Landbou
Argentinië bied SA veel te leer
Deaur JOHAN WILLEMSE

'n Groep Suid-Afrikaanse boere het Argentinië onlangs besoek. Die besoek, gereël deur Landbou.com, Landbouweekblad se webwerf, het die besoekers onder die indruk gebring van die geleenthede - en haakplekke - in dié land.

Argentinië is 'n groot land met baie landboupotensiaal. Hy is een van die wêreld se groot uitvoerders van landbouprodukte en ding ook in die Suid-Afrikaanse mark mee met talle produkte. Hy lewer produkte soos mielies, koring, sonneblomolie en -koek, grondbone en vleis.

Dit is 'n land wat sowat drie keer die oppervlakte van Suid-Afrika beslaan. Dit omvat subtropiese tot halfwoestyngebiede.

Daar is sowat 40 miljoen mense en die bevolkingsdigtheid is sowat 14 mense per vierkante kilometer. In Suid-Afrika is dit sowat 36 mense per vierkante kilometer.

Die land voer elke jaar sowat 40 miljoen ton graan- en oliesaadprodukte uit. Met die styging in internasionale landbouprodukpryse het die regering 'n geleentheid gesien om die nuwe ekonomiese groeistimulus te belas. Verlede jaar is 'n uitvoerkwota op beesvleis ingestel om meer vleis binne die land te hou en die pryse laag te hou. Vleis, meer bepaald beesvleis, word as 'n basiese voedsel gesien en die verbruik daarvan per kop is hoog.

Onlangs is 'n nuwe uitvoerbelasting van ongeveer 45 % op die uitvoer van oliesade en graan ingestel. Dit het tot gevolg dat die pryse van landbouprodukte skerp daal, want hulle moet uitvoer en meeding teen heersende internasionale pryse. Dit is dus die boere wat belas word.

Myns insiens is die regering se geneigdheid tot 'n sosialistiese benadering een van die land se beperkinge. Dit beperk groei en welvaartskepping. Dit was opmerklik dat die vragmotors wat graan na die silo's vervoer, oud is. Daar is betreklik min nuwe motors. Daarenteen is Brasilië baie sterker op ondernemerskap en die bevordering van ekonomiese groei ingestel. Dit word geïllustreer deur die talle moderne geboue en die baie nuwe motors op die paaie.

Met die besoek was die boere-staking aan die gang. Boere van ál vier die landbou-unies het saamgewerk en koslewering aan die stede gestaak. Padversperrings is opgerig om die boikot toe te pas. Daar was ook die optogte in die hoofstad, waar armer verbruikers teen die boere en hoë kospryse betoog het.

'n Amptenaar het laat blyk dat die oogmerk is om die breë bevolking in die welvaart van die landbou te laat deel. Die goeie uitvoermark beteken dat dit goed met die landbou gaan, maar ook dat daar welvaart is wat weier versprei behoort te word. Dit is amper asof die regering nie van welvarende mense hou nie.

Dit is nie moeilik om grond in Argentinië aan te skaf nie. Amerikaanse dollar word vir grondtransaksies gebruik. Daar is goeie geleenthede, maar landbougrond is duur. Die grond is meestal besonder diep en vrugbaar.

Droëland-saaigrond word verkoop teen sowat $15 000 per hektaar. Dit lewer sowat 10 ton mielies, sowat 5 ton koring en sowat 5 ton sojabone per hektaar. Die saaiboere volg meestal 'n rotasieprogram en pas minimumbewerking toe. Hulle het drie oeste elke twee jaar. In die saaigebiede val die meeste reën in die somer. Dit reën 800 mm tot 1 200 mm per jaar. Die grond is besonder diep en vrugbaar.

Die meeste landbougrond behoort aan ryk families wat dit al geslagte lank besit en in die stede woon. Sowat 70 % van die boerderygrond word deur die aktiewe boere gehuur.

Probleme met hul geldeenheid en hiperinflasie 'n paar jaar gelede het tot gevolg gehad dat die huurvergoeding by wyse van fisieke eenhede bepaal word. Só sal saaigrond se jaarlikse huur byvoorbeeld 2 ton sojabone per hektaar (ongeveer R4 000/ha) wees. In die geval van weiding word die vergoeding in beeste of produksie per hektaar bereken. Die uitverhuur van grond is vir die eienaars heel winsgewend.

Die goedkoper grond is minder vrugbaar en heelwat verder van die stede.

Baie boere woon nie op hul plase nie, maar in die dorpe en slegs enkele werkers woon op plase. Die meeste paaie op die platteland is nie goed nie.

Boere besit betreklik min werktuie en masjinerie en gebruik meestal kontrakteurs vir plaaswerk.

