Grondoordrag vind stadig plaas omdat die mark waarin plase vir grondhervorming verkoop word, nie goed werk nie. Moontlike redes vir die stadige gang waarteen grondverdeling vorder en beleidsmaatreëls wat dié mark dalk beter kan laat werk, is onlangs ondersoek.
In hul stryd om boerderygrond in die hande te kry, kry opkomende boere en grondlose mense te doen met allerlei struikelblokke. Dit is dinge soos 'n tekort aan geskikte grond, 'n gebrek aan geld, omslagtige prosedures om grondhervormingsprojekte aan die gang te kry en grondbesitters se houding jeens grondhervorming.
Vir hulle lewer die markgerigte benadering tot grondhervorming en die beleid van "gewillige verkoper, gewillige koper" nie juis resultate nie, het me. Sue Tilley bevind in 'n ondersoek na grondbesit en -verkryging in drie boerderygebiede in die provinsies Noord- en Wes-Kaap. Sy het die ondersoek gedoen in opdrag van Surplus People Project, 'n nie-regeringsorganisasie.
"Of dit 'n groep aspirant-opkomende boere van Brandvlei is, 'n dorpsgemeenskap van Hondeklipbaai langs die Namakwalandse kus of kleinboere by Eendekuil, naby Piketberg, die ervaring van grondlose mense bly dieselfde: Daar is nie geskikte grond beskikbaar nie, hulle voel uitgesluit van die grondmark en ondervind 'n gebrek aan ondersteuning van staatsdepartemente."
Sy waarsku dat die frustrasie onder baie mense sal verhoog vanweë die voortgesette ontkenning van die harde werklikheid wat grondlose mense ervaar as gevolg van die onsimpatieke funksionering van die grondmark en die volgehoue wanbalans in die grondbesitprofiel op die Suid-Afrikaanse platteland. Tilley het in haar navorsing oor grondoordragte in Namakwaland, die Hantam en Weskus van 1998 tot 2002 bevind dat daar 'n redelik lewendige grondmark is, maar dat die helfte van die grondkopers reeds grond daar besit.
Een van die grootste probleme in die grondmark is die gebrek aan gelykheid, terwyl die benadering van gewillige verkoper, gewillige koper veronderstel dat kopers en verkopers gelyk is. In die Suid-Afrikaanse grondmark moet onvermoënde, grondlose mense self uitvind waar grond beskikbaar is, geskikte grond identifiseer, 'n projekkonsep ontwikkel, 'n koopprys onderhandel en die verkooptransaksie deurvoer met slegs beperkte hulp van die departemente van Landbou en Grondsake.
Tilley skryf in die verslag dat daar boonop mededinging is van ander kopers wat beter ingelig is, en meer geld het om gou 'n aanbod te maak en nie hoef te wag om vir toekenning van die Departement van Grondsake te kwalifiseer nie.
Benewens die ongelykheid tussen kopers en verkopers in die grondmark maak die mark ook nie voorsiening vir 'n openbare en toeganklike meganisme vir die advertering van beskikbare grond nie. "Mense wat nie deel van die netwerk van huidige grondbesitters is nie, hoor gewoonlik te laat daarvan."
Dit kan volgens Tilley toegeskryf word aan die feit dat daar min kontak is tussen kommersiële boere en opkomende boere en grondlose mense, wat beteken dat opkomende boere en grondsoekers dikwels nie toegang het tot die inligting- en maatskaplike netwerke wat tussen kommersiële boere bestaan nie.
Sy het vasgestel dat boere se houding oor die beskikbaarstelling van plase vir grondhervorming in twee groepe verdeel kan word: Dié wat heeltemal daarteen gekant is en dié wat bekommerd is oor die bedreigings wat arm, opkomende boere vir boerderystelsels kan inhou.
