Landbou
Regering moet kophou oor agri-inflasie
Deur AMELIA GENIS (agenis@landbou.com)

Die bydrae wat die volgehoue styging in landbouprodukpryse tot verbruikersinflasie lewer, laat die Regering met nuwe oë na die landbou kyk. Ekonome waarsku dat die Regering die versoeking moet weerstaan om met die werking van die markekonomie in te meng om inflasie te probeer bekamp.

Die wêreld het verlede jaar 'n nuwe woord gekry - "agri-inflasie" oftewel landbouprys-inflasie - én met kommer toegekyk hoe haas ongekende toenames in die prys van veral grane en oliesade voedselpryse laat styg en styg het.

Hoë landbouprys-inflasie is nie 'n nuwe verskynsel nie, maar in Suid-Afrika, waar voedsel 'n gewig van gemiddeld 25% in die inflasiemandjie het (by die laagste inkomstegroepe meer as 50%), kan dit as die grootste dryfveer van inflasie beskou word.

Ekonome is besorg daaroor dat feitlik elke land in die wêreld daaronder gebuk gaan.

"Dit is 'n internasionale verskynsel," sê mnr. Jac Laubscher, groepekonoom van Sanlam. "Daar is omtrent nie 'n land in die wêreld wat nie druk op voedselpryse ondervind nie."

Prof. André Roux, direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch, sê agri-inflasie is op sy eie dalk nie so 'n groot faktor nie, maar saam met hoë brandstofpryse, 'n hoë rentekoers, die onlangse verswakking van die rand en die feit dat die wêreld besig is om in resessie te gaan, is die uitwerking op verbruikers fel.

Ekonome, soos Laubscher, mnr. Dennis Dykes, hoofekonoom van Nedbank, en dr. Kobus Laubscher, hoofbestuurder van Graan SA, meen egter die hoë en stygende prys van voedsel is 'n regstelling of normalisering. Jac Laubscher sê met die groter vraag na graan vir biobrandstof en dierevoer was daar 'n strukturele aanpassing in die mark, wat prysstygings tot gevolg het. "Beleidmakers moet dit nie probeer keer nie, anders gaan hulle nie die gewenste reaksie aan die aanbodkant kry nie."

Dykes meen eweneens dat 'n regstelling in die prys van landbouprodukte plaasvind, hoofsaaklik weens die groter regstreekse en onregstreekse vraag na graan by welvarender mense in China en Indië asook die droogte in Australië,wat die aanbod verklein.

Landbouprys-inflasie het wenners en verloorders. Verbruikers, veral die armes, is die verloorders, maar boere in Suid-Afrika en die res van Afrika wen deurdat hulle hoër pryse vir hul produkte kry, sê Dykes. "Landbou is 'n gebied waar Afrika goed Kan meeding en hulpbronne doeltreffender benut."

Sonder om van 'n gebrek aan simpatie met arm mense beskuldig te word, sê Kobus Laubscher Suid-Afrika se probleem met landboupryse was jare lank 'n geval van onderverbruik eerder as 'n ooraanbod. "Kos was te lank te goedkoop. Mense het te min betaal vir kos en ons het gesubsidieerde produkte ingevoer. Dit het die Regering lank die indruk gegee dat dit goedkoop is om kos liewer in te voer."

Volgens die klassieke vraagteorie koop verbruikers minder van 'n produk as dit duurder raak. Maar die elastisiteit van die vraag na kos, met ander woorde verbruikers se reaksie op hoër kospryse, is volgens Jac Laubscher baie laag.

"Ja, verbruikers sal dalk hul biefstuktande trek en liewer hoender koop of binne 'n kategorie van voedsel na goedkoper produkte oorslaan, maar hulle gaan nie ophou kos koop nie. Dit kan wel gebeur dat hulle meer geld op kos uitgee en minder geld vir ander tipe produkte het."

Ekonome stem saam dat daar geen kitsoplossings is nie. Enersyds meen mnr. Hugo Pienaar, ekonoom by die Buro vir Ekonomiese Ondersoek, dat die Regering alles in sy vermoë moet doen om ekonomiese groei te bevorder en uiteindelik mense deur werkskepping en indiensneming in staat moet stel om die hoër pryse te betaal. Die meeste ekonome meen egter die Regering kan dalk die armstes help.

Om kospryse vas te stel, sal nie baie wys wees nie. 'n Mens hoef nie verder as Zimbabwe te kyk omte besef hoe rampspoedig só 'n beleid kan wees nie. "Die mark moet vraag en aanbod en pryse uitsorteer. Die versoeking is groot, maar ons moenie aan pryse peuter nie," sê Jac Laubscher. "Die winkelrakke raak gou leeg omdat vasgestelde pryse nie 'n aansporing gee om meer te produseer nie."

Hy sê dit is beter om maatskaplike toelaes, soos ouderdomspensioen en kindertoelaes, te verhoog en groter geldelike steun aan skoolvoedingskemas te gee. "Gefokusde ingryping, soortgelyk aan die Amerikaanse stelsel van voedselkoepons, is ook in beginsel nie 'n slegte idee nie, maar dit skep ruimte vir korrupsie."

Nóg 'n voorstander van hulp aan die armstes is prof. André Jooste, senior bestuurder by die Nasionale Landboubemarkingsraad. Hy sê die Regering kan gerus meer doen om arm mense op volhoubare maniere te ondersteun. Die Regering kan stedelike armes byvoorbeeld help om kostuine te maak en bestaansboere help om meer op hul stukkies grond te produseer.

