Landbou
Finansiering stel ál groter eise
Deur JOHAN WILLEMSE

Finansiering in die landbou vereis deesdae meer aandag as voorheen. Die rand het verswak en die pryse van etlike landbouprodukte en produksiemiddele het aansienlik gestyg. Dit beteken die finansieringsbehoeftes het dwarsdeur die landbou-/ voedselketting vir die nuwe somerproduksietyd aansienlik toegeneem.

Vir die buitestander lyk die skerp styging in die pryse van 'n aantal landbouprodukte na 'n groot meevaller vir boere. Tog het hierdie ontwikkeling ook 'n ander kant: Die koste van die koop, vervoer, opberging en verwerking van hierdie produkte het geweldig gestyg.

Voorheen was die Land Bank die primêre verskaffer van krediet aan die landbou, wat ook die finansiering van produksiekoste deur die koöperasies en ander landboubesighede ingesluit het. Dit het gestrek van vrugte- en wynboere tot die produsente van graan en oliesade. Boere ontvang hul betaling gewoonlik nadat hulle hul produkte aan die koöperasie gelewer het (7 dae tot 14 dae), maar die oes word meestal eers heelwat later verkoop. Die geldvloeisirkel word dus meestal eers baie maande ná die lewering van die boer se produk voltooi en dit verg baie kapitaal. Die Land Bank het gewoonlik hierdie las gedra.

Die meeste landboubesighede is nie kapitaalkragtig genoeg hiervoor nie. Dit is in ieder geval meer op die terrein van die finansieringsinstellings. Geldmarkonstabiliteit is een van die kenmerke van die huidig tydvak. Dit dwing banke om die risiko's waaraan hulle blootgestel is, besonder fyn dop te hou. Intussen het die Land Bank se finansieringsvermoë onder verdenking gekom.

Kortom, die volgende jaar of wat gaan besondere finansieringsbehoeftes aan boere, handelaars en die verwerkers/kopers van produkte stel. Dit gebeur in 'n tydperk waarin geld ietwat skaarser is en die Reserwebank harder gaan probeer om inflasie hok te slaan deur krediet te beperk, onder meer deur hoër rentekoerse.

Dit sal beslis raadsaam wees om vroegtydig die aansienlik verhoogde kontantvloeivereistes te bereken en met jou finansier te begin onderhandel, want 'n bottelnek kan ontstaan. In gesprekke met finansiers sal die groter risiko en die ekstra sekuriteit wat benodig gaan word, beslis ter sprake kom.

Tabel 1 gee 'n idee van die waarde van die somergraanoes wat nou ingesamel word. Afgesien van die heelwat groter oeste vanjaar teenoor dié van laas jaar, soos in die geval van mielies, sonneblomme, grondbone en droëbone, is die pryse aansienlik hoër as 'n jaar gelede. Die waarde van die oeste in die vorige jaar was sowat R9,5 miljard teenoor die oeste wat nou ingesamel word se waarde van sowat R23,1 miljard. Dit is 'n toename van sowat R13,6 miljard - wat op een of ander manier gefinansier moet word.

Ons praat van 'n totale finansieringsbehoefte van sowat R23,1 miljard. Ons weet ook dat die Land Bank se finansieringsaandeel afgeneem het. Die handelsbanke gaan nie ál die bykomende koste dra nie. Hulle is nie gewoond aan hierdie soort besigheid en risiko's nie. Hou ook in gedagte dat van die koöperasies en landboubesighede se eie-kapitaalverhouding ongeveer 30% tot 40% is.

Intussen styg produksiekoste op boerderyvlak vinnig. Graan SA het in 'n onlangse nuusverklaring daarop gewys dat kunsmispryse tot Maart vanjaar basies verdubbel het en ons weet dit gaan nog styg.

Brandstofpryse het met 55% gestyg en styg steeds. Daar is ook genoem dat rente op produksiekrediet die afgelope jaar met 63% toegeneem het. Aartappelboere het onlangs berig dat hul produksiekoste tot nagenoeg R100 000 per hektaar gestyg het en dat die behoefte aan produksiekostefinansiering drasties toegeneem het.

