Landbou
Swak beplanning maak dreinering duur
Charl van Rooyen

Boere moet eers sekerheid oor die tekstuur en diepte van hul grond en watergehalte verkry voordat hulle met besproeiingsboerdery begin, andersins moet hulle later versuipte grond ten duurste dreineer.

Nie alle grondtipes is geskik om besproei te word nie. Sekere soorte is baie aan versuiping onderhewig. Net so kan swak water grond laat verbrak. Daarom moet 'n boer deeglik besin en hom daarvan weerhou om blindelings te besluit om gewasse te begin besproei.

Dit is raadsaam om die grond eers te laat ontleed en profielgate te grawe om seker te maak die grond is geskik vir besproeiing. Die water wat vir besproeiing gebruik gaan word of dit nou uit 'n boorgat of rivier kom - moet eweneens ontleed word om die soutinhoud te bepaal. Vir hierdie take is dit raadsaam om die kundiges se hulp in te roep.

Mnr. Hansie Viljoen van die plaas Wolvespruit, Leeudoringstad, is een boer wat op die duur manier geleer het, want hy moes later baie geld bestee om sy versuipte en verbrakte lande te dreineer om van die oormaat soute in die grond ontslae te raak.

Hy besproei sowat 150 ha mielies en koring met spilpunte. In 1997 het hy die afdeling Landbou-ingenieurswese by die Departement van Landbou op Potchefstroom vir raad oor versuiping en verbrakking genader. Hulle het 'n ondergrondse dreineringstelsel voorgestel, maar mnr. Viljoen het dit nie dadelik laat installeer nie.

Verlede jaar (vyf jaar later) het die hoeveelheid grond wat verbrak het reeds verdubbel. Mnr. Viljoen het twee keuses gehad. Hy kon die besoedelde grond verkoop en ander grond aanskaf, maar die grond sou steeds vir die landbousektor verlore wees. Die ander keuse was om die grond te dreineer, soos aanvanklik voorgestel is.

Mnr. Johannes van As, 'n ingenieur by die afdeling Landbou-ingenieurswese, sê mnr. Viljoen besproei sy lande uit die Vaalrivier. Volgens waterontledings is hierdie water se elektriese geleiding baie hoog, wat 'n aanduiding is dat dit baie opgeloste soute bevat wat lande laat verbrak. Gewasse soos koring, lusern en mielies se opbrengspotensiaal daal aansienlik indien die geleiding te hoog raak. Loging van oortollige soute uit die wortelsone van die gewas is die enigste uitweg.

'n Verdere probleem is die wisseling in die grond se tekstuur en diepte oor die spilpunt-area. Die diepte wissel van 0,6 m tot 1,8 m. Onder spilpuntbesproeiing kan die boer nie sy toediening by die vlak gedeeltes verminder om versuiping te voorkom nie. Die toediening bly dieselfde oor die totale area, wat versuiptoestande en versuring van vlakker gronde veroorsaak.

"As die doeltreffende diepte van grond minder as 1,2 m is, is besproeiingskedulering van kardinale belang en moet dreinering oorweeg word indien die water se soutgehalte te hoog is,"sê mnr. Van As.

Die oortollige water in die vlak dele van die lande en die oormaat opgeloste soute in die grond moes dus verwyder word om die lande weer produktief te maak. Daarvoor moet die grond gedreineer word. Dit behels die plasing van pype met gleuwe in die grond sodat water en soute daardeur kan wegdreineer.

'n Voorlopige terreinondersoek is deur ingenieurs op mnr. Viljoen se plaas gedoen, grond- en waterontledings is geneem en die grond is opgemeet.

'n Ondergrondse dreineringstelsel is ontwerp, bestaande uit gegleufde takdreine en 'n versameldrein om die water weg te lei wanneer die grond dreineer. Die plasing van hierdie dreine verg 'n deeglike studie van hellings, aangesien dit só geplaas moet word dat die water wegvloei. Filtermateriaal word rondom die gegleufde dreineringspype geplaas om uitwassing van grond in die dreinpyp te voorkom. Die diepte van plasing, die spasiëring van dreineringspype en die deursnit van die pype is van deurslaggewende belang en bepaal die doeltreffendheid van die stelsel.