Die meeste van die ekonome wat Landbouweekblad geraadpleeg het, meen die enigste ander gebied waar optrede van die Regering 'n verskil kan maak, is om 'n omgewing te skep waarin dit vir boere winsgewend is om meer te produseer. Nie een van die ekonome staan regstreekse subsidies of beheerde bemarking voor nie, maar eerder 'n reeks maatreëls wat boere in staat sal stel om met 'n groter aanbod te reageer.

"Die Regering behoort enige belemmering op die aanbod, soos die onsekerheid wat grondhervorming wek, uit die weg te ruim. Grondhervorming moet gebruik word om lewensvatbare kommersiële boerderye te vestig en nie die landbou aftakel nie," sê Jac Laubscher.

Dykes meen daar is baie wat die Regering kan doen sonder om eens sy beleid te verander. "Die Regering moet regulatoriese sekerheid verseker en meer bewus word van die bydrae wat die landbou lewer. Hy moet die voorsiening van infrastruktuur moontlik maak. Verder moet hy toon dat hy begrip vir die struikelblokke in die sektor het en konsekwent en simpatiek met die landbou handel.

"Die Regering gee byvoorbeeld nie duidelike aanduidings oor sy planne met grondhervorming nie. Die retoriek en gebrek aan optrede veroorsaak onsekerheid. "My persoonlike indruk is dat boere verward is oor waarheen die Regering op pad is. Dié onsekerheid behoort verminder te word," sê Dykes.

Kobus Laubscher sê die graanbedryf is meer bekommerd oor produksie-inflasie, veral stygings in die prys van olie en kunsmis. "Ons is besorg oor die disfunksionaliteit in die spoorweë en padvervoer asook rompslomp, wat as hoër pryse aan kopers deurgegee word. Dit is koste wat in die stelsel ingebou word en wat produsente nie verdien nie."

Hy sê aangesien boere prysnemers is wat nie stygings in die prys van produksiemiddele na iemand anders kan afwentel nie, moet na ander maniere gekyk word om hul winsgewendheid te verseker. Navorsing is een faktor.

Die Regering behoort ook plaaslike bedrywe te beskerm. Hy moet nie toelaat dat goedere wat nie die markprys weerspieël nie, die land binnekom en die beleggings benadeel wat nou gemaak word om die aanbod op die lang duur te verhoog nie. Daarby behoort die Regering toe te sien dat vryemarkbeginsels regdeur die ekonomie geld, sê Kobus Laubscher.

Teen druktyd het die Regering nie nuwe beleidsmaatreëls aangekondig nie.

Pryse kan nog lank styg
Mense, diere én voertuie ding deesdae om landbouprodukte, soos kleingraan, mielies en oliesade, mee. Die verhoogde vraag na grane en oliesade vir menslike gebruik, dierevoer en die vervaardiging van biobrandstof het voedselpryse ten spyte van groter oeste die hoogte ingestuur.

Volgens 'n verslag wat die internasionale beleggingsmaatskappy Merrill Lynch in Januarie uitgereik het, is stygende landbouprodukpryse en gevolglik agri-inflasie 'n wêreldwye verskynsel wat algemene inflasieverwagtinge verander. Die verwagte verlangsaming in ekonomiese groei later vanjaar kan wel landbouprysverhogings rem, maar Merrill Lynch is daarvan oortuig dat agri-inflasie verbruikers en beleidmakers nog lank gaan pla.

Ondanks die Suid-Afrikaanse Reserwebank se mandaat om 'n inflasiekoers van 3% tot 6% te handhaaf deur die rentekoers te verhoog wanneer die inflasiekoers hoër as 6% is, het verbruikersprysinflasie in Suid-Afrika tot 8,6% in Desember gestyg, hoofsaaklik weens die petrolprys wat 23,8% hoër was as in Desember 2006 en voedselpryse wat met 13,9% gestyg het.

Die Reserwebank se doelwit is om die Suid-Afrikaanse geldeenheid tot voordeel van volhoubare ekonomiese groei en ontwikkeling te beskerm en om prysstabiliteit te handhaaf. Stabiele pryse beteken dat inflasie in toom gehou moet word. Dit word gedoen deur die rentekoers aan te pas. Dit kan egter ses maande tot 12 maande duur voordat rentekoersaanpassings se uitwerking in die ekonomie weerspieël word.

Prof. André Roux, direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch, sê wanneer faktore buite die Reserwebank se beheer - soos die olieprys of internasionale graanpryse - pryse in Suid-Afrika laat styg, het die bank 'n "ontsnapklousule" waarvolgens inflasie toegelaat kan word om buite die teiken van 3% tot 6% te beweeg. Ten spyte van 'n verbruikersprysinflasiekoers van 8,6% het die Reserwebank die rentekoers einde Januarie onveranderd gelaat.

Hoë landbouprys-inflasie is nie 'n rare verskynsel in Suid-Afrika nie. Trouens, prof. André Jooste, senior bestuurder by die Nasionale Landboubemarkingsraad, en mnr. Dennis Dykes, hoofekonoom van Nedbank, wys daarop dat landbouprys-in.asie in 1992, 1994 en 2002 selfs hoër was. Toe was daar nie inmenging nie en het die mark self "regstellings" gemaak.

  • Bykomende bronne: www.statssa.gov.za en www.polity.org.za.

    Landbouweekblad, 7 Maart 2008