Die res van vanjaar gaan vir talle vee- en vleisprodusente, veral die wat intensief boer, 'n tameletjie wees. Boere sal nog heelwat aanpassings moet doen voordat hulle kans sal kry om asem te skep. Die huidige onstabiliteit in die wêreld se finansiële markte en heelwat probleme in Amerika se ekonomie skep nie juis vertroue onder verbruikers wêreldwyd nie.
In Suid-Afrika heers groot pessimisme oor die landsekonomie en vooruitsigte ten opsigte van verbruikers se besteebare inkomste.
Dinge soos Eskom se onvermoë om genoeg en standhoudende elektrisiteit te lewer asook gebreke in die Regering se beleid ten opsigte van kernsake, soos die landbou, sal die ekonomie verder ondermyn.
Voerkoste bly styg. Die Februarie-droogte in dele van Suid-Afrika het die mielie- en ander graanoeste geknou. Boere moet dus nie in die komende paar maande 'n daling in voerkoste verwag nie.
Veral in die intensiewe veebedrywe is die boerderymarges en kontantvloei onder groot druk. In hierdie bedrywe vorm die voerkoste sowat 60% van die produksiekoste en het die pryse van mielies en proteienmeel in die afgelope ses maande onderskeidelik met 45% en 65% gestyg.
Vleispryse hou nog, maar daar is aanduidings dat verwerkers sukkel om hul vleisvoorraad verskuif te kry. Dit verskraal natuurlik die kans op prysstygings.
Daar is 'n sterk verwantskap tussen ekonomiese groei en die prys van vleis, veral beesvleis. In die verlede was daar altyd 'n duidelike korrelasie tussen 'n ekonomiese groeifase en beesvleisprysstygings. In die afgelope paar jaar het die Suid-Afrikaanse ekonomie redelik sterk gegroei. Verbruikersbesteding het met tot 8% per jaar gegroei (ná inflasie). Hierdie verwantskap is duidelik in grafiek 1.
![]()
|
Aan die voordeelkant is daar aanduidings dat Suid-Afrika se bees- en skaapboere hul kuddes vergroot en dat die weiding in groot dele van die land goed is. Die swakkerige 2007 het ook tot gevolg gehad dat koeibesetting swakker as gewoonlik was - wat minder as die gewone getal speenkalwers tot gevolg het.
Suid-Afrika voer vleis in om die plaaslike produksie aan te vul. Altesame 22 000 ton beesvleis, 30 000 skaapvleis, 30 000 ton varkvleis en 1 miljoen ton hoendervleis word elke jaar ingevoer. Die invoerpryse het die laaste paar maande skerp gestyg weens die rand se verswakking teen die Amerikaanse dollar, die euro en selfs die Australiese dollar.
ES Daar is aanduidings dat pryse wêreldwyd aan die styg is weens die sterk kostedruk van die duurder voer. Ons kan dus aflei dat invoerpryse in Suid-Afrika sal styg - iets wat 'n bietjie ruimte sal skep vir binnelandse prysstygings.
Terloops, daar is al hoemeer berigte wat daarop dui dat die vleisvoorraad stadiger van die hand gesit word. Dit lyk asof die vleisvoorraad in die koelkamers ophoop. Hierdie verskynsel kan aan die verbruikers se swakker besteevermoë toegeskryf word. Die voortdurende en betreklik groot styging in voerkoste is besig om die winsmarges van voerkrale en ander intensiewe veeboere onder groot druk te plaas. Die kans dat mieliepryse gaan daal, is uiters skraal. Dieselfde geld oliekoek en vismeel.
My voorspelling is dat die pryse in die res van vanjaar hoog sal bly. Indien intensiewe veeboere dit nie regkry om prysstygings deur te gee nie, gaan hul wins en kontantvloei onder groot druk bly. In hierdie verband moet ek herhaal dat dit moeilik sal wees om prysstygings deur te gee, aangesien verbruikers ook onder druk is.
Van die kleiner ondernemings het die bedryf reeds verlaat en heelwat kommer heers oor die voortbestaan van talle ander. Boere sal hul doeltreffendheid selfs verder moet opknap terwyl hulle ook moet let op skaalvoordele.
Ek kry die indruk dat 'n moeilike winter vir die intensiewe veeboere voorlê en dat radikale aanpassings voor die deur is. Van die kleiner voerkrale het reeds opgehou om speenkalwers by te koop.
'n Onafhanklike voerkraal wat nie sy eie voer produseer en sy eie verwerkings- en bemarkingsgeriewe het nie sal moeilik sy boeke laat klop. Daar is selfs boere wat meen dat die aandeel van die voerkrale gaan afneem en dat plaasafronding 'n groter rol gaan speel. Daar is ook 'n siening dat dit boere se raskeuse al hoe meer gaan beï nvloed omdat nie alle rasse ewe geskik vir afronding op die plaas is nie.
Daar is bykans geen kans dat speenkalfpryse in die volgende paar maande gaan styg nie - dit kan selfs effens daal.
In die geval van skaapvleis is die vooruitsigte effens beter. Die aanbod sal effens verbeter as gevolg van die goeie weidings. Die pryse van ingevoerde vleis het skerp gestyg. Australiese lamsvleis by die Durban-hawe gelewer, is volgens my berekeninge nou duurder as die plaaslike prys. Dit is weens prysstygings in Australië ná die kwaai droogte daar asook die invloed van die swakker rand.
Wolpryse het bykans verdubbel in die afgelope jaar of twee en dit is beslis lonend om met skape te boer. Intussen word al hoe meer produksiemetodes ontwikkel om intensiewer met skape in die droër streke te boer waar besproeide weiding beskikbaar is.
Vark- en hoenderboere trek noustrop. Varkvleispryse het in die jongste verlede effens gestyg, maar nie genoeg om te vergoed vir voerkostestygings nie. Daar is ook gerugte dat koelkamers al voller raak en dat 'n bottelnek aan die ontwikkel is. Gelukkig het ingevoerde produkte duurder geword.
In hierdie verband moet ek byvoeg dat die verwerkingsbedrywe meestal in 'n beter posisie is om kostestygings deur te gee.
Hoenderboere sukkel en pryse het tot onlangs gedaal weens opgehoopte voorraad na die Kerstyd. Hierdie voorraad word nou weggewerk, maar pryse het nog nie verbeter nie. Hierdie boere se kontantvloei is onder redelike druk en van die kleiner boere sal hul besigheid in die volgende paar maande verder verklein.
Die aanduidings is dat die verbruiker se besteebare inkomste minstens in die eerste deel van die jaar onder heelwat druk gaan bly. Dit sal die vraag na vleis demp en die kans op prysstygings beperk. Voermarges bestaan basies nie in die intensiewe bedrywe nie en ek voorspel al hoe meer aanpassings ter wille van oorlewing.
Tog is daar aanduidings dat 'n opswaaifase moontlik laat in 2008 en in 2009 prysvooruitsigte en marges sal verbeter. Intussen gaan ons knor om die wa deur die drif te kry . . .
Landbouweekblad, 4 April 2008