Die Regering se nuwe benadering van proaktiewe grondaankope en gebiedsgebonde grondhervorming kan 'n bepalende invloed op grondhervorming hê. Die georganiseerde landbou steun grootliks die gedagte van gebiedsgebonde grondhervorming, met die verantwoordelikheid daarvoor op plaaslike regeringsvlak.
Grondhervorming is 'n uiters emosionele kwessie wat lank reeds die landboutoneel in Suid-Afrika oorheers. Talle planne om dit deur te voer, is al met wisselende sukses ingestel.
Die Regering openbaar egter nuwe denke oor grondhervorming en die toepassing daarvan. Voorstelle word ter tafel gelê wat grondhervorming kan versnel en volhoubaar maak, dermate dat die georganiseerde landbou ook opgewonde daaroor is.
Die turksvy van grondhervorming word nou vanuit 'n vars hoek met nuwe instrumente aangepak. Wat op die tafel is, behels die sogenaamde eendoelinstelling, oftewel die "special purpose vehicle" (SPV), wat aangewend sal word om grond te identifiseer, aan te koop, te bestuur en na-vestigingsorg te verleen.
Dit is omdat besef word dat talle projekte nie volhoubaar is nie. Mense is nie werklik bemagtig nie en in sommige gevalle is hulle selfs slegter af as voorheen.
Die probleem met grondhervorming is nie dat daar te min grond of geld in Suid-Afrika beskikbaar is nie, of dat grondeienaars nie wil saamwerk nie. Goeie wetgewing bestaan, maar by die toepassing van grondhervorming word vasgeval.
Daarom veroorsaak hierdie nuwe benadering - ingevolge waarvan die private sektor 'n aansienlik groter rol sal speel as tot dusver - groot opgewondenheid en afwagting in die landbou.
Me. Annelize Crosby, Agri SA se adviseur oor regs- en grondsake, het op die jaarlikse kongres van Agri Wes-Kaap die idee van grondforums op plaaslike vlak bespreek.
Sy het gesê die gedagte van gebiedsgebonde grondhervorming kom van 'n geslaagde benadering in KwaZulu-Natal, naamlik die Besters-benadering. Dié boerevereniging het betrokke geraak by grondhervorming en ander belanghebbendes betrek.
Crosby het gesê daar is nou meer duidelikheid oor die Regering se grondherverdelingteiken van 30 %. Vir Agri SA is gesê dit is nie net 'n nasionale teiken nie, maar een wat tot in elke distrik toegepas moet word. Geen "kruissubsidiëring" sal toegelaat word nie. As meer grond byvoorbeeld in Mpumalanga oorgegaan het, beteken dit nie dat die Wes-Kaap dalk minder hoef te herverdeel nie.
Sy het gesê die georganiseerde landbou steun grootliks die gedagte van plaaslike grondforums om grondhervorming te versnel. Dit is vervat in die grondbeleidsdokument wat Agri SA in 2006 aanvaar het en nou word 'n toepassingstrategie vir dié beleid ontwikkel.
Dit berus op onder meer die idee van plaaslike grondforums. Mense op plaaslike vlak - waarskynlik op munisipale vlak - moet bemagtig word sodat hulle oplossings vir hul eie grondhervormingsprobleme kan vind.
Op nasionale vlak bestaan beperkinge met grondhervorming en daarom vat die gedagte van plaaslike grondforums sterk pos. Mense in munisipale gebiede word regstreeks geraak deur grondhervorming. Hulle weet waar grond beskikbaar is, die gehalte daarvan, wat die gebied se behoeftes is, hoeveel uitstaande grondeise bestaan, of daar verblyfregdispute is, en watter begunstigdes die potensiaal het om 'n gevestigde boerdery te kan voorsit. Hulle weet ook wie kan as mentors optree, waar die markte is, watter produkte verbou kan word en watter beleggings nodig is.
Dit maak derhalwe sin om grondhervorming op dié vlak toe te pas, het sy gesê.
Die grootste uitdaging is die gebrek aan vermoë by munisipaliteite, want hulle gaan 'n sleutelrol speel in die nuwe benadering. Die Departement van Grondsake het egter gesê munisipaliteite sal hierin ondersteun word. Agri SA kry ook intussen sy lede gereed sodat sinvol aan grondhervorming op plaaslike vlak deelgeneem kan word.
Sommige munisipale bestuurders het aangedui dat hulle reeds gebiedsgebonde planne opstel. Agri SA meen die georganiseerde landbou kan dit eenvoudig nie bekostig om nie betrokke te wees nie, want die landbou het 'n belangrike rol hier, het Crosby gesê.
In Gauteng word die konsep van betrokkenheid by plaaslike gemeenskappe binne forums bedryf en dit is oënskynlik uiters geslaag. Dit is daar nie beperk tot net grondhervorming nie, maar sake soos brandbestryding en landelike veiligheid kry ook aandag. Baie goedgesindheid is al op dié manier opgebou.
Uit 'n voorlegging oor proaktiewe grondaankope van die Departement van Grondsake, waarvan die eerste aanduidings op die grondberaad in 2005 gegee is, blyk dit duidelik dat grondverdeling staatsgedrewe sal wees en nie net vraaggedrewe nie.
Dit beteken dat die staat beskikbare grond identifiseer en dit dan versoen met die vraag na grond vir herverdeling om die teiken van 30 % teen 2014 te haal. Daar is in dié dokument reeds verwys na gebiedsgebonde beplanning en ontwikkeling.
