Landbou
Grondhervorming kán werk
Deur CHARL VAN ROOYEN (cvanrooy@landbou.com)

'n Boerevereniging in KwaZulu-Natal het 'n plan gemaak om te verseker grondhervorming verloop seepglad deurdat ál die lede besluit het om grond vir dié doel af te staan. Hul plan vind selfs weerklank in 'n Wêreldbankverslag.

'n Groot aantal huurarbeider-eise en 'n enkele grondeis het die Besters-boerevereniging wes van Ladysmith in KwaZulu-Natal nét so bekommerd soos boere elders in die land gestem weens die swaard van grondeise wat oor hul koppe gehang het.

Hulle het besef dit help klaarblyklik nie veel om sulke eise een-een te beveg nie. Daarom het die vereniging byeengekom om die swaard oor hul koppe te bespreek. Die uiteinde was dat ál die lede besluit het die beste uitweg is om saam te staan. Almal het ingestem om grond af te staan en het met die Departement van Grondsake begin onderhandel.

Hul plan is deur Grondsake aanvaar en suksesvol afgehandel. Die projek vorm die kern van 'n verslag wat deur die Wêreldbank betaal is: Accelerating Sustainable, Efficient and Equitable Land Reform: Case Study of the Qedusizi/Besters Cluster Project. (Qedusizi is die Zoeloenaam van die Artikel 21-maatskappy wat gestig is om die projek te behartig.)

Mnr. Roland Henderson, vorige voorsitter van die boerevereniging en steeds 'n bestuurslid, wat die verslag help opstel het, sê hulle het georganiseerd te werk gegaan. Hulle het reeds in 2003 'n komitee aangewys om die saak namens die boere te hanteer en met Grondsake te onderhandel om 'n werkbare oplossing te vind. In dié proses het hulle met die plaaslike hoof, mev. Promise Makhanya, saamgewerk. Hul sukses kan grootliks toegeskryf word aan die feit dat hulle op plaaslike vlak onderhandel het en nie "met iemand in Pretoria" nie.

Hulle het ook talle vergaderings met die plaasbewoners met eise gehou, want dit was deel van die plan om eenstemmigheid onder alle betrokkenes te kry. Uiteindelik het hulle besluit om die projek uit te brei om ál hul plaaswerkers in te sluit, nie net diegene met eise nie. Gevolglik is 199 familiegroepe bestaande uit 2 500 mense betrek.

Die boerevereniging se lede boer op nagenoeg 70 000 ha, waarvan bykans 15 000ha (21,5%) vir die eisers aangebied is. Dit bestaan uit veertien blokke wat deur die hele gebied versprei is, verteenwoordigend van alle grondsoorte en wat 150ha tot 2 000ha groot is.

Die aanbod is deur die werkers aanvaar en Grondsake het ook Besters se voorgestelde prys vir die grond aanvaar. 'n Artikel 21-maatskappy is gestig om die nuwe grondeienaars se belange te behartig. Mnr. Zwelé Mbele is die voorsitter en Henderson die ondervoorsitter. Die LRAD (die staatsliggaam verantwoordelik vir die herverdeling van grond vir landbou-ontwikkeling) het R23,3 miljoen vir die projek beskikbaar gestel. Daarvan is R13,8 miljoen vir die koop van grond gebruik, R1,25 miljoen om die projek uit te voer en R8,15 miljoen vir infrastruktuur op die plase en die koop van vee. Die grond is in 2005 aan die nuwe boere oorgedra en ál die blanke boere het hul geld ontvang.

Die Departement van Landbou het twee van die distrik se jong boere, mnre. Stephan Boshoff en Simon Tedder, as mentors aangestel. Albei boer al tien jaar lank.

Volgens die Wêreldbankverslag het die projek baie goed begin en 'n lewensvatbare kommersiële beeskudde is in elke eenheid gevestig.

'n Groot "bonus" vir die boere van Besters is dat daar sedert die begin van die projek geen plaasmoorde was nie en dat misdaad skerp afgeneem het. Dit kan deels aan die opheffing van die gemeenskap toegeskryf word. Besters Sekuriteit, wat gestig is voor die onderhandelinge begin het, het egter ook 'n rol gespeel. Alle lede - ook die nuwe boere wat as groepe lid geword het - deel in die voordeel van plaasbeskerming. Almal dra by tot die sekuriteitsmaatskappy se geldkoffers met 'n bedrag per hektaar.

  • Navrae: Besters-boerevereniging, tel. 036 635 4304; e-pos: roland@inyamazane.co.za. Mentors se werk duur voort
    Mnre. Simon Tedder en Stephan Boshoff het saam grootgeword met net een plaas tussen hul ouers se plase. Hulle ken mekaar dus al lank en is goeie vriende. Albei boer steeds. Hulle moet 150 uur per maand aan die mentorskap bestee en kry nog genoeg tyd om self te boer.

