Talle boere in die somersaaigebiede glimlag oor die goeie vooruitsigte vir hul gewasse. Maar selfs al word uitstekende mielie- en sonneblomoeste vanjaar afgehaal, gaan dit nie die druk op die land se invoerbehoefte veel verlig nie.
Intussen is die wêreldvoorraad van graan steeds onder druk en het skeepsvervoer dramaties duurder geword. Produkte soos graan en oliekoek sal dus duur bly.
Die Nasionale Oesskattingskomitee het sy eerste voorlopige oppervlakteskatting ten opsigte van vanjaar se somergraangewasse bekend gemaak. Dit dui op beter vooruitsigte as in die vorige jaar. Dit is egter nie die hele prentjie nie.
Die oppervlakte onder somergewasse het met sowat 400 000 ha toegeneem teenoor die vorige, swak, jaar. In totaal het boere sowat 3,6 miljoen hektaar geplant in die huidige somerproduksiegleuf.
Met die skryf hiervan was die vooruitsigte op billike opbrengste goed, hoewel sommige kenners meen dat die betreklik koel en nat weer in dele van die binneland die moontlikheid van rekord-oeste ietwat verskraal.
Tog is daar boere in sekere gebiede wat meer as tien ton per hektaar (droëland) sal oes.
Intussen berig die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie dat Suider- Afrika vanjaar sowat R15,4 miljard aan die invoer van graan gaan bestee.Dié berekeninge dui op die invoer van net minder as 4,6 miljoen ton mielies, koring en rys na die streek. Terloops, daar is tekens dat Zimbabwe vanjaar weer 'n swak mielieoes gaan hê.
In Suid-Afrika behoort vanjaar se mielie- oes in die binnelandse behoefte te kan voorsien.Daar sal egter nie veel vir uitvoer wees nie. In die geval van sonneblomsaad, sojabone en koring bly Suid-Afrika 'n groot invoerder. Dit is ten opsigte van die graan én die verwerkte vorms daarvan. Selfs al kry boere 'n uitstekende oliesaadopbrengs sal invoer steeds nodig wees.
Intussen is die wêreldvoorraad van graan die kleinste in dekades en graan- en oliesaadpryse het nuwe hoogtepunte bereik. Dit lyk ook of die rekord-hoë graanen oliesaadpryse op die internasionale mark minstens die eerste helfte van vanjaar sal voortduur.
Ten opsigte van mielies is die wêreldvoorraad steeds die kleinste in sowat drie dekades. Selfs nadat die jongste oes in Amerika in ongeveer Oktober laas jaar ingesamel is, het pryse bly styg. Daar is nie veel hoop dat die voorraad noemenswaardig vergroot gaanword nie - minstens nie vanjaar nie - en die dollarpryse van mielies sal hoog bly.
Boere in die Noordelike Halfrond sal in die tweede helfte van vanjaar puik oeste moet afhaal om die voorraadvlakke te versterk en pryse noemenswaardig te laat daal.
Tabel 1 wys die graan- en oliesaadpryse op die wêreldmarkte in Januarie.
![]()
|
In die geval van koring is die wêreldvoorraad ook gevaarlik laag en het pryse skerp gestyg. Die droogte en swak oeste in Australië die afgelope twee jaar het daartoe bygedra. Kenners meen daar sal moontlik eers ná die einde van 2008 prysverligting kom.
Intusssen het Suid-Afrika koring nodig. Altesame sowat 1,4 miljoen ton sal vanjaar ingevoer moet word. Dit is feitlik onafwendbaar dat broodpryse nog sal styg, want die plaaslike koringprys volg die invoerprys - en die broodpryseweerspieël dit nog nie.
Dit is daar vir almal om te sien, maar die Regering en sy vakbond-lakeie wil ondersoek laat instel om te kyk wie verneuk die arm mense met die broodpryse.
Suid-Afrika se koringboere (veral dié in die Suide) waarsku nou al lank dat die Regering se gebrekkige beleid met die koringbedryf die land nog duur te staan gaan kom. Myns insiens moet 'n ondersoek by hierdie beleid begin.
Afhanklikheid van buitelandse voorrade is iets wat slegs tot onheil kan lei.
