Landbou
Landbou skaars in begroting genoem
Deur JOHAN WILLEMSE

Die Minister van Finansies het baie lof gekry ná sy jongste Begroting. Dit is sonder twyfel merkwaardig om in die huidige toestande met 'n surplusbegroting vorendag te kom. Die aansienlik groter bedrag wat aan maatskaplike toelaes bestee gaan word, is voordelig vir die landbou, maar dit dui op 'n onderliggend sosialistiese neiging.

Suid-Afrika se staatskuld het die afgelope jare heelwat gedaal. Dit stel die land in staat om die ongunstige toestande in die wêreld se onstabiele finansmarkte beter die hoof te bied. Daarvoor, en vir die feit dat die Begroting nou al die afgelope paar jaar 'n surplus toon, moet mnr. Trevor Manuel, die Minister van Finansies, beslis erkenning kry.

Manuel het in sy Begrotingsrede gesê dat die Suid-Afrikaanse ekonomie kwesbaar is weens die groot tekort op die lopende rekening en die gevaar dat buitelanders maklik hul geld kan wegneem. Om die probleem die hoof te bied, moet Suid-Afrika aanhou om in ekonomiese groei te belê om uitvoer te verhoog. Daarvoor moet binnelandse besparing vergroot word om in produksievermoë te belê.

Deur 'n surplus op die Begroting te handhaaf, onttrek die Regering minder geld uit die ekonomie deur middel van lenings wat meer kapitaal beskikbaar stel om beleggings (soos Eskom en Transnet se kapitaalbehoeftes asook dié van die private sektor) te finansier.

Tog het die saak ook 'n ander kant. Dit is die onderliggende sosialistiese neiging in die denke van die regerende party en sy amptenare. Dit gaan daaroor dat die staat al hoe meer hulpbronne aan die produktiewe sektor onttrek en staatsamptenare wat toegelaat word om dit minder produktief te bestee. Intussen word die belastinglas al hoe groter en al hoe meer mense raak afhanklik van staatstoelaes. Dit is reeds sowat 'n kwart van die bevolking.

Die belastingtoegewings,wat in werklikheid maar min is, trek gewoonlik heelwat aandag, maar intussen word die tabak- en wynprodusente al hoe meer belas.

Vir die landbou is daar voordeel in die verhoging van die maatskaplike toelaes. Die R12,5 miljard wat oor die volgende drie jaar bykomend daaraan bestee gaan word, beteken dat die arm deel van die bevolking se besteevermoë verbeter en dat van hierdie geld aan basiese voedselprodukte bestee sal word. Sowat 12,4 miljoen mense gaan in die komende boekjaar deur die Regering se besteding van R73,5 miljard aan maatskaplike dienste bevoordeel word.

In die Begroting word baie geld ook afgestaan aan onderwys en gesondheid. Besteding aan beskermingsdienste, die polisie en howe groei ook, maar is nog betreklik klein in verhouding tot maatskaplike uitgawes.

Dit is opvallend dat die uitgawes aan ekonomiese sake in verhouding klein is. Dit wys waar die Regering se fokus is. Die landbou is sonder twyfel nie hoog op die Regering se lys van voorrangsake nie en bowendien gaan die grootste deel van die geld wat aan die landbou afgestaan word aan grondhervorming en opkomende boere. Die Begroting bied bitter min vir die kommersiële landbou. Die woordvoerder van een van die politieke partye het gesê dit lyk asof die begroting vir die landbou bloot saam met inflasie aangepas word.

Grondhervormingstoelaes word vanaf R504 miljoen verhoog tot R1,7 miljard. Dit is meer as 200% meer. Daarenteen word die besteding aan navorsing (die Landbounavorsingsraad) vanaf R801 miljoen tot R777 miljoen ingekort.