Dit is ook waarop Graan SA sinspeel. Graanpryse het goed gestyg, maar die skerper styging in produksiekoste het die behoeftes ten opsigte van die finansiering van die nuwe oes kwaai laat toeneem. Dit verhoog ook die saaiboere se finansiële risiko geweldig. Talle saaiboere sal vanjaar moet herbesin oor die nuwe produksietyd se finansiering van produksiekoste en die risikovlakke wat hul bereid is om te dra.

Ons weet ook nou al dat van Regeringskant niks gaan kom om die kommersiële landbou se risiko's binne perke te hou nie. Ek hoop dat individue en instansies wat dit kan doen, daarop sal aandring dat 'n verkiesing so gou moontlik gehou word - wat hopelik 'n bekwame minister van landbou sal meebring.

As die volgende somerseisoen nie normaal verloop nie, gaan Suid-Afrika se boere in 'n netelige situasie beland. Opkomende boere en kommersiële boere wat nie baie reserwes het nie, sal noustrop trek. Dit geld ook die verskaffers van produksiemiddele.

Tabel 2 gee 'n raming van die belangrikste uitgawes in saaiboerdery. Net ten opsigte van die produksiemiddele in die tabel en prysstygings tot nou toe gaan die finansieringsbehoefte met bykans R20 miljard toeneem. Indien 'n mens in ag neem dat die hele landbousektor se uitgawes aan intermediëre produksiemiddele volgens die Departement van Landbou in die jaar 2006/'07 sowat R48 miljard was, gaan dit toeneem tot tussen R70 miljard tot R80 miljard, gegewe die prysstygings wat ondervind word.

Die groot vraag is of koöperasies en ander landboubesighede se balansstate sterk genoeg is vir die bykomende finansieringsbehoeftes. Ons weet die Land Bank sal dit nie kan hanteer nie. Dit is ook onwaarskynlik dat boere die duurder produksie self sal kan finansier.

Hierdie werklikheid moet nou aandag kry - vanaf plaas- tot op direksie- en beleidsvlak. Boere en landboubesighede moet ook onthou dat die ketting slegs suksesvol is as die verwerkers van landbouprodukte sterk is en die aankope en verwerking van die betrokke produkte kan finansier.

In tabel 3 en tabel 4 is enkele syfers uit die balansstate en inkomstestate van onderskeidelik Pioneer Foods en Tiger Brands as voorbeeld geneem.

In die geval van Tiger Brands kan gesien word dat die omset bly groei, maar die kontant afneem. Die aansienlik hoër landbouprodukpryse beteken noodwendig ook dat hul finansieringsbehoefte heelwat gaan toeneem en dat hul wins onder druk gaan wees as hulle nie die stygende koste volledig kan deurgee nie.

Daar is heelwat boere en nog enkele slim koöperasies en sommige ander landboumaatskappye wat hul aandele in Pioneer Foods gehou het. Hul groei en dividende die laaste paar jaar was besonder sterk. Pioneer is egter steeds 'n ongenoteerde maatskappy en indien hy sy groeitempo wil volhou, sal hy bykomende kapitaal in die hande moet kry. Die groei was besonder sterk as 'n mens na tabel 4 kyk.

Maar ekstra belegging in kapasiteitsuitbreiding kos geld. Die moontlikhede is dat bestaande aandeelhouers die bykomende kapitaal moet voorsien, dat die geld geleen word of dat die kapitaal deur middel van 'n notering op die JSE gegenereer word.

Daar is kritici wat vraagtekens plaas oor die noteringsbesluit, maar my verduideliking van hoe die finansieringsbehoeftes besig is om in die landbou te ontvou, bevestig hoe dringend noodsaaklik dit geword het om geld te vind.

Dit is nie slegs op Pioneer van toepassing nie.

Die landbousektor, vanaf die boere tot by die verwerkers, gaan in die komende maande besondere kapitaal- en finansieringseise tegemoet. Die groter oeste en hoër produkpryse, tesame met die skerp toename in produksiekoste, gaan grootskaalse nuwe finansiering vereis. Daar is kommer dat die verswakte Land Bank hierdie kapitaal nie sal kan lewer nie en dat die finansieringsbehoeftes van die landbousektor moeilik bevredig gaan word uit eie of ander reserwes.

Vroegtydige beplanning van kontantvloei en finansieringsbehoeftes sal in die volgende maande voorkeur moet geniet asook die verhoogde finansië le risiko's wat daarmee gepaardgaan.

Landbouweekblad, 18 April 2008