Wêreldwyd is die pryse van veral graan en oliesade aan die styg. Dit is nou benewens die prys van ru-olie wat gereeld die nuusmedia haal. Dit het tot gevolg dat 'n groot aantal regerings begin ingryp het in die markte om te keer dat die hoë internasionale pryse deurwerk na binnelandse markte en om die armer komponente van die bevolking te beskerm.
In Suid-Afrika het die vakverbond Cosatu ook nie op hom laat wag nie en reeds protesoptogte gehou teen hoër lewenskoste. Cosatu is begaan oor die duurder kos en energie, maar ook oor die stygende rentekoerse. Die Minister van Finansies het hom ook uitgespreek teen die hoë voedselpryse en sy stem gevoeg by dié van internasionale organisasies wat alles met skenkings en deur inmenging in markte wil regstel.
Die blaam word vinnig geplaas op die neiging in die meer ontwikkelde lande om landbouprodukte te gebruik vir die vervaardiging van energie. Hierdeur word die kern van die probleem egter misgekyk. Die lande wat onder voedseltekorte en hoë pryse ly, is meestal dié wat voldoende natuurlike hulpbronne het om selfvoorsienend te kan wees ten opsigte van basiese produkte, maar wat hul landbou nie aan die gang kan hou nie - hoofsaaklik weens onbeholpe politici en ondoeltreffende beleid.
Die huidige toestand bevestig opnuut dat lande hul bevolkings voed met produkte wat op kommersiële skaal geproduseer word. Bestaansboere het selde 'n oorskot - dit is waarskynliker dat hulle beswaarlik genoeg produseer om hulself aan die lewe te hou. Waarom Suid-Afrika se politici bly sê dat nuwe aandag aan klein boere die probleemsal oplos, weet nugter alleen. Net so min as wat versnelde grondherverdeling tot doeltreffender en kommersiële voedselproduksie sal bydra.
Die meeste politici, met hul oppervlakkige insig in die landbou en ekonomie, besef ook nie dat die kleinskaalse boere en bestaansboere gewoonlik veel meer aan onstabiele weerstoestande blootgestel is as kommersiële boere nie. Kommersiële boere kan gewoonlik ongunstige klimaatstoestande in 'n mate trotseer met praktyke soos besproeiing.
Kleinskaalse boerdery is sonder enige twyfel deel van die groter landbouprentjie in enige land. Maar as volhoubare en grootskaalse voorsiening van landbouprodukte die oogmerk is, is die kommersiële landbou die voertuig - en hy moet ordentlik in stand gehou word.
Die huidige hoë landbouprodukpryse en stygende voedselinflasie is die resultaat van gebrekkige beleid en verkeerde besluite in baie lande. Die lande wat swaarkry, is die groot invoerders van landbouprodukte. Hulle is meestal lande met goeie produksiepotensiaal. Ons sien dit duidelik in Suider-Afrika. Suid-Afrika, byvoorbeeld, het verander van 'n netto uitvoerder van voedsel na 'n netto invoerder in 2007/'08.
Verdere staatsinmenging gaan nie die onderliggende probleem van te min produksie oplos nie. In Suid-Afrika sal opnuut aandag gegee moet word aan beleidsmaatreëls wat vertroue in die landbou vestig en produksie stimuleer asook 'n voedselverwerkingsmark wat nie deur groot deelnemers gemanipuleer word nie.
Kortom, vertroue, die instandhouding van die markmeganismes en ondersteuning van die landbou deur byvoorbeeld die ontwikkeling van tegnologie, is vereistes vir doeltreffende kosproduksie.
Grafiek 1 toon die verloop van graanproduksie in die wêreld. Dit sluit rys en oliesade in.
![]()
|
Die produksie van growwe graan sal na verwagting vanjaar die rekordproduksie van laas jaar ewenaar. Rysproduksie sal ook styg vanweë beleidsmaatreëls in die produksielande om produksie te stimuleer.
Die verwagte toename in produksie sal egter afhang van die verloop van die klimaat.
Ontleders verwag dat met normale produksie die aanbodposisie van graan in 2008/'09 sal verbeter en dat dit sal help om pryse te stabiliseer. Die probleem is egter dat die verbruik al 'n paar jaar lank vinniger groei as produksie en dat die wêreldvoorraad bly krimp het. Wêreldwyd is die voorraad nou die kleinste in meer as 30 jaar.
