Landbou
'Gee oortollige staatsgrond vir grondloses'
LEON LOUW

Weiering van die reg op grondbesit was een van die hoekstene van apartheidsonderdrukking, en dit is steeds met ons.

Behalwe in uitsonderlike gevalle het swart Suid-Afrikaners in histories swart gebiede verblyfreg op ongeveer 10 miljoen stukkies grond, maar hulle besit dit nie. Blanke Suid-Afrikaners in histories blanke gebiede besit ongeveer vyf miljoen stukkies grond.

Om op 'n stuk grond te bly sonder om dit te besit, het nadelige gevolge. Eienaarskap stel mense in staat om te koop, te verkoop, te verhuur, verbande daarop uit te neem en dit te ontwikkel, te onderverdeel en te konsolideer - alles dinge wat verseker dat die land se waardevolste bate toegewys en doeltreffend benut word. Sonder hierdie regte bly mense in histories swart gebiede onbewustelik agter.

As hulle gelukkig is, kan stedelike of landelike grond aan swart Suid-Afrikaners toegeken word. Dikwels moet hulle omkoopgeld hiervoor betaal of volwasse mans in statte wees. Dan sit hulle daarmee, selfs al woon hulle iewers anders en lê die grond braak of onderbenut. Hulle kan die grond net oordra deur ingewikkelde prosesse, gewoonlik onderhewig aan streng bepalings en sonder behoorlike vergoeding vir die grond of die waarde van die verbeterings.

Die probleem met grond in histories swart gebiede, waar die meeste swart Suid-Afrikaners woon en waarskynlik nog baie jare lank sal woon, is dat dit deur die staat besit word met 'n ingewikkelde vertoon van beperkende vorms van apartheidstitels. Dit ontneem dié mense die reg om met hul grond te handel soos wat blankes doen. In hierdie sin is blankes steeds vryer as swartes.

Dr. H.F. Verwoerd se wette oor "naturellesake" reël steeds verblyfreg in die meeste histories swart gebiede en verminder dit tot wat Hernando de Soto in sy gevierde boek The Mystery of Capital "dooie kapitaal" noem.

Een van die eerste stappe van verandering was die Wet op die Opgradering van Grondbesitregte, Wet 12 van 1991, wat 'n omskakeling van die apartheidsera se grondverblyfregte na eienaarskap beloof. Die beperkte omvang van "besit-opgradering" is nog nie opgeteken nie en was buitensporig duur.

Daar is baie redes waarom die beleid oor die opgradering van grondverblyfreg misluk het - van burokratiese traagheid tot perverse, gevestigde belange, geskep deur grondwette wat wesenlike arbitrêre magte en status aan sekere beamptes toeken en buitensporig duur en ingewikkelde ingrypings deur opmeters, aktebesorgers, stadsbeplanners en ontwikkelaars vereis.

Gegewe 16 jaar van mislukking, is die enigste uitvoerbare oplossing dat die Regering gevestigde belange ter syde stel en swart grondverblyfreg verbeter deur eenvoudige statutêre bepalings of deur wesenlike rasionaliseringsprosesse.

Benewens grond wat in histories swart gebiede ingevolge apartheidsbesit gehou is, is oortollige staatsgrond nóg 'n groot bron van "dooie kapitaal" wat feitlik kosteloos aan grondlose swart Suid-Afrikaners herversprei kan word. Die meeste grondlose swart Suid-Afrikaners is vroue wat toegang tot grond geweier is omdat hulle nie afdeling 10-regte onder apartheid gehad het nie of weens diskriminasie onder stamwette.

As die Regering minder as 10 % van sy oortollige grond gebruik, kan dit alle grondlose huishoudings van een gratis erf voorsien volgens 'n program van "een gesin, een erf". Die meeste van hierdie grond volgens gebiede word weerspieël in die aktekantoor as eiendom van die Departemente van Grondsake en Openbare Werke. Hoewel daar geen manier is om dit vas te stel nie, word die meeste van dié grond, volgens waarde, waarskynlik besit deur 'n klomp regeringsdepartemente, agentskappe en semistaatsinstellings op al vier vlakke van die regering.

'n Stuk grond wat ek twintig jaar gelede bestudeer het in Hyde Park, Johannesburg, een van Suid-Afrika se voorstede met die grootste waarde, is 'n tipiese voorbeeld van duisende geheimsinnige "gereserveerde" eiendomme landwyd. Die Departement van Onderwys, vir wie dit baie jare gelede ingevolge "voorwaardes van totstandkoming" gereserveer is, weet niks daarvan af nie. Die regeringstruktuur vir wie hierdie grond gereserveer is as 'n voorvereiste vir ontwikkeling is dikwels onbewus hiervan.

Grond wat as ongeskik vir herverdeling beskou word, kan verkoop word en 'n enorme inkomste kan só verkry word, wat weer aangewend kan word om elders grond vir swart Suid-Afrikaners te verkry.

Niemand weet watter gedeelte van staatsgrond volgens waarde, area of ligging oortollig of onderbenut is nie. Dit is duidelik dat verklarings, sommige na bewering deur gesofistikeerde navorsing gesteun, dié getal hopeloos onderbeklemtoon.

In stede van die huidige nasionale obsessie met hoeveel "wit" grond aan swartes kan of moet herversprei word en of dit gekonfiskeer of gekoop moet word, kan baie meer baie vinniger en feitlik kosteloos bereik word deur die eenvoudige proses van die verbetering van apartheidsverblyfreg en die herverspreiding van oortollige grond wat reeds deur die Regering besit word.

Suid-Afrikaners kan by Zimbabwe leer waar die meeste mense in histories swart gebiede (dorpsgebiede, lokasies en "stamtrusts") tot op hede steeds nie hul eie grond besit nie. Hul regering, soos ons s'n, besit egter 'n massiewe gedeelte van al die grond, waarvan baie oortollig is. Daar, net soos hier, is feitlik geen aandag gegee aan die groot potensiaal vir swart ekonomiese bemagtiging en vir die nasionale vooruitgang van gunstige bemarking van grondhervorming nie.

Die verbetering van verblyfreg en die herverdeling van oortollige staatsgrond sal 'n bemagtigingsdaad wees en sal die ekonomie meer versterk as enige ander voorstel wat tans oorweeg word. Dit sal groter rasseharmonie skep, is noodsaaklik vir die moreel en is ekonomies vooruitstrewend.

>li>Mnr. Leon Louw is die uitvoerende direkteur van die Vryemarkstigting. Die menings in die artikel is dié van die skrywer en word nie noodwendig deur die lede van die Vryemarkstigting onderskryf nie.

Landbouweekblad, 20 Julie 2007