Die jongste gegewens oor die vraag na en aanbod van graan en oliesade, wat die Amerikaanse departement van landbou vandeesmaand bekend gemaak het, dui daarop dat die voorraad wêreldwyd besonder skraps is. Daarby voorspel ontleders in Australië dat die situasie nie in die volgende jaar of drie gaan verander nie.
In dollarwaarde gaan graan en oliesade nog duurder word. In Suid-Afrika is die rand aan die verswak en dit dra daartoe by dat die binnelandse pryse skerp styg.
Die nuwe planttyd in die Noordelike Halfrond begin op wankelrige bene en die mark is senuagtig, want daar is in die komende jaar nie speling vir oes- en opbrengsprobleme nie.
Sommige ontleders van die graanmark in Suid-Afrika verwag dat pryse heelwat gaan daal, maar dit lyk in hierdie stadium uiters onwaarskynlik. Inteendeel, wêreldwyd is die kanse uiters skraal dat dollarpryse in die volgende jaar gaan daal.
Die ernstige droogte wat Suid-Afrika se somergraanstreke in Februarie en Maart gehad het, gaan die eerste skatting van die mielie-oes aansienlik laat krimp. Kenners meen die oes gaan nader aan 9,5 miljoen ton wees as die eerste skatting van 10,5 miljoen ton. Dit sal voorkom dat binnelandse pryse beduidend daal. In elk geval is die mielieprys in Suid-Afrika deesdae op uitvoerprysvlakke. Dit is sowat R1 800 per ton en nog aan die styg.
Dit hou vele implikasies in. Dit raak nie net voedselsekerheid en -voorsiening in Suid-Afrika nie, maar in die streek Suider- Afrika, wat 'n groot netto invoerder van graan bly. Dit hou ook implikasies in vir die huidige struktuur van die intensiewe veebedrywe in Suid-Afrika. Die voerkrale is reeds onder kwaai kostedruk en daar is kleineres wat reeds nie meer speenkalwers koop nie. Die ruimte om vleispryse skerp te verhoog, is beperk omdat verbruikers se besteebare inkomste onder druk is. Hoender-, vark- en melkboere se winsmarges is onder skerp druk weens die vinnig stygende voerpryse. Almal het hoër pryse broodnodig om uitgawes te kan verhaal. Ek verwag redelike struktuuraanpassings in dié bedrywe. Dit het tyd geword om na te dink oor die moontlike verloop en implikasies hiervan en hoe daarby aangepas kan word.
Dit gaan nie daaroor wat die presiese graanpryse gaan wees nie, maar eerder die rigting van verandering - en dit is vir die volgende jaar of wat nog eerder hoër as laer.
Die Amerikaanse departement van landbou se jongste skattings het die mark nog senuagtiger gemaak. In Amerika én Australië is die slotsom dat duur graan en oliesade 'n gegewe is.
Daar is veral drie faktore wat die markte aanvuur en wat nie in die volgende paar jaar gaan verdwyn nie.
Eerstens is daar die dalende neiging wêreldwyd in die voorraad graan en oliesade. Dit is die gevolg van groeiende verbruik oor die wêreld heen. Namate bevolkings welvarender word, groei die vraag na duurder voedselprodukte - veral in die opkomende ekonomieë, soos China en Indië. Dié neiging sal na verwagting nie verander nie.
Tweedens is daar die groeiende vraag na energie. Dit is teen hierdie tyd al algemene kennis dat die gebruik van hernubare bronne, tans meestal graan, oliesade en suiker, bydra tot die sterk groei in die vraag.
Die nuwer geslag tegnologie sal mettertyd ander bronne kan benut, maar vir die volgende jaar of vyf sal op graan, oliesade en suiker gesteun word.
Derdens raak klimaatsonstabiliteit toenemend 'n probleem. Dit maak die kans op misoeste groter - en met die lae voorraadvlakke wêreldwyd is daar nie speling vir probleme nie.
Die nuwe Amerikaanse produksieseisoen het die wêreldgraanmarkte op hol. Pryse bokspring, maar neig toenemend hoër. Daar is onsekerheid of die nuwe seisoen weer 'n bo-normale opbrengs in Amerika gaan lewer. Wêreldwyd is daar deesdae ook tekorte aan belangrike chemiese produksiemiddele vir die landbou. Kunsmispryse het astronomies gestyg.
Die jongste ramings deur die Amerikaanse departement van landbou en ontleders in Australië word in grafiek 1 opgesom.
![]()
|
In die geval van koring word die verloop in grafiek 2 getoon, asook die verwagting dat die wêreld se voorraadvlakke in 2008/'09 baie min gaan verbeter. Pryse gaan waarskynlik later in 2008 terugsak,maar dit sal nie 'n noemenswaardige daling wees nie.
![]()
|
Die verloop van dollarpryse in Amerika word in grafiek 4 getoon, wat die internasionale markaanwysers is. Die skerp stygings is baie duidelik,maar ook dat die jongste voorspellings van die Australiërs daarop dui dat pryse eerder nog kan styg en dan sywaarts kan beweeg op die hoë vlakke. Die aanname is gegrond op die verwagting van normale en goeie oeste. As sake net effens skeefloop, sal pryse nog hoër kan neig. Dit is die risiko wat in die volgende weke 'n groot rol gaan speel in die markte.
![]()
|
Waar laat dit die intensiewe veebedrywe in die volgende jaar? Daar is kenners wat meen dat verskeie maatskappye hul deure sal moet sluit - veral dié wat nie waarde toevoeg en vir kontrakmarkte produseer nie. Maatskappye wat hul eie voer produseer, sal koste bespaar, wat sal help. Daar word selfs bespiegel dat van die kleiner beesvoerkrale wat nie hul eie voer produseer en hul eie abattoirs het om waarde toe te voeg nie, 'n besonder moeilike tyd tegemoetgaan. Dit sal natuurlik ook die speenkalfmark regstreeks beïnvloed.
Opgesom: Die jongste internasionale ontledings en voorspellings dui daarop dat die voorraad graan en oliesade in die volgende jaar tot 18 maande knap gaan bly. Daar is 'n wesenlike kans dat dollarpryse nog effens gaan styg, al is daar normale oeste. Produksie- en weerprobleme sal die pot verder roer en pryse laat reageer. Die situasie kring wyd uit, selfs na die landboubedrywe wat op die oog af nie regstreeks geraak word nie. Tekorte aan belangrike landbouproduksiemiddele neem wêreldwyd toe. Die soeke na alternatiewe gaan nuwe momentum kry en die struktuur van die landbou is weer aan die verander - wêreldwyd en in Suid-Afrika.
Landbouweekblad, 28 Maart 2008