Mnr. Viljoen is van volledige ontwerpplanne, 'n kosteberaming en 'n hoeveelheidslys voorsien sodat hy die taak reg kon aanpak. Op hierdie aanbevelings het hy 10 km dreineringspype gelê, waarvoor hy 'n kontrakteur aangestel het. Mnr. Viljoen het self die filtermateriaal (gebreekte klip) en diesel voorsien.

Die stelsel het hom R500 000 uit die sak gejaag (R50 per meter). Hy kom in aanmerking vir 'n subsidie van 33 % van die konstruksiekoste van die Departement van Landbou, indien die projek aan die landbou-ingenieur se ontwerpspesifikasies voldoen. Mnr. Van As sê hierdie klomp geld beklemtoon die belangrikheid dat boere deeglik huiswerk moet doen voordat hulle besluit om met besproeiingsboerdery te begin. Dit kan hulle baie geld en trane spaar.

Navrae: Mnr. Johannes van As, Departement van Landbou, Landbou-ingenieursafdeling, Privatesak X804, Potchefstroom, 2520; tel. 018 299 6668, faks 018 297 7135; e-pos: ingjva@potch1.agric.za

Brak 'n groot sondaar

'n Hoë soutkonsentrasie (brak) is een van die faktore wat grondvrugbaarheid belemmer en swak oeste veroorsaak.

Volgens die Bemestingshandleiding van die Misstofvereniging van Suid-Afrika word vrugbaarheid die grond se vermoë om plantvoedingstowwe aan die plant beskikbaar te stel - afsonderlik en gesamentlik deur 'n hele aantal faktore bepaal. Dit is:

  • Beskikbare en reserwevoedingstowwe in die grond, soos stikstof, kalium, fosfor en kalsium.
  • Faktore wat die voedingstowwe se beskikbaarheid vir die plante beïnvloed, soos suurheidsgraad (pH), klei-inhoud, deurlugting en grondvog.
  • Belemmerende faktore wat die opname van voedingstowwe deur die plante benadeel, soos toksiese hoeveelhede van onder meer aluminium, té suur of té alkaliese grond, té hoë soutkonsentrasie (brak) en 'n wanbalans tussen voedingstowwe.

Daar is altyd oplosbare soute in gronde en water (riviere, spruite en boorgate). Wanneer dit in groot hoeveelhede in die grond ophoop (verbrakking), begin die probleme vir gewasverbouing, grootliks weens besproeiing.

Daar is drie soorte brakgrond, naamlik soutgrond (witbrak), alkaliese grond (natriumgrond of swartbrak) en sout-alkalies gronde.

Soutgronde ontstaan wanneer die grond 'n oormaat oplosbare soute bevat wat akkumuleer weens beperkte dreinering. Die boer moet die hoeveelheid oplosbare soute in die grond bepaal, want te veel soute kan normale saadontkieming, plantgroei of die opname van water beïnvloed.

Alkaliese gronde kom weens 'n hoë natriuminhoud en hoë pH in die aanwesigheid van 'n oormaat soute voor. So 'n grond het 'n sterk ontwikkelde struktuur en swak infiltrasievermoë vir water.

Sout-alkaliese grond is 'n kombinasie van sout- en alkaliese gronde en het albei hierdie gronde se swak eienskappe, behalwe dat die infiltrasietempo gewoonlik nie beperkend is nie.

Braktoestande benadeel plantegroei weens die hoë soutkonsentrasie, hoë pH, toksisiteit van bikarbonate, belemmering in opname van plantvoedingstowwe en swak fisiese toestand van die grond.

Alle plante is nie ewe gevoelig vir brak grondtoestande nie. Gewasse soos gars, katoen, suikerriet en Rhodesgras, asook dadels, is verdraagsaam. Gewasse wat taamlik verdraagsaam is, is sonneblom, koring, sojabone, sorghum, mielies, boerbone, tamaties, hawer, rog, rys, raaigras en lusern, asook vye, olywe, druiwe en sitrus. Gevoelige gewasse is aartappels, bone, uie, wortels en klawer, asook steen- en sagtevrugte.

Navrae: Misstofvereniging van SA, posbus 75510, Lynnwoodrif, 0040; tel. 012 349 1450; e-pos: fssamvsa@mweb.co.za