Ons weet almal dat die staatsbesteding in baie gevalle onproduktief is en dat daar baie vermorsing en diefstal plaasvind. Daarby is dit algemene kennis dat baie geld nie bestee kan word nie vanweë swak administrasie en 'n tekort aan opgeleide personeel. Sowat R632 miljard rand word nie optimaal in die ekonomie aangewend nie.

Grafiek 1 wys hoe die belastinglas al hoe groter word. Belasting as persentasie van die ekonomie het die afgelope vyf jaar stadig maar seker toegeneem. Die belastings wat deur die staat gehef word, is gelykstaande aan 28,4% van die waarde van die ekonomie (meer bepaald die bruto binnelandse produk).

In die nuwe belastingjaar gaan die staat se belastinginkomste met effens meer as 12% groei. Intussen is die inflasiekoers sowat 7%.

Die staat se inkomste vir 2008/'09 word op ongeveer R650 miljard geraam. Dit is sowat vier keer die produksiewaarde van Suid-Afrika se landbou. Dit gee 'n idee van hoe groot die rol van die staat is. Iets om in gedagte te hou, is dat die staat nie op die oomblik geld leen nie, sy geld kom dus uit mense en besighede se verdienste.

Gelukkig is daar 'n groeiende surplus op die begroting wat sowat 1% van die bruto binnelandse produk is.

Die laaste vyf jaar het die staatskuld heelwat afgeneem en die rente op staatskuld is tans sowat 7,7% van die uitgawes. Dit is 'n gunstige ontwikkeling en sal die minister in staat stel om in moeilike tye geld te leen en die staatsinkomste te stut, veral namate die internasionale ekonomiese omgewing ongunstiger en onstabieler raak.

Individue en besighede is steeds die grootste regstreekse belastingbetalers. Die aantal belastingbetalers het die laaste paar jaar heelwat toegeneem nadat die Ontvanger 'n ernstige poging aangewend het om mense op te spoor en belasting te laat betaal.

Individue dra steeds die meeste by tot die staatskas. Dit is ook die bron wat die vinnigste groei. Na verwagting sal dit in die nuwe belastingjaar met bykans 19% groei. Belasting op eiendom neem ook betreklik vinnig toe - dit is sowat 22%. Dit is nie munisipale belasting op eiendom nie, maar slegs die belasting wat aan die sentrale regering betaal word.

BTW is 'n belangrike bron van belasting, maar die belangrikheid daarvan is aan die afneem namate die belasting op inkomste en winste toeneem. Na raming sal die inkomste uit BTW vanjaar slegs met sowat 9,7% groei.

As aanvaar word dat die Regering 'n sosialistiese neiging het, moet ons ook aanvaar dat hy sou verkies dat mense wat geld verdien, regstreeks belas word. BTW beteken dat 'n belastinglas ook op arm mense geplaas word.

Daar was 'n hele aantal kleiner belastingtoegewings, soos die skaalaanpassings om vir inflasie voorsiening te maak en 'n effense verligting op rentebelasting. Die toegewing dat 'n onderneming met 'n omset van minder as R1 miljoen nie vir BTW hoef te registreer nie, sal die administratiewe las verminder. Daar is ook 'n voorstel dat sekere belastingtoegewings vir natuurbewaring gedoen word.

Maatskappybelasting is effens verlaag, maar terselfdertyd word sekere private maatskappye se belastingkoers verhoog tot 40% om dit in ooreenstemming te bring met individue se top-belastingkoers. Dit lyk of die minister familiemaatskappye in gedagte het, wat die landbou sal benadeel. ('n Goeie rekenmeester raak al hoe belangriker as lid van 'n boer se span adviseurs).

Opgesom: Dit lyk asof die meeste ontleders saamstem dat die minister oor die afgelope paar jaar goed gevaar het en dat die afgelope Begroting dit weerspieël. Tog het die afgelope Begroting ook gewys dat die landbou, en veral die kommersiële landbou, aan die agterspeen suig. Daarby is dit kommerwekkend dat die staat se rol in die ekonomie al hoe groter raak.

Landbouweekblad, 7 Maart 2008