Volgens die dokument moet proaktiewe grondverkryging op distriksvlak geskied en die beplanning moet op streeksvlak gedoen word. Dit is egter nie meer nodig dat die Departement van Grondsake wag tot plaaslike owerhede hom nader oor grondhervormingsaspekte nie.
Die departement kan plaaslike owerhede ook help met kwessies, soos die behoefte aan grond, kandidate, ens. Munisipaliteite en plaaslike owerhede kan self grond vir herverdeling identifiseer, asook wie begunstig kan word, en dan die Departement van Grondsake nader vir bystand.
Volgens die dokument sal dié benadering die Regering in 'n posisie plaas om grond wettig (ingevolge die bepalings van die Wet op die Beskikbaarstelling van Grond en Bystand, Wet 126 van 1993) te bekom op grond van verkoopprys, onteiening of veilingsprys, sonder dat die grondregte onmiddellik na begunstigdes oorgedra word.
Wanneer geskikte begunstigdes geïdentifiseer is, kan 'n huurooreenkoms aangegaan word met die opsie om die grond te koop. Die verkoopprys sal bepaal word wanneer die begunstigdes gereed is om volle eienaarskap oor te neem.
Eers ná 'n proeftydperk waartydens begunstigdes bewys het hulle kan volhoubaar boer, kan die grond finaal aan hulle oorgedra word. 'n "Kwalifiserings"-leningstoekenning sal beskikbaar gestel word. Begunstigdes kan korting van 30 % op die koopprys van die grond kry, luidens die dokument.
Die toepassingprosedure sal uit 'n voorfase en vier verdere fases bestaan. In die voorfase sal die beskikbaarheid van en behoefte aan grond geïdentifiseer word, gevolg deur die eerste fase waartydens die grond bekom en geregistreer word in die naam van die Regering.
In die tweede fase word plase uitgelê, begunstigdes geïdentifiseer en geld beskikbaar gestel vir die skepping van infrastruktuur. Die derde fase is die proeftydperk en die vierde fase die werklike oordra van die grond in die naam van die begunstigdes nadat hulle bewys het hulle is in staat om suksesvol te boer.
Wat sê georganiseerde landbou?
In 'n amptelike beleidstandpuntdokument sê Agri Wes-Kaap plaaslike gemeenskappe behoort meer verantwoordelikheid te neem vir sake wat hulle regstreeks raak, dus "plaaslike oplossings vir plaaslike probleme".
Forums op plaaslike owerheidsvlak kan sake soos grondhervorming, waterbestuur, onderwys en opleiding, veiligheid, rampbestuur en gesondheid op 'n inklusiewe wyse bespreek en só die grondslag vorm vir samewerking tussen die private sektor, die owerheid en gemeenskappe.
Aanvanklik sal gefokus word op grondhervorming, maar ander sake kan ook later ingesluit word.
Betrokkenheid van alle belanghebbendes op grondvlak is belangrik vir billike, deursigtige en volhoubare grondhervorming, luidens die beleidsdokument.
Sekere stappe kan gedoen word om plaaslike forums in die lewe te roep. Dit is om dit by boereverenigings, bedrywe en landbou-ondernemings bekend te stel, belanghebbendes in elke gebied te identifiseer en dan gesprekke aan die gang te kry om vertroue te skep en die aanvaarding van die forum-gedagte uit te brei. Beskikbare grond, grondeise, verblyfregprobleme, potensiële begunstigdes, eisers en mentors moet geïdentifiseer word. Daarna moet 'n stigtingsvergadering gereël word.
Die hoofdoelwit is om op gestruktureerde wyse te kommunikeer, projekte en inisiatiewe te koördineer, vertroue te bou en op plaaslike vlak saam te werk.
Doelwitte is deursigtige en volhoubare grondhervorming, om die oogmerke van die strategiese plan vir landbou op plaaslike vlak deur te voer, om vryemarkbeginsels aan te wend om die teiken van 30 % te help haal, om 'n vennootskap tussen die private sektor en die staat vir grondhervorming op plaaslike vlak te stig, om ekonomiese groei in landelike gebiede te stimuleer, armoede te verlig, grondhervormingsprojekte te monitor en beter toegang tot finansiering en ander hulpbronne vir grondhervormingsprojekte te bewerkstellig.
Luidens die dokument word voorsien dat die forums uitgebrei kan word na aspekte soos veiligheid, onderwys, gesondheid, eiendomsbelasting, brandbestryding en rampbestuur. Die ideaal is 'n enkele forum met subkomitees waarby belanghebbendes betrek word.
Die aanvanklike funksies sal wees om belanghebbendes betrokke te kry, riglyne vir interaksie en samewerking daar te stel, die inskakeling van voorkeure by die geïntegreerde ontwikkelingsplanne van plaaslike owerhede, die identifikasie van beskikbare grond, die opbou van 'n databasis van grond, die identifikasie van begunstigdes en mentors, asook aspekte soos konflik, dispute, waardasies, sakeplanne en die betrokkenheid van finansiële instellings.
Elke forum moet besluit oor belanghebbendes wat betrek behoort te word, soos organisasies vir die kommersiële én opkomende landbou, plaaswerkersverenigings, die plaaslike owerheid, departemente van landbou, grondsake en waterwese, die grondeisekommissie, finansiële instellings, waardeerders, eiendomsagente, vakbonde, gemeenskapsverteenwoordigers, die sakekamer en landbou-opleidingsinstansies.
In die dokument word voorgestel dat behoorlike notules van vergaderings gestuur moet word aan 'n provinsiale forum wat in elke provinsie gestig sal word. Die provinsiale forum sal gereeld verslag doen aan 'n nasionale forum, wat nog gestig moet word.
Landbouweekblad, 31 Augustus 2007