Die grafiek toon duidelik dat die situsasie nie eensklaps ontstaan het nie. Dit is dus 'n oorvereenvoudiging en gewoon verkeerd om die skuld op lande te plaas wat hul surplusgraan en oliesade tot biobrandstof verwerk. Die groei in wêreldbevolkings en welvaart het tot gevolg dat die vraag na hulpbronne sterk gegroei het en in van die lande wat agtergebly het, is nooit genoeg aandag aan produksievermoë en -ontwikkeling gegee nie.
Su ider-Afrika is 'n netto invoerder van voedsel terwyl uitstekende natuurlike hulpbronne beskikbaar is - soos in Zimbabwe.
Van die 37 lande in die wêreld wat tans 'n voedselkrisis ervaar, is 21 in Afrika en 6 in Suid-Afrika se omgewing. In bykans die hele Suider-Afrika het regerings in die afgelope dekade die landbou vinnig laat agteruitgaan.
My raad aan die landboubedryf is om die politici by elke moontlike geleentheid op die feite te wys. As 'n ommeswaai bewerkstellig kan word, wag groot geleenthede vir die landbou.
Grafiek 2 wys hoe die pryse van alle graan en oliesade asook suiker die afgelope jaar of wat skerp gestyg het. Dit is die gevolg van invoerlande se mededinging om die beskikbare voorraad. In baie gevalle het pryse verdubbel en selfs meer as verdubbel. Dit beteken dat voedselinflasie sterk geprikkel word en dat arm mense met beperkte inkomste (van hulle bestee tot 50% van hul inkomste aan voedsel) onder groot druk is. Dit verklaar die optogte en betogings van die laaste tyd.
![]()
|
In Suid-Afrika het die produkte van intensiewe diereproduksie nog nie veel gereageer nie en ek verwag dat dit binne die volgende jaar sterk sal styg. Stygende voerkoste plaas veeboere onder groot druk en hulle sal waarskynlik produksie begin inkort.
Voedselprysstygings sal in tempo afneem, maar dit is hoogs onwaarskynlik dat markpryse in die volgende twee tot drie jaar veel sal daal. Onthou, in Suid-Afrika is mieliepryse op uitvoerprysvlakke en dit is hoog.
'n Vinnige opname wys dat meer as dertig lande sedert Februarie nuwe maatreëls ingestel het om voedselverskaffing te stabiliseer. Dit is hoofsaaklik die ontwikkelde lande en dié wat tradisioneel op groot skaal uitvoer. Dit is interessant hoe hierdie lande voorkomend optree.
Die maatreëls wissel na gelang van die betrokke lande se situasie. In Argentinië het die regering byvoorbeeld uitvoerbelasting ingestel op graan, vleis en oliesade.
Dit is om die uitvoer van hierdie produkte te ontmoedig en dit eerder binne die land te hou. Dan is daar lande, soos China, wat uitvoerkwotas en 'n permitstelsel ingestel het, maar terselfdertyd produksiestimulerendemaatreëls in werking gestel het.
In sommige lande word die koste van bemestingstowwe gesubsidieer. Invoerlande het meestal invoertariewe afgeskaf in 'n poging om prysstygings te demp. Daar is selfs die lande wat voedselpryse subsidieer. Lande, soos Maleisië, het prysbeheer ingestel op sekere basiese voedselsoorte en in die Oekraïne is beperkings op die winsmarges van voedselhandelaars ingestel.
Daar is lande wat ook begin het om alle vorms van belasting op voedsel, soos BTW, af te skaf. Ek glo dat dit in Suid-Afrika sal kan werk - dalk moet iemand dit in Cosatu se oor fluister. Ons moet ook in gedagte hou dat daar in ieder geval in sekere gevalle, soos by brood en vleis, ongerymdhede voorkomten opsigte van BTW.
Die Minister van Finansies het in elk geval 'n surplus op die begroting en het nie werklik die BTW op voedsel nodig nie.
Die situasie kan effens verbeter as die wêreld in 2008 weer 'n rekord-produksiejaar het. Die klimaat sal egter die deurslag gee.
Intussen is regerings op groot skaal besig om in te meng in die landbou en voedselmarkte. Die inmenging dek 'n breë spektrum. Die moeilikheid is dat bepaalde inmenging die probleem eerder kan vererger.
Landbou-organisasies en meningsvormers sal hard moet werk om die ware situasie te verduidelik en om beleidmakers weg te hou van onoordeelkundige inmenging. Ondeurdagte inmenging kan onbedoelde en onvoorsiene ongunstige gevolge hê - iets wat die probleem sal vererger eerder as oplos.
Landbouweekblad, 2 Mei 2008