Landbou
'Skrik wakker oor grondhervorming'
JAN DU PLESSIS

Die Regering beklemtoon grondhervorming toenemend ten koste van die ander komponente in die Strategiese Plan vir die Suid-Afrikaanse Landbou. Dit hou 'n wesenlike gevaar vir die landbou en die land as geheel in.

Soms gebeur dinge so vinnig en vreemd dat 'n mens se verstand weier om die implikasies daarvan te aanvaar. Die resultaat is 'n toestand van ontkenning; 'n onvermoë om met die werklikheid om te gaan. Jy kyk liewers anderpad en gee voor niks gaan gebeur nie.

Sulke ontkenning is egter nie vreemd aan 'n samelewing nie. Dit gebeur gewoonlik wanneer groot veranderings onverwags op mense afkom sonder dat hulle 'n aanvaarbare, logiese verklaring daarvoor het. Die verandering druis met ander woorde teen bestaande indrukke en denke in. Dan word die bestaan van die verandering amptelik ontken in die hoop dat die probleem sal verdwyn.

Wanneer só 'n situasie van versnelde en ooglopend onbeheerde verandering plaasvind, moet jy simpatie hê met die angs van die gehoor en eerlik wees ten opsigte van die beskikbare inligting. Dit is nie altyd 'n aangename proses nie.

Só 'n situasie het ek jare gelede persoonlik aan die lyf gevoel toe navorsing getoon het dat alle faktore daarop dui dat 'n bloedlose, algehele ineenstorting van die voormalige Sowjet-ryk op hande was. Daardie inligting is voor 'n groep senior amptenare op die tafel geplaas, met die implikasie: Hier kom iets totaal vreemd; ons sal nuut moet dink!

Die probleem was dat Suid-Afrika toe nog in Angola betrokke was. Die voordrag was ses maande voor die afbreek van die Berlynse muur. Die Sowjet-unie was nog 'n militêre bedreiging en daar was geen denk-ruimte vir 'n spontane ineenstorting van die kommunistiese stelsel nie. Die resultaat - 'n hoflike stilte ná die aanbieding, met 'n meer konkrete reaksie ná die tyd: "Dié ou is bleddie mal!" Soms is dit makliker om die boodskapper te skiet as om bestaande denke te verander.

Die huidige proses van grondhervorming gaan terug na 2001 se Strategiese Plan vir die Suid-Afrikaanse Landbou. By terugskouing was die plan 'n goed gebalanseerde dokument wat uit 'n kernstrategie van drie komponente en 'n ondersteunende strategie van vier komponente bestaan het.

Die versnelde oordrag van grond was 'n kernstrategie, maar só ook die nastrewing van 'n globaal mededingende vermoë. Dit is ondersteun met 'n bereidheid tot goeie regering, kennis en innovasie, internasionale samewerking en veiligheid en sekuriteit.

Die versnelde oordrag van grond is inderdaad vooropgestel, maar enige nadelige uitwerking daarvan kon getemper word deur die gebalanseerde inwerkingstelling van die ander komponente. As sodanig was dit 'n heel aanvaarbare dokument vir 'n moeilike situasie.

Nou lyk die saak heel anders. Die versnelde oordrag van grond het voorkeur gekry en die ander komponente het op die agtergrond geskuif. Die landbou-omgewing het agteruitgegaan, want die gebrek aan goeie regering en veiligheid en sekuriteit het al hoe groter probleme geword.

Die doodsteek vir die kommersiële landbou lê egter daarin dat die bedryf se mededingende vermoë op internasionale vlak - met enkele uitsonderings - nie na wense is nie en dat die komponent van kennis en innovasie van regeringskant af nie ontwikkel is nie. Kortliks: Die Regering het onderbelê in die kommersiële landbou ten opsigte van navorsing en ontwikkeling.

Grondhervorming gaan nou suiwer om statistieke: Slegs 3,5 miljoen hektaar oftewel 4 % van die 83 miljoen hektaar landbougrond het sedert 1994 in swart besit gekom. Vir die bereiking van die staat se oordragteiken van 24,6 miljoen hektaar (30 %) teen 2014 moet nog 21,2 miljoen hektaar of meer as 2 miljoen hektaar per jaar oorgedra word.

Die ander uiters belangrike komponente van die strategiese landbouplan het stilweg van die tafel verdwyn en dit lyk of die hoeveelheid grond wat oorgedra kan word die belangrikste saak tussen die kommersiële landbou en die Regering geword het.

Indien die knoop rondom grond deurgehaak kan word, dan is die saak reg en kan die kommersiële landbou vorentoe van krag tot krag gaan. Dit is egter dikwels die probleem met bestaande denke - almal praat saam, maar dit is nie altyd soos dit werk nie.

