Landbou
Webwerf vir vervoer van goedere
Deur THEUNS BOTHA (landbou@mweb.co.za)

Hy het die gedagte gekry toe hy eendag by 'n vulstasie op Graaff-Reinet stilgehou het. Twee vragmotors het by die brandstofpompe gestaan en wag vir hervulling. Die een was op pad van Gauteng na die kus en was leeg, die een op pad van die Baai na Johannesburg was vol. Waarom nie 'n manier bedink om te verseker dat die leë voertuig ook 'n vrag dra nie? Iewers is daar seker 'n boer wat klaar geskeer het en nou sy wol na die hawe moet vervoer.

Toe dink hy aan die internet. En só het 'n gedagte wat agt maande gelede by mnr. Chris Hayward (47) van die plaas Rooidraai in die distrik Aberdeen, posgevat het, werklikheid geword.

Hayward, wat met Merino's, Afrino's, Dorpers en Angoras boer en 'n lid van die SA Federasie van Groeptelers is, sê die geweldige toename in padvervoer die afgelope dekade het hom laat besef dat daar 'n behoefte aan 'n stelsel is waarmee vragmotoroperateurs inligting kan uitruil oor beskikbare vragruimte. In die praktyk sou dit beteken dat iemand wat nie 'n vol vrag vervoer nie, of met 'n leë vragmotor terugkeer nadat die vrag afgelaai is, iewers onderweg na sy bestemming nog goedere kan oplaai. Dit sou help om die koste te verminder. Dit kan ook help om staan- of wagtyd te verminder.

Hy meen dat die diens wat hy gratis aanbied, 'n groot bydrae kan lewer om die doeltreffendheid van vervoer in die landbou, die nywerheid, mynbou en die kleinhandel te verbeter. "Met die prys van brandstof wat so gestyg het, kan my diens tot meer bekostigbare vervoertariewe lei.

Selfs vir kleiner ondernemings en private vervoerkontrakteurs kan dit nuttig wees, aangesien hulle hul dienste gratis op die webwerf kan adverteer. Mense met kinders op universiteit, wat 'n woonstel wil opsit en 'n yskas of sitkamerstel wil laat vervoer, kan ook die diens gebruik."

Die webblad dien nie net as kennisgewingbord vir vervoerkontrakteurs en klante nie. Daar is ook verskeie skakels na ander afdelings waar besoekers navraag kan doen oor die opberging van goedere, die huur van voertuie, beskikbaarheid van onderdele en herstelwerk aan vragmotors. Daar is ook 'n afdeling waar betrekkings in die vervoerbedryf geadverteer kan word.

Tariewe word op die webwerf gemeld, maar in die praktyk sal dit deur die vervoerkontrakteur en klant onderhandel word. Die inligting word gereeld bygewerk, maar sal net vir sewe dae op die webwerf verskyn.

Hayward was reeds in verbinding met 'n maatskappy wat verkoelingsgeriewe beskikbaar het. "In die vrugtebedryf word baie van dié geriewe net in seisoentyd benut. Deur middel van die webwerf sal maatskappye wat 'n behoefte het om goedere vir 'n tydperk te verkoel en diegene wat die nodige vermoë en geriewe het, dus met mekaar in verbinding kan tree."

Die enigste finansiële voordeel wat daar vir hom in die ontwikkeling van die webwerf is, sal die vertoonadvertensies van vervoerondernemings op die regterkant van die webblad wees. Hierdie tarief word bereken volgens die aantal kere wat die betrokke advertensie besoek word. Vir alle ander gebruikers is die diens gratis. Die webblad, wat teen einde Januarie ten volle in bedryf sou wees, kan by www.moveit. co.za besigtig word.

  • Navrae: Mnr. Chris Hayward, tel. 049 849 0001 of 083 304 5911.

    Landbouweekblad, 22 Februarie 2008