Landbou
'Gwanya sal hoftoets dop'
ISABEL STOLTZ (istoltz@landbou.com)

Die Grondeisekommissaris is buite orde met sy eensydige besluit dat die staat as koper in restitusietransaksies voortaan die oordragprokureur aanstel, sê 'n prokureur.

Die Grondeisekommissaris is nie by magte om sy eensydige besluit dat die staat as koper in restitusietransaksies voortaan die oordragprokureur kan aanstel, af te dwing nie. Waar 'n dispuut daaroor ontstaan, sal dié besluit nie in 'n hof krag hou nie. Hy kan dit net deurvoer as die koper daartoe toestem, sê mnr. Hans-Jurie Moolman, 'n prokureur wat spesialiseer in grondverwante litigasie.

In só 'n geval verander dit niks aan die prokureur se posisie as verteenwoordiger van die koper nie en word die verkoper dus regstreeks aanspreeklik gehou vir enige nalatige optrede.

"Soos bevestig deur 'n uitspraak van die Appèlhof in 1996 is dit 'n gemenereg-beginsel dat die verkoper se prokureur die oordrag hanteer omdat hy as verteenwoordiger van die verkoper volmag kry om oordrag te gee. Hierdie volmag berus nie by die koper nie. " 'n Gemenereg-beginsel kan net met statutêre wetgewing gewysig word, soos gebeur het in die geval van die ESTA-wet waar die gemenereg-beginsel oor eienaars se reg op die beëindiging van verblyf op hul eiendom gewysig is."

Die kwessie oor oordragprokureurs is in Julie 2006 op George op 'n vergadering van grondeisekommissarisse bespreek. In 'n dokument wat daarna opgestel is, sê die hoofgrondeisekommissaris, mnr. Tozi Gwanya, dit is "algemene praktyk dat die verkoper (meestal wit) die oordragprokureur (meestal wit) aanwys, hoewel die koper die oordragkoste betaal.

"Hierdie algemene praktyk ondermyn die Regering se transformasiebeginsels en die voorkeur aan swart ekonomiese bemagtiging in die verskaffing van dienste in die implementering van grondhervorming."

Hy sê daar is geen wet wat die koper keer om die oordragprokureur aan te stel of wat bepaal dat die verkoper se oordragprokureur die oordrag moet hanteer nie.

Hy meen die enigste verskil sal in die gehalte van diens wees en dat die Grondeisekommissaris dan in 'n posisie sal wees om 'n laer vergoeding te beding.

Daar is besluit dat die "koopkontrak, asook die standaard-skikkingsooreenkoms vir alle grondaankope deur die Grondeisekommissie, 'n klousule moet insluit dat die koper die oordragprokureur sal aanstel."

'n Databasis van oordragprokureurs moet vir dié doel opgestel en die "prosedures vir die aanstelling van oordragprokureurs hersien word om oordrag in die kortste tyd moontlik" te verseker.

Dit sal ook by die Departement van Landbou en Grondsake aanbeveel word dat dié "beleid" by alle aankope vir grondhervormingsdoeleindes gevolg word.

Maar, volgens Moolman, is nie eens die minister by magte om só 'n besluit bindend te maak nie. Die Grondeisekommissaris se beslissings is hoogs aanvegbaar en getuig van twee duidelike mistastings.

Dit bots naamlik met bestaande gemene reg, sowel as die beginsels van swart ekonomiese bemagtiging, sê hy.

"Swart ekonomiese bemagtiging is 'n regverdige beleid wat bepaal dat ekonomiese deelname verbreed, nie verklein word nie, met ander woorde dit moenie toegepas word met die absolute uitsluiting van 'n bepaalde rassegroep nie.

"Die Grondeisekommissaris wil hiervan 'n rassekwessie maak. Daarvan getuig die rassistiese aannames in die dokument dat verkopers en oordragprokureurs meestal wit is."

Die gewysigde klousule wat mnre. Peter Mhangwani en Mashile Mokono opgestel het, bepaal dat "50 % van die koopprys binne 30 dae ná ondertekening van die kon-trak inbetaal word in die trustrekening van die oodragprokureur wat deur die koper aangestel is. Die rente wat daarop verdien word tot by registrasie gaan na die koper".

Dit is terstond in werking gestel ondanks kwaai teenkanting van die georganiseerde landbou wat nie in die saak geken is nie en meen dit gaan die restitusieproses nóg langer laat sloer.

"Dié kwessie beduiwel grondhervorming, want verkopers meen dis 'n miskenning van hul eienaarsreg en beteken hulle het geen toegang tot die prokureur wat hul geld hanteer nie," sê dr. Theo de Jager, voorsitter van Agri Grondforum.

Hy sê baie boere wat grond vir restitusie verkoop, het skuld waarvoor hulle regstreeks met hul prokureur reëlings kan tref vir betaling uit die geld wat inkom. Hulle kan dit nie met 'n vreemde prokureur doen nie. Dit veroorsaak dat vrywillige verkopers kop uit trek.

"Swart bemagtiging het niks hiermee te doen nie. Prokureursfirmas se bemagtigingstatus word nie in aanmerking geneem nie.

"By Barberton en Tzaneen was daar gevalle waar swart prokureurs wat aktes ingedien het, se dienste deur die Grondeisekommissaris beëindig is ten gunste van hul eie keuse van prokureurs. Wie het die Departement van Grondsake 'n mandaat gegee om die regsberoep te transformeer?"

De Jager sê grondverkopers by Hoedspruit wie se eie prokureurs oordrag gehanteer het, se aktes is binne enkele weke geregistreer - lank voordat enigiets gedoen is aan transaksies van boere wat gedink het hul koop sal vinniger afgehandel word as hulle die staat se prokureur gebruik.

Hy sê ook daar is geen deursigtige tenderproses nie. "Dis 'n kwessie van baantjies vir boeties. Die hele situasie is absurd, want daar is so min swart oordragprokureurs dat hulle in elk geval die werk na blanke prokureursfirmas uitkontrakteer."

Mnr. Tiaan van Dyk, 'n prokureur in Mpumalanga, sê oordragte veroorsaak nou erge vertragings - in sommige gevalle tot ses maande - en gevolglik verliese omdat kontrakte verkeerd opgestel word. Hy was betrokke by 'n kontrak wat al in November verlede jaar onderteken moes gewees het. Teen Februarie vanjaar is dit nog heen en weer gestuur om foute reggestel te kry.

"In een geval is die koopsom bykans twee weke nadat die transport deur is eers uitbetaal." In 'n ander geval was huurders ter sprake en die staat se prokureur het nie geweet van die beginsel dat huur voor koop gaan nie, wat probleme veroorsaak het.

"Die prokureurs wat die staat aanstel, ken nie die wette nie."

Van Dyk sê ook die kontrak verskaf nie besonderhede van die staat se prokureur sodat met hom kontak gemaak kan word nie en daar is geen tydsbepaling waarbinne hy oordrag moet bewerkstellig nie.

Landbouweekblad, 20 April 2007.