Landbou
Land Bank herstel van kritieke belang
Deur JOHAN WILLEMSE

Die penarie waarin die Land Bank homself bevind, is welbekend. 'n Deel van sy probleem is die feit dat sy balansstaat ernstig verswak het. Die redes was onder meer slegte skuld, verkeerde bestuur, diefstal en onbeholpe direkteure.

Die nuwe direksie het 'n onbenydenswaardige taak en sy welslae, al dan nie, sal van groot belang vir die landbou wees. Daar is reeds tekens dat landbou-ondernemings kyk na ander finansieringsbronne.

Die verswakking in die bank se balansstaat het tot gevolg dat sy vermoë om kapitaal op die geld- en kapitaalmark teen billike rentekoerse te verkry, kwaai ondermyn is. Die resultaat is dat dit duurder is om geld by die Land Bank te leen. Dit het 'n regstreekse impak op besighede en boere wat produksiekrediet gebruik.

Aan die ander kant sal die bank nie sommer bankrot gaan nie aangesien die staat sy enigste aandeelhouer is. Hierdie feit is een van die groot redes waarom die Land Bank in die verlede kapitaal goedkoop in die hande kon kry.

Die feit dat hy die grootste enkele finansieringsbron vir landboubesighede is, skep potensiële probleme aan 'n breë front. Tientalle landboubesighede is afhanklik van finansiering deur die Land Bank om hul lede en klante se rekeninge en aankope en selfs die koop van graan en die opberging daarvan te finansier. Indien die bank nie meer mededingend in die finansieringsmark is nie, kan dit daardie besighede verder onder druk plaas. Veral die besighede met baie debiteure (boereskuld) en betreklik min eie kapitaal sal sukkel. Die druk sal verder oplaai as rentekoerse nog styg en die landbou se finansieringsbehoeftes sterk toeneem.

Intussen het graanpryse bykans verdubbel en die waarde van talle ander produkte sterk gestyg. Dit beteken groter finansieringsbehoeftes. Konserwatief geraam, gaan landboubesighede sowat R12 miljard se kapitaal benodig vir die koop en opberging van die komende mielie-oes. Boere dring daarop aan om dadelik ná lewering vir hul graan betaal te word, maar daardie graan moet opgeberg word. Dit word gewoonlik in die daaropvolgende twaalf maande verkoop. In die verlede het die besighede daardie geld by die Land Bank as oeslenings getrek.

Dit geld ook wynkelders en vele ander ondernemings. Hulle het nie genoeg eie kapitaal nie en gebruik die Land Bank se geld om boere by lewering te betaal. Daardie geld raak nou skaarser en duurder. As dit nie vir Land Bank-krediet was nie, sou boere 'n jaar of langer vir hul geld moes wag nadat hul oeste gelewer is.

Intussen het die belangrikste produksiemiddele, soos brandstof, veevoer en bemesting, 30% tot 40% duurder geword. Hierdie aansienlik hoër produksiekoste sal teen einde vanjaar met produksiekrediet gefinansier moet word.

Die finansiering van die produksieproses is die olie van 'n moderne ekonomie en die moderne landbou. Indien die olie opdroog, gaan die ratte stadiger draai.

Onlangs is aangekondig dat 'n prominente landboubesigheid sy rekening by die Land Bank gaan wegneem. Dit is waarskynlik iets wat al hoe meer sal gebeur namate die Land Bank versuim om sy rol as vernaamste kredietverskaffer aan die landbou behoorlik te speel. Aan die ander kant is dit nie so eenvoudig as om net jou besigheid weg te neem en met een van die handelsbanke sake te doen nie. Gewoonlik is die landboubesighede se bates, wat debiteure insluit, aan die Land Bank verpand en is spesiale reëlings getref vir sekuriteit. Die omskakeling na handelsbank finansiering is beslis nie vinnig en maklik nie.

