Landbou
Nuwe planne vir Land Bank
Deur SUSAN BOTES

Korrupte bestuur, finansieringstekorte en swak landboubystand het die Land Bank die afgelope paar jaar laat verval tot 'n spookbeeld van sy eertydse glorie. Die nuwe voorsitter van die bank meen die probleme kán met goeie bestuur reg- gestel word.

As staatsinstansie sal die Land Bank se deure nie sommer sluit nie, sê mnr. Themba Langa, die nuwe voorsitter van die Land Bank se direksie. Veral noudat voedselpryse al hoe belangriker vir die Regering raak en restitusie afgehandel moet word.

Die nuwe raad sal sy omkeerplanne op 5 Mei aan 'n parlementêre portefeuljekomitee bekend maak in die hoop om staatsfinansiering te verseker. 'n Voorsmakie van die moontlike omkeerplan is verlede week deur Langa aan Landbouweekblad voorgehou. Die direksie beoog om sterk klem op gesonde bestuur te plaas, om staatsfinansiering te verseker en om beter kontak met belanghebbendes in die landbou te hê.

Die Suid-Afrikaanse landbou word deur grondhervorming en die vestiging van opkomende boere gekenmerk. Onder die vorige direksie het die bank egter nie die nodige ondersteuning aan dié kliënte gebied nie. Dit is iets wat Langa wil verander en hy maak dit duidelik dat hy hier van opkomende boere van alle rasse praat. "Dis onaanvaarbaar om geld uit te leen en dan moet die bank wag en kyk wat daarvan word."

Daarom wil die bank met landboubesighede, universiteite, die Landbounavorsingsraad (LNR) en nie-regeringsorganisasies saamwerk om opkomende boere die nodige leiding te gee.

"Hierdie organisasies het die vermoë, dit strek tot hul voordeel en hulle het die regte reputasie."

In 'n land waar daar slegs een voorligter vir elke 800 boere is, kan die Land Bank beslis 'n belangrike rol speel. "Dis die enigste manier om 'n volhoubare landbougemeenskap te vestig." Langa meen geloofwaardige landbou-instansies moet opkomende boere help om selfstandig te boer. Dit help nie onervare mense spring in en probeer help nie.

"Die Land Bank moet maniere kry om meer regeringsfinansiering vir die landbou afgeknyp te kry. Ons kort meer ondersteuning, beter markbeskerming en groter ontwikkeling."

Hoewel Langa sterk op opkomende boere fokus, meen hy kommersiële boere is steeds uiters belangrik vir die bank. Die bank, kommersiële boere en landboubesighede moet besef dat hulle almal mekaar broodnodig het.

In slegte tye moet die Land Bank kan intree om boere te help, sê Langa. "Vandag is jy dalk 'n sterk kommersiële boer, maar môre sukkel jy." Die land sal dalk nie een of twee boere se ondergang voel nie, maar wanneer 'n klomp ondergaan, sal dit die hele land seermaak.

Kommersiële banke wil nie geld verloor nie, verduidelik Langa. Die Land Bank is die enigste bank wat boere in goeie en slegte tye sal bystaan, maar om dit reg te kry, moet sy huis eers in orde gekry word.

Terwyl die bank geloofwaardig moet wees vir landboubesighede, moet dit ook kan afbuk om opkomende boere op die been te bring.

Langa is nie blind vir die feit dat dit harde werk sal verg om weer vertroue by die kommersiële landbou in te boesem nie. Hy meen egter dat 'n uitvoerende hoof met 'n goeie reputasie en opleiding as landbou-ekonoom die wa deur die drif sal kan trek.

Sy eerste groot taak is om 'n bekwame tussentydse bestuur aan te stel. Hierdie bestuurspan, wat gewerf sal moet word, se taak sal wees om die bank te herstruktureer, sodat dit na behore kan funksioneer.

Die bank is op die oomblik soos 'n kommersiële bank gestruktureer en dit sal moet verander.

"Ons kan nie sê ons fokus meer op ontwikkeling, maar ons het nie eens 'n hoofbestuurder van ontwikkeling of 'n hoofbestuurder vir opkomende boere of 'n hoofbestuurder vir kommersiële boerdery nie." Wanneer 'n mens kyk hoe die Land Bank onder die NP-regering gelyk het, word dit vir Langa duidelik dat alle landbanke regoor die wêreld op 'n soortgelyke patroon funksioneer.

Hoewel hy nie sê die bank sal soos die bank voor 1994 lyk nie, sal dit beslis ooreenkomste dra.

Die feit dat groot landboubesighede die bank verlaat, bekommer Langa. Hy meen egter dat die bank se medium- en langtermynstrategie van 'n geloofwaardige uitvoerende komitee wat vertroue inboesem, uiteindelik die beste metode sal wees om weer bedryfsvertroue te wen.v Die uitvoerende komitee se magte sal ook drasties ingekort word en streekskantore sal minder mag as in die verlede geniet, sê Langa. "Ons sal behoorlike krediet- en risikostrukture instel, aangesien dit een van die groot tekortkominge van die bank is." Voorheen kon die uitvoerende hoof byvoorbeeld 'n lening van R5 miljoen goedkeur.

Die Land Bank is die enigste finansiële semi-staatsinstelling wat nie staatsfinansiering ontvang nie, buiten wanneer daar krisisse is. Langa meen dit was vir die vorige direksie bykans onmoontlik om in sulke omstandighede die bank te bestuur. Dis nou benewens die kwessies rondom wanbestuur.

"Op die oomblik is dit nie vir die bank moontlik om boere te ondersteun nie, aangesien die subsidies en beskerming van die verlede verwyder is." Sonder staatshulp, sê Langa, sal dit onmoontlik wees vir die bank om ooit kommersiële banke se rentekoerse te klop, aangesien dit die Land Bank sal verplig om op die geldmark kapitaal te gaan verkry. Hoewel die bank steeds die geldmark sal benut vir kommersiële kliënte, sal hy opkomende boere eerder met staatsfinansiering wil ondersteun. Dis onregverdig om die geldmarkwinste te gebruik om opkomende boere te help staan.

Die direksie wil nie volledige finansiering vanaf die staat ontvang nie, slegs gedeeltelike bystand, sê hy. Of die Tesourie hierdie versoek sal toestaan, is egter 'n vraag wat eers ná 5 Mei beantwoord sal word.

Landbouweekblad, 11 April 2008