Misdaad is nie 'n probleem nie en die mense is ontspanne en vriendelik, die diens is goed en die land skoon. Min mense praat Engels - die omgangstaal is Spaans.

Die ekonomie groei teen 7 % tot 9 % per jaar, maar hierdie groei moet gesien word teen die agtergrond van die ekonomiese krisis in 2001. Dit is dus in 'n mate deel van die herstel sedertdien.

Die landbou se regstreekse bydrae tot die ekonomie is sowat 6 %, maar dit is die enkele grootste verdiener van buitelandse valuta en welvaart. Hul departement van landbou is ook redelik ondersteunend en is veral op 'n waardekettingbenadering en uitvoer ingestel.

Op owerheidsvlak is daar begrip dat die land se welvaart van suksesvolle landbou-uitvoer kom. Daarom word die hele proses, vanaf die verskaffing van produksiemiddele tot waar produkte op die skip gelaai word, so doeltreffend moontlik gemaak. Die land het selfs 'n uitvoerhandelsmerk. Hierdie handelsmerk, gekoppel aan sekere gehaltestandaarde, word daadwerklik bevorder en help die land om op die buitelandse markte mee te ding.

Argentinië is daarom 'n belangrike landbou-uitvoerland en ten opsigte van 'n hele aantal produkte is daar sterk uitvoergroei. Daar word ook redelik hard gewerk aan die naspeurbaarheid van produkte.

Die land se belangrikste uitvoerhawe is 'n rivierhawe en is betreklik diep in die binneland. Uitvoerkoste is dus redelik laag. Skepe van tot 60 000 ton kan daar vasmeer. Sulke skepe is te groot vir die meeste hawens in Suid-Afrika. Daar is baie silo's op plase en heelwat graan word per spoor vervoer.

Die tabel gee 'n aanduiding van produksiekoste en opbrengs van 'n plaas in die goeie saaigebied. Die produksiekoste van koring is misleidend, want in baie gevalle word die sojabone 'n dag ná die koring tussen die stoppels geplant. Die koste is hoër, maar die opvolg- soja-oes kry nie kunsmis nie en die opbrengs is laer as wat in die tabel aangetoon word, maar steeds winsgewend.

Die produksiekoste per hektaar verskil nie veel van dié in Suid-Afrika nie, die groot ver-skil is in die besonder goeie opbrengste wat op droëland behaal word. Dit is een van die basiese redes waarom ons baie moeilik met só 'n land se boere sal kan meeding - selfs teen invoerpryse in Suid-Afrika.

Daar is sowat 55 miljoen beeste in die land. Die land het baie goeie weidingsgebiede en die meeste beeste word regstreeks van die veld af geslag. Die produksiekoste van vleis is aansienlik laer as in Suid-Afrika en voerkrale is nie so 'n belangrike onderdeel van beesboerdery as in Suid-Afrika nie. Hul stelsel werk so dat die voerkraal net die beeste voer en die boer alle koste vanaf voer tot medisyne betaal. Die voerkraaleienaar word dan vir die werk vergoed. Dit is sowat R2,40 per dag per bees vir sowat 60 dae. Die beeseienaar besluit self hoe lank die beeste afgerond moet word. Die voerkraal koop dus nie die beeste of speenkalwers en verkoop dit nadat dit afgerond is nie, die eienaar verkoop dit self op 'n veiling vir slagdoeleindes.

Die grootste veiling is 'n sentrale veiling waar sowat 10 000 tot 12 000 beeste per dag opgeveil word. Die konsep is dieselfde as ons varsprodukmarkte, waar die boer aan 'n agent voorsien en die agent dit in sy krale verkoop deur middel van 'n afslaer en waar die inligting dan daagliks beskikbaar is vir die verskillende klasse, meestal volgens ouderdomsgroep.

Heelwat vleis word binnelands verbruik, van die hoogste per kop ter wêreld, net onder die 70 kg/kop per jaar van die bevolking. Daar geld heelwat uitvoerbeperkings. Die doel is om vleis in die land te hou en om 'n kunsmatige oorskot te skep om pryse vir die verbruikers aanvaarbaar te hou.

Opgesom: Argentinië is beslis 'n land met baie landboupotensiaal vir 'n wye verskeidenheid van produkte, wat suksesvol geproduseer en uitgevoer kan word. Grond is besonder duur en die feit dat die regering neig om 'n sosialistiese benadering te volg en van mening is dat die hele bevolking in welvaart en die groeisiklus van die landbou moet deel, maak die landbou minder aantreklik.

  • Dr. Johan Willemse het die onlangse Landbou.com-toer na Argentinië meegemaak.

    Klik hier om foto's van die boeretoer te sien.

    19 April 2008