Hoewel sommige ekonome aanvoer dat inflasie die bopunt van die siklus nader, is die slegte nuus vir politici wat begaan is oor die koste van voedsel, dat die voorraad graan en oliesade steeds daal en dat die pryse daarvan waarskynlik sal bly styg.
Die resultate van ontledings van die vraag en aanbod deur die Amerikaanse departement van landbou wys dat die wêreldvoorraad van graan en oliesade verder gedaal het as wat in Desember geraam is. Die voorraad (as persentasie van verbruik) is nou die kleinste in dekades.
Internasionale pryse het ná die aankondiging kwaai gebokspring. 'n Tydperk van onstabiliteit lê voor. Kosvoorsiening en kospryse gaan in 2008 'n kwessie bly. Die wêreld se groot graanproduserende lande het in 2008 weer buitengewoon groot oeste nodig om die voorraadvlakke te stabiliseer. Hou hierby in gedagte dat die veranderende klimaat 'n stok in die wiel kan steek. Dit maak die onsekerheid soveel groter.
Verskeie lande het reeds maatreëls ingestel omdie prys van graan en oliesaad te bestuur. Argentinië het beperkte uitvoerpermitte op graan en oliesade,wat uitvoerders toelaat om sekere hoeveelhede graan in 'n sekere tyd uit te voer. Dit is 'n poging om pryse in bedwang te hou. China het uitvoerbeperkings en Rusland 'n uitvoertarief van 40% op koring ingestel.
Intussen het skeepsvragtariewe ook omtrent verdubbel.
Die voorraad het nie oornag opgedroog nie ? die dalende neiging is al die afgelope sowat tien jaar sigbaar. Dit is omdat die verbruik wêreldwyd vinniger as die produksie groei. Dit is die resultaat van bevolkingsgroei en ekonomiese groei waar stedelinge verwerkte voedsel benodig.Die bykomende vraag na biobrandstof het bygedra, maar is nie die hoofrede nie. Lande kyk na hernubare energiebronne omdat olieproduksie nie tred houmet die groei in verbruik nie. In hierdie verbandword baie syfers en teorieë rondgegooi, maar dit lyk na 'n uitgemaakte saak dat daar beswaarlik genoeg ru-olie vir die volgende honderd jaar oor is.
Die Amerikaanse departement van landbou het op 11 Januarie die wêreldvoorraad van koring (as persentasie van verbruik) vir 2007/?08 op sowat 18% geskat. Hierteenoor is die voorraadverhouding van mielies vanaf 14,2% in Desember 2007 tot 13,1%in Januarie verlaag. Dit is die laagste vlak in baie jare. Pryse op die internasionale mark het in die dae ná die aankondiging gestyg en in Suid- Afrika lekker gebokspring.
Ook in geval van oliesade is die voorraad onder druk. Grafiek 2 wys hoe die voorraad (as persentasie van verbruik) van sojabone, die volopste oliesaad ter wêreld, daal.
![]()
|
In werklikheid geld hierdie situasie die meeste akkerbouprodukte.
Kortom, graan en oliesade gaan aan die skaars kant bly en daarmee saamsal pryse nie sommer omswaai nie.
Die laaste paar jaar het Suid-Afrika ook nie juis sy mielievoorraad opgebou nie. Die mielievoorraad as persentasie van verbruik kan vanjaar wel effens verbeter, maar die weer sal moet saamspeel. Dele van die Vrystaat het waterbeperkings en in ander dele van die somersaaigebied versuip die mielies. Dit is nie 'n uitgemaakte saak dat vanjaar 'n bul van 'n mielieoes landwyd gaan lewer nie.
Grafiek 4 som die koringsituasie op.
![]()
|
Die feit is, Suid-Afrika sal vanjaar sowat 1,4 miljoen ton koringmoet invoer.Dit te midde van die krimpende voorraad en stygende pryse. Indien die meulenaars en bakkers die ware styging in koringpryse deurgee, sal Suid-Afrika se broodpryse waarskynlik heelwat anders lyk.
Die Suid-Afrikaanse Regering sal indringend moet kyk na sy landboubeleid.
Selfvoorsienendheid behoort die strewe te wees. Stygende invoer oor 'n lang tydperk is sekerlik 'n aanduiding van 'n gebrek iewers. Om nou die skuld op die boere te probeer plaas, of allerlei vreemde uitsprake oor die stygende broodprys te maak, gaan nie die situasie verbeter nie.
In die ontwikkelde lande is dit 'n gegewe dat stabiele landbouproduksie stabiliteit in die algemeen ondersteun. Daarby wil ek ook die huidige situasie in Suid-Afrika ten opsigte van kragvoorsiening noem. Aan die wortel van die probleem is nie die groeiende vraag nie, maar swak beplanning. Die groter vraag het tog nie oornag ontstaan nie.
Om die situasie om te swaai, is 'n ewewigtige beleid, doeltre.ende navorsing en moderne tegnologie nodig. 'n Ondersoek na die stygende broodprys en die 2 %-invoertarief grens aa die belaglikheid, want die werklike foute word oor die hoof gesien.
Opgesom: Daar is al hoe meer aanduiding dat die wêreldvoorraad van graan en oliesade in die afsienbare toekoms eerder gaan verswa as verbeter. Die jongste wêreldvoorraad-syfer het pryse 'n sterk hupstoot gegee. In Suid-Afrika gaan pryse internasionaal gekoppel bly omdat die land 'n invoerder geword het.
Landbouweekblad, 1 Februarie 2008