Die finansiële media gee heelwat aandag aan die Amerikaanse ekonomie wat stewig op pad is na 'n resessie. Die groot vraag is hoe dit Suid-Afrika gaan beïnvloed.
Daar is myns insiens 'n ander aspek van die ekonomiese fase waarin ons nou beweeg, naamlik dat inflasie die eerste keer in 'n dekade skerp styg. Dit verg aan die landbouproduksiekant ernstige bestuursaandag. Inflasie word beskryf as 'n voortdurende styging in pryse van goedere en dienste terwyl geld sy waarde verloor.
Dit is belangrik om vroegtydig te weet dat 'n inflasiesiklus 'n ander bestuursbenadering in die besigheid en ekonomie verg. Een van die kenmerke van 'n inflasietyd is dat geld sy waarde vinniger verloor. Geld se vereiste is onder meer ook dat dit algemeen aanvaarbaar moet wees, maar ook dat sy waarde behou word.
Daar is baie oorsake van 'n stygende pryssiklus wat oor die breë ekonomie voorkom. Een van die nuttigste verduidelikings is dat inflasie beskryf kan word as 'n toestand wanneer te veel geld te min produksie of dienste lewer. In Suid-Afrika groei die geldvoorraad teen sowat 25% per jaar, maar produksie neem net met 5% per jaar toe en verbruik met sowat 7%. Daar is te veel geld in omloop.
Daar is oorweldigende getuienis dat die internasionale ekonomie en Suid-Afrika op 'n taamlike steil inflasiepad is. Die ernstige probleme in die Amerikaanse geldstelsel en die feit dat die staat in Engeland 'n bank oorgeneem het is van dié getuienis.
Die ekonomiese beleidsbenadering die afgelope dekades in 'n hele klomp lande (ook in Suid-Afrika) is dat rentekoerse moet styg om inflasie te keer. Die benadering is dat die oorskot geld en krediet met betrekking tot produksie verminder moet word.
Stygende rentekoerse veroorsaak egter stadiger ekonomiese groei en werkloosheid. Die probleem is die Amerikaanse regering en die Engelse regering het gekies om eerder inflasierisiko's te loop as om werkloosheid en grootskaalse bankrotskappe van huiseienaars te vererger, wat reeds skerp toeneem.
Amerika het sy reserwebank se rentekoers in Januarie skerp laat daal en gaan dit nóg laat daal tot naby die vlak van een persent. Hulle pomp ook massiewe hoeveelhede geld in die stelsel in. Die probleem steek ook in Australië kop uit. Kortom, daar is sterk tekens dat inflasie wêreldwyd skerp styg. Suid-Afrika, met sy oop ekonomie en die groei in binnelandse geldvoorraad, gaan dit nie vryspring nie.
Grafiek 1 toon prysstygings van enkele indekse in die internasionale omgewing aan. Dit is duidelik dat die meeste pryse die afgelope jaar skerp gestyg het. Dit is oor 'n wye front vanaf voedsel tot nywerheidsprodukte en olie.
![]()
|
Die vraag is: Gaan die SA Reserwebank, soos Amerika en Brittanje, eerder inflasie kies pleks van grootskaalse bankrotskappe en werkloosheid (deur rentekoerse skerp te verhoog)? Ek vermoed ons gaan die inflasiepad loop,maar oppas vir rentekoerse.
Die bestuur van 'n besigheid in 'n inflasiesiklus van 10% tot 20% en meer, is anders as die siklus waaruit ons kom van inflasie van 1% tot 2%.
As 'n mens aanvaar dat pryse net met 10% per jaar styg, beteken dit dat goedere binne vier jaar sowat 50% duurder gaan wees. By landbou-insette is die prysstygings baie hoër en die uitwerking op uitgawes en kontantvloei baie groter.
Die invloed van inflasie raak verskillende groepe in die ekonomie verskillend. Ten opsigte van besighede en landboubesighede word die volgende voorbeelde genoem:
Veral intensiewe veeboere het 'n ernstige kontantvloeiprobleem ten opsigte van voerkoste. Die pryse van produksiemiddele styg tans vinniger en gouer as wat hul produkpryse reageer. Uiteindelik sal veeprodukpryse wêreldwyd skerp moet styg om boere vir die kostestygings te vergoed, want die vraag bly groei en produksie sal deur beter pryse gestimuleer moet word.
Die vraag is: Sal jou kontantvloei hou totdat hoër produkpryse inhaal?
Ten slotte: Die bestuur van kontantvloei is belangrik. Die landbou se inherente tydsloering beteken dat produksiekoste hoër gaan wees en dat 'n boer uit vanjaar se inkomste voorsiening moet maak vir die volgende produksiesiklus.
Vanjaar se wins gaan waarskynlik nie genoeg wees om vir die prysstygings voorsiening te maak nie. Daar sal vroegtydig planne beraam moet word vir die ekstra finansiering wat nodig gaan wees. Die feit dat oliepryse nog styg en die rand bly verswak teenoor die dollar beteken dat die pryse van brandstof, kunsmis, staal en masjinerie nog heelwat gaan styg.
Dit is dus belangrik om te bepaal wat die beste manier gaan wees om jou geld se waarde te behou en met stygende inflasie tred te hou. Kontant in die bank teen 8% rente waarvan belasting afgetrek moet word, sal nie werk nie. Selfs skuld vooruit betaal teen 14,5% rente moet herbesin word. Verskansing deur produksiemiddele vooruit te koop, is 'n opsie, so ook 'n ordentlike fondsbestuurder wat jou kapitaal sy waarde sal laat hou (byvoorbeeld goud- en platinum- beleggings).
Die bestuur van die bate-laste-verhouding is belangrik, veral met die een oog op kontantvloei en rentekoerse wat kan styg. Skuld teen 14,5% rente is 'n kwessie, maar as jou bates nie bestaan uit goedere wat met inflasie tred hou nie, gaan jou bate-laste-verhouding bly verswak. Dit is 'n risiko.
Ons beweeg in 'n nuwe ekonomiese siklus met ander eienskappe, wat beteken jou bestuursbenadering moet verander om die winsgeleenthede te benut.
Landbouweekblad, 21 Maart 2008