Sy het rassisme gevind, en boere wat vasklou aan grond as 'n magsimbool, terwyl 'n amptenaar van die Departement van Landbou in Namakwaland verduidelik het dat die meeste boere meer bekommerd is dat opkomende boere nie die geld of kennis het om draadheinings in stand te hou en jakkalse en rooikatte uit te hou of te bestry nie.
Daar is onder kommersiële boere ook kommer dat dit vir opkomende boere, vanweë die gebrekkige ondersteuning wat hulle kry, nie lonend sal wees om die grond volhoubaar te benut nie.
Die rol van die Departement van Grondsake in die ondoeltreffende werking van die grondmark kan nie gering geag word nie. "Daar is klagtes dat die proses te stadig is. Die departement kan nie byhou met die pas van grondtransaksies nie en verkopers raak gefrustreerd en onttrek.
"Verkopers het nou 'n punt bereik waar hulle probeer om nie met die Departement van Grondsake te onderhandel of grond vir grondhervorming beskikbaar te stel nie bepaald omdat die burokratiese proses so omslagtig is en daar sulke lang wagperiode by elke fase van 'n transaksie is," het 'n eiendomsagent aan Tilley genoem.
Juis omdat hulle heeltemal aan die genade van die Departement van Grondsake oorgelaat is, word grondlose mense as onbetroubare kopers beskou. "Hulle is afhanklik van 'n toekenning vir grondhervorming waaroor hulle geen besluite kan neem nie. Dié onsekerheid plaas hulle in 'n ondergeskikte posisie in transaksies."
Hoë grondpryse is 'n ander rede waarom grondverdeling ongelyk bly. Tilley skryf dat daar beweer word grondhervorming stoot pryse op, terwyl kopers van buite, veral die Nasionale Parkeraad in Namakwaland en die Hantamgebied, bereid is om veel meer as die heersende markwaardes te betaal. Die oorskakeling van graanlande na wyn- en tafeldruifwingerde verhoog ook die waarde van grond.
Dit gaan oor meer as net grond
Grond bied net 'n geleentheid om te kan boer dit gee nie kennis, vee of werktuie vir 'n boerdery nie," glo mnr. Cornelis van der Westhuizen, voorsitter van die Namakwalandse Boere-unie.
Van der Westhuizen se familie boer al vyf geslagte lank op Grootvlei, naby Kamieskroon.
Hy sê vir 'n wegspring is in Namakwaland al genoeg grond oorgedra. Die probleem is dat die swakste grond vir opkomende boere gekoop is. "Grond is oorhaastig gekoop, sonder om kundige persone, soos boere wat darem 'n sukses van boerdery hier maak, te raadpleeg oor die geskiktheid van die grond al dan nie.
"As ons wil hê grondhervorming moet in bemagtiging oorgaan, moet ons suksesvolle boere betrek. By dié boere is groot welwillendheid en 'n groot poel van kennis. In Namakwaland is daar nou eers genoeg aan grond bestee. Daar moet nou in mense belê word."
Namakwaland is 'n harde, ekstensiewe boerderygebied. Trouens, Van der Westhuizen sê dit is eintlik 'n halfwoestyn en hulle boer op hoogs kwesbare grond.
In die gebiede wat winterreën kry, sal 'n goeie, konserwatiewe boer 'n bestaan kan maak op 5 000 ha en met 'n kudde van sowat 600 skape, maar die meeste van die kommersiële boere verkies om ook in die somerreëngebied grond te hê. "Dit beteken dat jy in die somer, as jou winterreëngrond op sy kwesbaarste is, na die somerreëngrond, waar 'n 60 % tot 70 % kans op reën is, kan trek en nie die hele somer hoef voer te gee nie."
Hy meen niemand sal dit regkry om in Namakwaland te boer as hy bloot grond kry nie. 'n Nuwe boer moet iemand wees wat wil boer, wat weet hoe om te boer én meer hulpbronne as grond tot sy beskikking het. In dié opsig help die departemente van Landbou en Grondsake opkomende boere nie.
