Landbou
Dowry striem aksyns op wyn


'n Ontstoke mnr. Cobus Dowry, Wes-Kaapse Minister van Landbou, het hom sterk uitgelaat oor die jongste verhoging in aksyns op wyn en gesê hy wil Finansminister Trevor Manuel gaan spreek oor hierdie "onregverdige las" wat op wynboere geplaas word.

"Soos dit die gewoonte geword het oor die afgelope jare, het die Minister van Finansies dit pas weer goedgedink om die aksyns op natuurlike wyn te verhoog. As landbouminister in die Wes-Kaap is ek diep bekommerd oor hierdie voortslepende toenames, asook die las wat dit op Wes-Kaapse boere plaas, sonder dat hulle enige direkte voordeel daaruit put, " het Dowry in 'n sterk bewoorde persverklaring gesê.

Hy het die omvangryke veranderings uitgelig waaraan die landbousektor sedert die negentigerjare onderwerp is, o.m. politieke transformasie, die deregulering van die mark en blootstelling aan internasionale mededinging, en gesê die wynbedryf is een van die sektore wat daarin geslaag het om by hierdie veranderde omgewing aan te pas. Wynuitvoer het bv. van 1994 tot 2005 met 456% toegeneem, ondanks 'n versterking van die rand. Hierdie positiewe verwikkeling het in 'n groot mate vergoed vir 'n verlangsaming in plaaslike wynverkope.

"Dit lyk of die wynbedryf beskou word as ryp om gepluk te word deur middel van die sogenaamde sonde-belasting," sê Dowry. "In 2004 was die verhoging in aksyns op wyn byna 30%. Die gevolg hiervan was dat die Regering in 2005 R2,55 miljard uit wynverkope ontvang het, vergeleke met die R2,62 miljard wat produsente gekry het.

"Ons is dus naby 'n situasie waar die Regering 'n groter inkomste uit die wynbedryf kry as boere self!" Dowry het gevra wie die wenners en verloorders met hierdie belasting is, en toe gewys op bevindings van 'n navorsingsprojek wat in 2006 afgehandel is om te wys watter uitwerking die sondebelasting op die Wes-Kaapse ekonomie het.

Ter wille van eenvoud, het hy die gevolge van 'n 10%-verhoging in aksyns as volg uitgespel:

  • 'n Verlies van R107 miljoen in die BBP.
  • 'n Verlies van R99 miljoen in beleggings.
  • Altesame 7 489 werkgeleenthede sal vernietig word Die meerderheid hiervan sal halfgeskoolde werkers uit die die Wes-Kaapse bruin en Indiër-gemeenskap wees.
  • Uitvoer sal met 2% daal.
  • Die verbruikersprys van aartappels en groente, asook sagtevrugte sal met onderskeidelik 0,1 % en 0,14% toeneem.
  • Waardetoevoeging in die landbousektor sal met R65,9 miljoen afneem, en R969,9 miljoen laer wees in die nie-landbousektor.

    Dowry sê die invloed hiervan op veranderde verbruikersbesteding sal die ergste in swart huishoudings wees.

    "Natuurlik sal 7 489 mense nie hul werk verloor die dag nadat die Minister van Finansies 'n 10%-verhoging in aksyns aangekondig het nie. Dit sal egter die uitwerking oor langer termyn wees sodra die ekonomie weer sy ewewig bereik het."

    Daarby word hierdie uitwerking verdwerg deur ander veranderings, sê Dowry. Ondanks die negatiewe impak van stygende aksyns oor die afgelope paar jaar, is die wynbedryf steeds 'n sukses. Dit kon egter 'n baie groter sukses gewees het sonder die stygende aksyns.

    "Ek sal weer eens in gesprek tree met my kollega Lynne Brown in die provinsiale kabinet sodat ons met die Minister van Finansies kan vergader in 'n poging om hierdie onregverdige las te bespreek wat die Wes-Kaapse landbousektor moet dra, sonder dat hy beloon word vir sy bydrae," het Dowry gesê.

    21 Februarie 2008