Honger mense op die vasteland van Afrika sal dit nou ernstig begin ervaar dat selfs voedselhulp deur die buiteland in die gedrang kom. Daar is net nie meer oorskotte wat weggegee kan word nie. Geldskenkings koop ook nou net soveel minder graan vir invoer.
Internasionaal het die pryse van oliesaad en oliesaadprodukte ook skerp gestyg. Oliekoek, waarvan Suid-Afrika elke jaar sowat 1 miljoen ton tot 1,2 miljoen ton invoer, se prys het op die internasionale markmet 72% gestyg.
Dit is onvermydelik dat die invoerpryse in Suid-Afrika vanjaar hoog gaan bly - selfs al sou die oeste aansienlik beter as dié van verlede jaar wees.
Kortom, internasionale pryse gaan nie juis daal in die volgende maande nie en voorraadvlakke gaan nie verbeter nie.
Suider-Afrika is 'n groot netto invoerder van graan. Die Landbou- en Voedselorganisasie het onlangs die invoerkoste van graan na Suider-Afrika ontleed en tot die gevolgtrekking gekom dat dit aansienlik duurder geword het om graan hier aan wal te bring. Nie net het graan duurder geword nie, maar skeepsvragtariewe het skerp gestyg. Hierdie tariewe het in werklikheid meer as verdubbel in die afgelope ongeveer 'n jaar. Vir die hele Suider-Afrikastreek word die invoerkoste van graan op sowat R15,4 miljard vir 2008/'09 geraam.
Dit gaan volgens die organisasie 'n baie swaar finansiële las op die streek plaas.
Die media berig dat die aanplantings van sekere gewasse vanjaar aansienlik beter is as laas jaar, gebaseer op die Oesskattingskomitee se eerste voorlopige syfers.
Dit wek die indruk dat daar groot oeste gaan wees en dat pryse skerp gaan daal. Hiervolgens is sowat 9,2% meer mielies as laas jaar geplant en kan daar selfs genoeg vir uitvoer wees.
Die feit is egter dat pryse aansienlik gestyg het, die nuwe oes se pryse gedaal het, maar dat dit basies reeds op uitvoerprysvlakke is.
Hierteenoor is die sonneblomaanplantings sowat 52% groter. Dit sal wel 'n heelwat groter oes lewer, maar Suid-Afrika sal steeds sonneblomolie invoer en die plaaslike pryse sal invoerpryse steeds weerspieel en hoog bly.
Suid-Afrikaanse boere het sowat 10% minder sojabone geplant. Maar as die opbrengs goed is, sal 'n bruikbare hoeveelheid sojabone gelewer word. Die land sal egter steeds sowat 1 miljoen ton oliekoek invoer.Nodeloos omte sê dat die oliekoekpryse die invoerpryse sal volg - en dus hoog sal bly.
In die geval van grondbone is die aanplantings 15%meer.Dit sal 'n effense beter uitvoervolume bied - en teen heelwat beter pryse. Boere het sowat 19%meer sorghum geplant, maar daar is nie juis sprake van 'n surplus nie. Dieselfde geld droëbone, waar aanplantings 9% kleiner is. Dit beteken dat Suid-Afrika net meer gaan invoer. Die kans op laer pryse is ook in hierdie geval maar skraal.
Die mediaberigte en gerugte dat 'n rekord- somergraanoes verwag kan word en dat pryse later in die jaar skerp kan daal, moet in perspektief gesien word. Graanboere moet die oes op die lande nie te gou verkoop nie. Daar is nog te veel onsekerheid en die wêreldpryse gaan hoog bly.
Hiermee saam het ons effens beter aanplantings, maar dit is nog nie 'n basis vir beduidende prysdalings nie. Mielie- en grondboonpryse is naby die uitvoerprysvlak en sal waarskynlik nie veel daal nie.
Ander gewasse is ook op die invoerprysvlak en sal waarskynlik daar bly, al is vanjaar se oeste beter.
Kortom, Suid-Afrika sal 'n invoerder van talle produkte bly en politieke kortsigtigheid sal die land al hoe meer kos.
Landbouweekblad, 8 Februarie 2008