Die jongste statistiek van die Departement van Landbou dui daarop dat die kommersiële landbou se geldsake verbeter. Wat die departement egter nie hardop sê nie is dat sake aan die in- en uitvoerkant nie te rooskleurig lyk nie.
Die pryse van 'n hele aantal landbouprodukte lyk aansienlik beter as 'n jaar of wat gelede. Aan die ander kant het produksiekoste en die rentekoers aansienlik gestyg.
Die landbou se skuldvlakke het gegroei, terwyl die invoer van landbouprodukte gelyk is aan die uitvoerverdienste. Dit was die situasie in 2006/'07, maar die neiging duur voort en ek is redelik seker dat die invoer van landbouprodukte in 2007/'08 groter gaan wees as die uitvoer.
Volgens die inligting in die Kortbegrip van Landboustatistiek is dit die eerste keer sedert 1965, toe die statistiek die eerste keer gepubliseer is, dat Suid-Afrika sy status as 'n produsent van surpluslandbouprodukte verloor.
Dit is na my mening 'n klinkklare bewys dat die Regering se landboubeleid misluk het. Dit is die arm mense wat vir die gelag betaal. Die verswakking in die waarde van die rand in die eerste twee maande van 2008 gaan voedselpryse en invoerkoste verder opjaag.
Daar is duidelike tekens dat die gewone mense dit begin raaksien. Die gebeure met die ANC se leierskapverkiesing in Polokwane in Desember laas jaar was 'n goeie aanduiding daarvan. Dit is duidelik dat daar 'n groot deel van die bevolking is wat meen dat pres. Thabo Mbeki se bestuur van die landsake nie op standaard is nie.
Suid-Afrika se landboubeleid moet indringend hersien word. Die klem sal moet val op genoeg kos, teen billike pryse, vir die breë bevolking. Invoer is nie die antwoord nie - die betalingsbalans wys dit.
Die georganiseerde landbou bly hamer op die landboustrategiedokument en hierdie dokument gaan blykbaar nou hersien word. Dit is egter nie die regte benadering nie - dit is teen hierdie tyd duidelik dat dit nie werk nie.
Dit is tyd dat die publiek ingelig word dat die Regering se landbou- en voedselbeleid misluk het. Die kommersiële landbou se bydrae tot welvaart moet deur ál die inwoners van die land raakgesien word.
'n Doeltreffende kommunikasieveldtog is noodsaaklik. Dit sal nie help om die feite in die Afrikaanse nuusmedia te publiseer nie. Groot advertensieveldtogte in die swart nuusmedia sal die regte tegniek wees.
Besonderhede van hoe die swak landboubeleid die gewone mense se lewe moeilik maak, moet duidelik uitgestippel word.
Daarby moet die kommersiële landbou se bydrae tot die welvaart van die land verduidelik word.
Ek hoop nie die georganiseerde landbou is bang om die Regering kwaad te maak nie. Sou dit só wees, sal die landbou die skurk in die verhaal bly.
Die leier van 'n bedryfsorganisasie meen dat die kommersiële landbou deur sy bedrywe en ander organisasies sowat R500 miljoen per jaar tot ontwikkelingsprojekte vir opkomende boere bydra. Dit is mos 'n feit wat van die dakke af verkondig behoort te word.
Daar is al hoe meer geluide dat die nuwe ANC-topbestuur die dilemma verstaan en dat hulle op 'n benadering wil fokus waar kennis en diens die uitgangspunt sal wees.
Ek dink hier is 'n geleentheid wat aangegryp moet word. Die landbou sal nie gou weer só 'n kans kry om die nuwe leiersgroep te beïnvloed en om begrip te kweek vir die werklikhede en eise van die landbou nie.