Die nuwe direksie het 'n belangrike taak om die noodsaaklike bron van finansiering wat die landbou se wiele geolie hou, weer op te bou, anders gaan die wiele al hoe stadiger draai.

Grafiek 1 wys die uitstaande lenings van die Land Bank aan koöperasies en ander landboubesighede.

Dit was teen einde Desember 2007 sowat R10 miljard tot R11 miljard. Dit is nie die geld wat deurvloei nie, maar slegs die uitstaande lenings soos teen einde Desember elke jaar. In hierdie verband moet in gedagte gehou word dat daar 'n tydperk van inkrimping in die landbou was, dat pryse van talle produkte sedertdien skerp gestyg het en dat boere aansienlik meer kapitaal gaan benodig om weer te ploeg en te plant. In die tydperk 2008-'09 gaan daardie behoefte waarskynlik met etlike miljarde rande styg.

Die bank se eie kapitaal en reserwes as persentasie van sy totale bates word in grafiek 2 getoon.

Selfs nadat die Tesourie 'n reddingsboei na die bank gegooi het, ondermyn die verminderende eie kapitaal sy vermoë om die kommersiële landbou te finansier.

Gewoonlik kon die bank geld betreklik goedkoop in die hande kry omdat die staat sy aandeelhouer is en sy finansieringsinstrumente groot aansien geniet het. Dit is noodsaaklik dat dié vertroue in die Land Bank in die geld- en kapitaalmark herstel word. 'n Bank se welslae steun swaar op vertroue.

Die ouditeursonderneming PriceWaterhouseCoopers het pas die resultate van 'n balansstaatopname in 2007 onder koöperasies en ander landboubesighede bekend gemaak. Dit is die derde opname in sy soort en bevat inligting oor 21 ondernemings. Die omset van die groep het in die jaar met sowat 51% gestyg, natuurlik weens hoër produkpryse, maar terselfdertyd het debiteure (meestal boereskuld) met 19% toegeneem.

Agribesighede se balansstate verskil ook redelik. In grafiek 3 word die stand van sake ten opsigte van eie kapitaal van die groep getoon.

Dit is verdeel tussen groot en kleiner besighede. Groot besighede se eiekapitaal-verhouding is naasteby 41%. Eenvoudig gestel, sowat 60% van die bates word met geleende geld gefinansier. Kleiner landboubesighede as groep se situasie het effens verbeter vanaf 34,6% in 2006 tot 45% in 2007.

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die landboubesighede nie besonder sterk balansstate het nie. Van hulle het sowat 20% eie kapitaal. Daar kan nie van hierdie ondernemings verwag word om hul klante, die boere, te ondersteun, terwyl hulle nie in staat gestel word om hul balansstate te versterk nie. 'n Skuldlasverhouding van 60% en meer dui nie op 'n sterk balansstaat nie. In Amerika, met sy stabiele klimaat en volop staatsteun, word 'n skuldlasverhouding van meer as 60 % as riskant gesien.

'n Belangrike saak om te onthou, is dat debiteure by baie landbou-ondernemings een van die grootste bates is. By die groter ondernemings het die situasie effens verbeter tot 40%, maar by die kleineres het dit toegeneem tot 47% in 2007. Dit skep bepaalde risiko's.

Opgesom: Landboubesighede leun swaar op die Land Bank en ander eksterne finansieringsbronne om hul bedrywighede en balansstate te finansier. Die stygende pryse van produkte en van produksiekoste gaan die landbou se finansieringsbehoefte aan 'n breë front skerp laat toeneem. Die meeste boere en landbou-ondernemings se balansstate is nie sterk genoeg om die uitbreidings self te dra nie. Dit is dus in die hele landbou se belang dat die bank se geldsake, maar ook sy aansien, herstel word. Ek oordryf waarskynlik nie as ek sê dat alle oë op die direksie gerig is nie.

Landbouweekblad, 22 Februarie 2008