Tradisionele gemeenskappe gaan betrek word by die Verenigde Nasies (VN) se multimiljoenrand-projek om verwoestyning in Afrika suid van die Sahara hok te slaan.
Die VN se Desert Margins Programme (DMP) is 'n projek van R500 miljoen om verwoestyning en die herstel van weiveld in nege lande suid van die Sahara te ondersoek en te bestuur.
Altesame R10 miljoen is aan Suid-Afrika bewillig, wat oor die volgende ses jaar betaal sal word. Die projek in Suid-Afrika sal deur die Potchefstroomse Universiteit onder leiding van prof. Klaus Kellner aangepak word.
Die ander Afrika-lande wat by die projek betrokke is, is Namibië, Zimbabwe, Botswana, Burkina Faso, Kenia, Mali, Niger en Senegal.
Die DMP-projek is met die samewerking van ál dié lande opgestel om samewerking tussen die lande te bevorder in 'n poging om te bepaal wat die veld laat agteruitgaan en om oplossings te vind. Weiveld gaan gewoonlik agteruit in dele van 'n land waar die bevolking baie arm is.
Groeiende bevolkingsgetalle vererger die probleme.
Een van die doelwitte is om alternatiewe inkomstebronne vir boerdery vir die arm bevolkingsgroepe te ondersoek en om sodoende die druk op die natuurlike hulpbronne te verminder. "Hulle moet nie net van die weiveld afhanklik wees vir kos vir hul diere nie. Daarom is dit belangrik dat inheemse en tradisionele kundigheid ingespan word om alternatiewe bronne van inkomste te ondersoek sodat hul lewenstandaard verbeter kan word."
Die projek sal fokus op die oorsake van agteruitgang, veral die weiveld, en prosesse wat tot verwoestyning lei. Van die bedrywighede wat oor die volgende ses jaar deur verskillende navorsings-, akademiese, regerings- en nie-regeringsorganisasies uitgevoer gaan word, sluit onder meer in:
Die rehabilitasie van versteurde en gedegradeerde gebiede.
Die opbou en verbetering van die vermoë van grondgebruikers en personeel van die instansies wat betrokke is.
Ekologiese monitering en evaluering.
Metodes om die gebruik van die grond te verbeter sodat dit nie verder agteruitgaan nie.
Die projek in Suid-Afrika sal slegs in die provinsies Noordwes en Noord-Kaap uitgevoer word omdat dié provinsies uit groot dele ariede en semi-woestyngebiede bestaan. Dié provinsies grens ook aan Botswana en Namibië, wat samewerking met dié lande vergemaklik.
Die internasionale organisasie Global Environmental Facility (GEF) is die hooffinansier van die projek in Afrika. Die Potchefstroomse Universiteit is sedert 1996 besig met navorsing oor die redding van weiveld.
Volgens die VN is 66 % van Afrika as woestyn en semi-woestyn geklassifiseer. Die plaaslike gemeenskappe het egter oor duisende jare geleer om in harmonie met die natuur in hierdie gebiede te oorleef. Daarom word plaaslike gemeenskappe by die navorsingsprojek betrek vanweë hul kennis van die gebied.
Prof. Kellner sal meer besonderhede verskaf. Sy foonnommer is 018 299 2510.17 Januarie 2003