Maar terug na die syfers. Die pryse van die meeste landbouprodukte, veral akkerbouprodukte, het op produsentevlak in die jaar 2006/'07 heelwat gestyg teenoor die pryse in die vorige jaar. Akkerbouprodusentepryse was 42,6% hoër en dié van die veebedrywe 16,3%, maar die tuinboubedrywe, veral vrugte en wyn, het nog gesukkel met slegs 5,1%.
In die geval van akkerbou het nie alle boere die voordeel van hoër pryse gehad nie. Talle saaiboere in die somerreëngebied het misoeste gehad. Hierteenoor was die pryse van produksiemiddele vir die jaar sowat 6,5% hoër as in die vorige jaar.
Sedertdien het die prentjie drasties verander en akkerbouers se produksiemiddele het reeds met 30% tot 40% duurder geword as wat dit in die vorige produksietyd was.
Voerkoste het nog skerper gestyg en boere wat intensief met vee boer, kry swaar. Vrugteboere, veral dié met 'n uitvoerkomponent, ly verliese weens die kragonderbrekings. Talle ander boere wat ook swaar op elektrisiteit steun, se produksieproses word in die wiele gery.
Dit alles beteken dat die beter pryse wat behaal word, nie noodwendig 'n beter inkomste lewer nie.
Vee is die grootste bedryf in Suid Afrika as gekyk word na die bruto inkomste wat in grafiek 2 getoon word. Dit is die inkom- ste vir 2006/'07. Akkerboubedrywe sak stelselmatig terug en is nou omtrent net so groot soos die tuinboubedryf. Vanjaar se beter oeste en beter pryse sal hierdie neiging dalk tydelik omkeer.
![]()
|
Die kommersiële landbou se netto inkomste het in 2006/'07 heelwat verbeter ná die laagtepunt van die vorige jaar. Die netto inkomste vir 2006/'07word geraam op R26,48 miljard, wat omtrent 'n verdubbeling is teenoor die vorige jaar se laagtepunt. Die netto wins as persentasie van die bruto inkomste is nou eers terug op die vlak van die laat 1990's en in reële terme is dit steeds laer.
Skuldvlakke bly styg. Suid-Afrika se landbouskuld is op sowat R39,2 miljard vir Junie 2007 geraam. Dit is nou beslis meer as R40 miljard. Die waarde van die bates in die landbou het ook aansienlik toegeneem - met die gevolg dat die skuldlasverhouding verbeter het tot onder 24%.
Hierdie verbetering moet in perspektief gesien word. Die norm is dat die skuldlas in die landbou nie meer as 20% tot 25% op die makrovlak moet wees nie. Dit beteken dat daar bedrywe en gebiede is waar die skuldlasverhouding hoër is. Die skuldlasverhouding moet ook gesien word teen die agtergrond van die aansienlike styging in rentekoerse in die tweede helfte van 2007.
Rentebetalings is op sowat R4 miljard geraam. Dit sal vanjaar tot by die R5 miljard toeneem as gevolg van die hoër rentekoerse.
Tradisioneel is na Suid-Afrika se landbou verwys as 'n netto verdiener van buitelandse valuta vir die land. Suid-Afrika was tradisioneel een van sowat sewe lande ter wêreld wat netto uitvoerders van landbouprodukte was. Die situasie het stelselmatig verander en in die jaar 2006/'07 is R24,1 miljard se landbouprodukte ingevoer en R24,7 miljard se produkte uitgevoer. Die aansienlike toename in die invoer van graan en oliesade in 2007/'08 sal die balans namymening benadeel.
Die werklikheid is dat Suid-Afrika nie meer 'n netto uitvoerder van landbouprodukte is nie. Dit is ook bekend dat Suid-Afrika vanjaar afstuur op 'n ernstige tekort aan buitelandse valuta. Daar word gepraat van R150 miljard en meer.
Opgesom: Die jongste statistiek oor boere se geldsake toon dat dit goed gaan. Maar dit verbloem ernstige gebreke in Suid-Afrika se landboubeleid - sake wat eenvoudig aandag móét kry.
Landbouweekblad, 29 Februarie 2008