Met droogtes soos wat Namakwaland die afgelope twee jaar ondervind het, het opkomende boere eweneens aan die agterspeen gedrink. Dit was nie net omdat hulle nie voerreserwes gehad het nie, maar ook omdat die Noord-Kaap se provinsiale departement van landbou se plan met droogtehulp nie hul omstandighede in ag geneem het nie.
Van der Westhuizen sê opkomende boere was eenvoudig nie gerat om voordeel uit die droogtehulp te trek nie. "Die meeste opkomende boere het nie BTW-nommers nie. Hul voeraankope was dus onmiddellik 14 % duurder as dié van kommersiële boere. Daarbenewens het opkomende boere wat nie vragmotors het nie, hulle bankrot betaal aan vervoer om die voer op hul plase te kry."
Staat sal meer moet doen
'nMens kan sinies wees en sê dat die staat afstand gedoen het van sy verantwoordelikheid vir grondhervorming toe besluit is op 'n markgerigte benadering tot grondverkryging." Só sê me. Sue Tilley, wat die werking van die grondmark in drie gebiede in die provinsies Noord- en Wes-Kaap in opdrag van Surplus People Project ondersoek het.
Sy sê die Departement van Landbou dink sy rol is bloot om grond oor te dra. "Indien daar meer grond vir grondhervorming beskikbaar moet wees, sal daar aksie van regeringskant móét kom.
"Deur die instelling van beperkings op die hoeveelheid grond wat elke boer kan besit en deur die produktiewe gebruik van grond aan te moedig, kan meer grond vir hervorming beskikbaar word."
Wetgewing om grondbesitters te verplig om grond produktief te gebruik, moet met groot omsigtigheid ingestel word, veral in Namakwaland waar die drakrag van grond laag is, en boere gewoonlik grond in somer- én winterreëngebiede nodig het.
Tilley sê waar dit in die verlede "goedkoop" was om groot stukke grond te besit, sal grondbelasting boere moontlik aanmoedig om onproduktiewe grond te verkoop.
Hoewel dit nie juis in Namibië en Zimbabwe vrugte afgewerp het nie, kan dit moontlik in Suid-Afrika help as boere wat hul grond wil verkoop, die Departement van Grondsake die eerste opsie gee. Tilley meen ook dat die verpligte advertering van beskikbare grond tot groter gelykheid in die grondmark kan bydra.
Die strategiese gebruik van onderverdeling is 'n ander manier om grond beskikbaar te stel. Onderverdeling van grond is lank beperk deur die regering wat wou voorkom dat plase te klein en onekonomies word. Tilley sê dit is 'n meganisme wat met groot omsigtigheid gebruik moet word, en nie sonder deeglike oorweging van plaaslike omstandighede nie.
Vervolgens skryf Tilley dat 'n verandering in die betrokkenheid en stelsels van die Departement van Grondsake een van die grootste uitdagings vir doeltreffende grondhervorming is. Omdat grondlose mense 'n voorlopige verkoopsooreenkoms kry voordat hulle vir geld kan aansoek doen, sal dit byvoorbeeld help as die prosedure om grond te koop, meer vaartbelyn gemaak word. Hoewel die onteiening van landbougrond ook kan help om die proses te bespoedig, het navorsing deur die Surplus People Project getoon dat dit nie noodwendig goedkoper, vinniger en minder ingewikkeld is om grond deur die onteieningsproses in die hande te kry nie.
Uiteindelik sal net 'n beplande en doelgerigte benadering, gegrond op grondbehoeftes en -beskikbaarheid in 'n spesifieke gebied en met groter betrokkenheid van die departemente van Landbou en Grondsake, 'n verskil maak. Tilley sê die beplande desentralisering van grondhervorming en die moontlikheid van 'n meer gebiedsgebonde benadering waarby die hele gemeenskap betrokke is, lyk belowend.
Die verslag sal later vanjaar as 'n besprekingsdokument aan almal wat by grondhervorming betrokke is, ook die Departement van Grondsake, uitgestuur word.
21 Januarie 2005