Die probleem rondom die oordrag van grond is baie meer kompleks as bloot 'n oordrag van bates; van hier vat en daar gee. Dit wil dikwels lyk of die kommersiële landbou dit self nie heeltemal besef nie.

Die afgelope paar jaar het 'n aantal ander verwikkelings gebring wat 'n regstreekse impak het en nog gaan hê op die oordrag van grond en wat uiteindelik daarmee gaan gebeur.

Die belangrikste komponent binne die land is die Regering se eie vermoëns ten opsigte van grondhervorming. Hiermee word nie bedoel die politieke vermoë van die Regering ten opsigte van die regerende party se verkiesingsoorwinnings en meerderheid in die Parlement nie, maar sy regeervermoë. Hierdie probleem is ingewikkeld en daar word nie ligtelik in die openbaar daaroor gepraat nie, maar die Regering wat nou versnelde grondhervorming wil deurvoer, is nie meer die Regering wat in 2001 die strategiese plan goedgekeur het nie, al is hy nog aan bewind.

Die Ministerie van Landbou en Grondsake het die vinger op die probleem gesit in 'n mediaverklaring op 22 November 2006. Daarin word dinge gesê waarna die kommersiële landbou moet luister: "Daar is sekere uitdagings in die implementering van grondhervorming... Konsultasie het ook aan die lig gebring dat kapasiteitsbeperkings, wat 'n invloed het op die vermoë om te lewer, asook die gebrek aan personeel om huurkontrakte te bestuur en op provinsiale vlak te beplan, met die bestuur van die Departement van Grondsake bespreek is? Daar is tans sowat 1 000 vakante poste in die departement wat gevul moet word."

Die gebrek aan dienslewering word toegeskryf aan die feit dat daar "leierskap- en bestuursuitdagings" in die department is.

Hierdie probleme kan almal saamgevat word onder een begrip: 'n Gebrek aan regeervermoë. Dit kan nie maklik reggestel word nie omdat 90 % van die mense in die staatsdiens semi- en halfgeskool is en daar nie minder nie as 44 000 vakante poste is.

In die praktyk beteken dit dat die Regering tans nie die mense het om die proses van grondhervomring te ondersteun nie. Daar is ook nie die kundigheid om die proses te bestuur en te bedryf nie en daar is nie kundigheid op grondvlak om nuwe boere te help vestig nie.

Dit beteken sonder kundigheid het die proses van grondhervorming 'n inherente dinamiek wat dit kan laat ontspoor. 'n Versnelde oordrag van grond kan tot die versnelde destabilisering van die kommersiële landbou lei omdat die oordrag van kundigheid uit die proses verdwyn het.

Die belangrikste buitelandse komponent wat 'n invloed op grondhervorming het, is die Europese Unie (EU) se vereistes oor naspeurbaarheid. Dit het in Januarie 2005 van krag geword. In die die EU se Guidance Document - Key Questions Related to Import Requirements and the New Rules on Food Hygiene and Official Food Controls word die betekenis van die hele dokument in een sin saamgetrek: "Voedselveiligheid - van die plaas tot die vurk."

Die EU wil verseker dat Europa se voedselvoorsiening die veiligste ter wêreld is en dat dieselfde voedselveiligheidstandaarde op alle produkte van toepassing is, ongeag waar dit vandaan kom. Dit beteken dat die gehalte van 'n produk vanaf die supermark in 'n voorstad van Parys of Amsterdam tot op die plaas van oorsprong naby Stella in Noordwes naspeurbaar moet wees.

Hierdie kontroleketting word deur die EU bepaal. Wie nie daarby kan inskakel nie, word eenkant toe geskuif. Dit vorm die spelreëls vir die landbou van die 21ste eeu.

Die implikasie is dat die individuele kommersiële boer wat na Europa wil uitvoer, aan die EU se regulasies blootgestel is. Die wetgewing vanuit Kaapstad help nie regtig meer nie. In die geval van 'n siekte, soos bek-en-klouseer, word die Europese mark summier gesluit.

Dit is waarom die strategiese plan se klem op die uitbouing van die kommersiële landbou se vermoë om internasionaal mee te ding soveel sin gemaak het en waarom die tragiese tersydestelling daarvan vorentoe soveel probleme gaan skep.

Die implikasies van die gebrek aan 'n mededingende vermoë strek baie verder as wat besef word. As kommersiële boere in Suid-Afrika nie meer binne die nuwe Europese konteks kan meeding nie, kan dit daartoe lei dat hul getalle aansienlik kan afneem. Meer grond sal op die mark kom, maar nuwe boere sal dit nie winsgewend kan opneem nie omdat hulle self nog nie mededingend is nie.

