuddeinstink. Dit beteken dat mense vreesbevange word en oormatig optree. Baie resessies en markbewegings word deur sentiment aan die gang gesit, wat later selfvervullende voorspellings word.

Om goeie sakebesluite te kan neem, is dit belangrik om kennis te neem van die siklusse en die rigting van verandering. Daarin is ook heelwat geleenthede geleë vir diegene wat geduldig is.

Daar is ook gevare. Een van die belangrike lesse is dat die wakker belegger waarskynlik nie sy vingers gaan verbrand nie. Dit is die mens wat eerste in die trop reageer wanneer die kudde-instink inskop.

'n Resessie word gedefinieer as 'n tydperk van verminderde algemene ekonomiese bedrywigheid, gekenmerk deur 'n afname in produksie, wins, werkgeleenthede en verkope, wat nie so ernstig of langdurig soos 'n depressie is nie.

Die gesaghebbende tydskrif The Economist het 'n metode ontwikkel om die aantal opskrifte in belangrike Amerikaanse finansiële nuusblaaie te tel waarin die woord resessie voorkom. Die indeks is oor die laaste paar dekades redelik akkuraat en dit dui aan dat die indeks teen einde 2007 'n sein gegee het dat Amerika in 2008 in 'n resessie sal inbeweeg.

Die grafiek hieronder toon die siklus van die besteebare inkomste per kop in Suid-Afrika. Die verloop van sake by die verbruiker is belangrik, want dit bepaal die vraag na landbouprodukte en veral pryse.

Dit is belangrik om die verloop en die meting van só 'n siklus te verstaan. Wat in die grafiek aangedui word, is basies die persentasie verandering. 'n Toename dui op 'n vinniger groeikoers en 'n afname dui op 'n stadiger groeikoers, wat nou en dan selfs negatief kan raak. 'n Ressesie is dus stadiger groei,maar meestal nog positief.

Die sikliese aard is duidelik, asook die verwagting dat die volgende twee jaar laer groei gaan lewer,maar steeds positief. Daar is mense wat voorspel dat veral beesvleispryse gaan platval. Ek dink dit is te vroeg om so iets te voorspel, want die besteebare inkomste per kop in Suid-Afrika gaan waarskynlik nog groei. Weliswaar stadiger as in die afgelope paar jaar. Ook die vraag na vleis en melkprodukte gaan groei, maar stadiger. Pryse sal slegs in duie stort as die vraag kwaai verswak en die aanbod skerp toeneem. Daar is op die oomblik nie tekens daarvan nie.

Die stand van die huismark is die afgelope tyd dikwels in die nuus. My siening is dat huispryse sal bly styg, maar aansienlik stadiger as in die afgelope paar jaar.

Daar is verskeie aanwysers wat daarop dui dat sakebedrywighede aan die verander is en waarvan die landbou kennis moet neem. Die eerste is aandeelpryse. Grafiek 2 hieronder toon die verloop van aandeelpryse in Suid-Afrika en New York. Die neiging is laer, want maatskappye se winsvooruitsigte is minder rooskleurig as die ekonomie stadiger groei. Maatskappye maak steeds wins, maar die groei in wins gaan laer wees as in die vorige paar jaar.

Hierdie verskynsel is nie net in Amerika en Suid-Afrika sigbaar nie, maar ook in ander belangrike Westerse ekonomieë. Dit is dus nie veilig omnou voor die voet aandele te koop nie, veral nie met die oog op spekulasie nie. Hoe lank en ver aandeelpryse gaan daal, sal afhang of beleggers wat aandele op skuld gekoop het, gedwing gaan word om te verkoop, op watter skaal hulle dit gaan doen, of beleggers paniekerig gaan raak en die tropinstink volg en of mense eerder hul beleggings in kontant wil hou.

Onthou: As jy wil skrik, skrik eerste, anders moet jy hou wat jy het en wag tot die daalsiklus verby is.

Die feit dat die goudprys nuwe rekordvlakke (in dollar) bereik het, dui daarop dat beleggers skrikkerig is en eerder hul geld in goud wil belê.Hierdie is ook nie 'n nuwe verskynsel nie. Goud is altyd 'n toevlugsoord in onsekere tye. Dit is goeie nuus vir Suid-Afrika se goudmyne en die betrokke sektor van die aandelemark.

Een van die sake wat ook 'n groot invloed het op verbruikers se besteebare inkomste, buiten aansienlik hoër voedselpryse, is die ru-olieprys. Dit laat vervoer- en produksiekoste styg en knou winste.

Die ru-olieprys sal waarskynlik in 2009 effens daal namate ekonomiese groei en die vraag na brandstof afneem. Die ru-olieprys raak die landbou regstreeks. Skeepsvragtariewe het in die afgelope jaar meer as verdubbel en die invoer van basiese landbouprodukte het aansienlik duurder geword.

Suid-Afrika se boere is blootgestel aan heelwat van die veranderinge wat besig is om in die wêreldekonomie plaas te vind. Vir sommige is dit nie goeie nuus nie, maar vir ander bied dit nuwe geleenthede.

Ook vir sommige besighede hou dit nadele in. Vir ander, soos Sasol, en ondernemings wat alternatiewe energie verskaf, is dit gunstig.

Boere wat goed geleë is ten opsigte van hul markte kan beslis sterker beding oor vervoerkoste. Die Safex-vervoerdiferensiaal sal na my mening toenemend onder druk kom.

Die Amerikaanse huismark en lenings aan huiskopers in Amerika is nie die basiese oorsaak van die resessie in Amerika nie. Dit was wel die vonk in 'n groot kruitvat. Toe rentekoerse in Amerika 2% tot 3% was en baie geld beskikbaar was, het finansieringsinstellings verbande van 100% toegestaan - baie daarvan vir tweede en derde huise en in baie gevalle het 'n lener eers na 'n jaar of twee begin rente betaal. Hierdie situasie het ontstaan omdat mense, maar ook banke, vergeet het dat die ekonomie in siklusse beweeg.

Dit is vandag algemene kennis dat hierdie losbandige hantering van finansiering geboemerang het. In Amerika staan een uit vier huise deesdae glo leeg en baie word teruggeneem. Hulle is natuurlik nou minder werd as die bedrag wat daarop geskuld word. Die oorspronklike verbandverskaffers het huislenings mettertyd saam gegroepeer en dit as 'n pakkie aan beleggers verkoop. Pensioenfondse en banke in Amerika was tipiese kopers van hierdie verbandpakkies. Nou is die beleggings bitter min werd en sekere banke in Amerika en Brittanje se knieë het begin knak.

Die probleem is nog nie opgelos nie en die effek hiervan kring wyd uit.

Opgesom: Daar is steeds groei in Suid-Afrika, maar die verbruikersmark gaan papper wees. Dit beteken ook dat maatskappywinste nie die baldadigheid van die afgelope paar jaar sal volhou nie. Daar is wel goeie geleenthede, maar goeie raad is om dubbel versigtig tewees as beleggings oorweeg word. Ek sien nie die nodigheid om paniekerig te wees nie, maar wees wakker en reageer vinnig as dit wel nodig is nie.

Landbouweekblad, 25 Januarie 2008