Dit beteken dat die hele grondplan onder verdenking kan kom. Grond gaan oorgedra word, maar dit gaan geen produktiewe vermoë skep nie.

Kleiner kommersiële boere kan dit toenemend moeilik vind om aan die EU se vereistes te voldoen, aangesien die standaarde voortdurend verhoog word. Dit gaan aansienlike kapitaal vir tegnologiese vernuwing vereis, wat buite die bereik van die kleiner boer kan wees.

'n Nuwe soort boerderykonsep kan bes moontlik na vore kom - nie 'n groter boerdery in terme van plaasoppervlakte nie, maar groter in terme van tegnologiese samewerking. Dit kom daarop neer dat ver-skillende boerdery-eenhede saam in beter tegnologie belê om markte te bekom en te behou.

Waar pas nuwe boere dan in? Oor hul plek in die wisselwerking tussen bogenoemde faktore word daar ongelukkig nie gepraat nie. Daar is in 'n mate 'n gebrek aan realisme oor die nuwe omgewing in die huidige gesprek. Kitsantwoorde, soos die instelling van mentorskapprogramme, word dikwels voorgehou om komplekse probleme op te los.

Dit help nie dat die kommersiële landbou met die minister praat en die minister met die kommersiële landbou nie. Dit weerspieël nie die somtotaal van die probleem nie.

Die kommersiële landbou se probleem met globalisering is nog nie opgelos nie. Die kommersiële landbou behoort die brug te vorm vir nuwe boere om tot die wyer markte toe te tree. Indien die kommersiële landbou probleme het, is nuwe boere se kans op sukses uiters skraal.

Wanneer hierdie faktore op die tafel kom, is die impak van MIV/vigs op die suksesvolle vestiging van nuwe boere en die oordrag van grond nog nie eers naastenby in berekening gebring nie. MIV/vigs het die afgelope jaar sulke wye afmetings aangeneem dat dit op sigself die proses van grondhervorming kan kelder.

Hoe ernstig is die situasie? Dit is kritiek, juis omdat die omvang van die oordrag van grond in hierdie stadium nie werklik begryp word nie. Dit gaan om baie meer as grond - die ineenstorting van strukture kan plaasvind. Indien grondhervorming nie met 'n omvattende en langdurige oordrag van kundigheid gepaardgaan nie, kan die proses skeefloop.

Hierdie oordrag van kundigheid impliseer nie net 'n proses waarin die kommer-siële landbou 'n bydrae tot die vestiging van nuwe boere lewer nie. Dit impliseer ook 'n oordrag of oorvloei van internasionale kundigheid na die kommersiële landbou, want daar is óók 'n probleem met kundigheid.

Indien hierdie dubbelvlak-oordrag van kundigheid nie 'n werklikheid word nie, kan dit veroorsaak dat die platteland nog vinniger ontvolk. Kommersiële plase hou op werk verskaf en hul arbeiders gaan oor na die dorpe toe. Die dorpe swel weer uit totdat hulle oorloop na die stedelike komplekse toe.

Die gevolg is grootskaalse migrasie na die stede, waar die bevolking dramaties toeneem sonder dat die nodige infrastruktuur daar is. Die nuwelinge vestig hulle op oop stukke veld en langs strome. Daar is 'n ooreenstemmende afname in inkomste, toenemende werkloosheid en verarming en die moontlike toename van misdaad. Soos hierdie proses ontvou, ontdek plattelandse kerke skielik dat hulle hul deure sal moet sluit, want die mense (en besighede) trek weg.

Bogenoemde proses is nie ver verwyderd van die proses van grondhervorming wat in Zimbabwe afgespeel het nie. In politieke terme was die oordrag van grond 'n skitterende sukses, maar demografies is die mense vernietig en die land se ekonomie verwoes. Hierdie rekening gaan nou eers betaal word. Die grond is steeds daar, maar die land het sy kundigheid verloor.

Die volgende internasionaal gebruikte uitdrukking beskryf dit goed: Zimbabwe het binne ses jaar verander van "the bread basket of the region to a basket case". Daar is niks oor nie, afgesien van brute politieke mag.

'n Mens wonder soms of diegene wat by grondhervorming betrokke is, besef hoe ernstig die saak is waarmee hulle te doen het. Dit is die totale stabiliteit van Suid-Afrika waaroor hulle onderhandel.

  • Dr. Jan du Plessis is 'n politieke analis verbonde aan die onderneming Intersearch. (Hierdie artikel is gegrond op die publikasie South Africa: The Expected Society by 2010 ? The Demise of Democracy and the Emergence of Alternative Management Systems.)

    Landbouweekblad, 5 Januarie 2007