    Hulle vertel die boerevereniging het eers 'n deeglike plaasbeplanning vir elk van die veertien blokke grond gedoen en begrotings opgestel. Nadat die staat die beplanning en begrotings aanvaar het, is geld inbetaal by die Artikel 21-maatskappy wat gestig is om die projek te behartig en die ontwikkelingswerk het in Maart 2006 begin. Hulle het 31 boorgate gesink en 285km lyndrade gespan. Daar was ook geld vir 11 trekkers, 11 brandkarre om veldbrande mee te bestry en 1 000 dragtige verse.

    Elke plaas se drakrag het bepaal hoeveel beeste 'n groep boere kon koop. Sommige van hulle het ook hul eie beeste gehad en dit is ook in aanmerking geneem by die plaasbeplanning.

    Boshoff en Tedder sê die ontwikkelingswerk is nou afgehandel, maar hul werk gaan voort, omdat hulle vir twee jaar deur die staat gekontrakteer is om die boere leiding te gee. Moontlik sal die kontrak daarna verleng word. "Ons maak seker die boere hou hulle by hul onderskeie begrotings. Hulle het goeie grond gekry en as hulle hard werk en dissipline aan die dag lê, is daar geen rede waarom hulle nie sukses kan behaal nie," sê Boshoff.

    Elke eenheid het sy eie gemeenskaplike eiendomsvereniging, met 'n voorsitter, sekretaris en penningmeester. Sodoende hoef die mentors nie elke keer met 'n groot aantal grondeienaars te vergader wanneer inligting oorgedra of leiding gegee moet word nie.

    Die aanvanklike mikpunt was om die nuwe boere te help om van bestaansboerdery weg te beweeg en meer ekonomies te boer. Die mentors sê dit was dalk 'n fout, want nie almal wil boer of selfs op hul grond woon nie. Die plan is nou om die plase in kleiner eenhede te verdeel sodat elke boer of gesin sy eie grond het. Dan kan diegene wat nie wil boer nie, hul grond aan die ander verkoop wat werklik die begeerte het om te boer. Uiteindelik behoort net die boere oor te bly.

    Dit was gou duidelik watter grondeienaars nie boere is nie, want van hul lyndrade het verdwyn en die plase is verwaarloos. Aan die ander kant het die ware boere gou hul kleur gewys en hul veegetalle neem toe.

    'n Beter plan kan egter wees dat die staat landboudorpies stig waar die nuwe grondeienaars woon. Nou bou elkeen net waar hy wil 'n huis op die gemeenskaplike grond en verminder sodoende die beskikbare landbougrond. Dit beteken meer geld moet ook aan die voorsiening van water en elektrisiteit aan elke huishouding bestee word.

    Die geld wat deur die staat bewillig is, was teen Maart vanjaar op. Nou is die nuwe boere op hulself aangewese en moet hulle self geld genereer om die boerdery aan die gang te hou, uit te brei, produksiemiddele te koop en lone te betaal. Die mentors help ook in daardie opsig met onderhandelinge met banke en ander hulp. Dus verrig hulle ook 'n maatskaplike funksie. Baie van die boere het ook nie kennis van bemarking nie. Die mentors help hulle om die beste markte vir hul speenkalwers te kry waar hulle die meeste geld kan verdien.

    Die mentors het tot dusver meestal sonder toesig gewerk. Klaarblyklik is die Departement van Landbou tevrede met hul bestuursrol. Volgens Tedder en Boshoff is daar ook groot waardering onder die nuwe boere vir hul leiding.

    Waardevolle lesse
    Waardevolle lesse is uit die Besters-projek geleer, waarvan ander groepe of boereverenigings gerus kennis kan neem. Mnr. Roland Henderson noem 'n aantal lesse uit die Wêreldbankverslag wat van waarde vir Landbouweekblad se lesers kan wees:

  • Gemeenskaplike vertroue is noodsaaklik. Die onderskeie groepe (grondeisers, kommersiële boere en Departement van Grondsake) moet mekaar vertrou. Dus moet elke groep sterk leiers hê en almal moet betrokke raak.
  • Ál die betrokkenes kan groot voordeel trek. Die meeste van die blanke boere boer steeds en 2,6 keer meer grond is aan die nuwe grondeienaars toegestaan as wat aanvanklik geëis is. Die staat trek ook voordeel, omdat hy billike pryse vir die grond betaal het.
  • Doeltreffende leierskap werp vrugte af. Almal moes mekaar van die begin af vertrou. Daar was nie 'n model om te volg nie; hulle moes dit self ontwerp. Die projek kon nie soveel sukses behaal het sonder goeie leiers nie.
  • Genoeg grond is noodsaaklik. Omdat die boere genoeg grond aangebied het, kon die transaksies vinnig afgehandel word, danksy 'n benadering van gewillige verkopers én kopers.
  • Begunstigdes moet betrek word. Dit was noodsaaklik om die begunstigdes in ál die aspekte van besluitneming te betrek.
  • Doeltreffende ontwikkeling van vermoë en die sleutelrol van mentors het gehelp. Verpligte opleiding, gespesialiseerde opleiding en die opdoen van ondervinding in die werkplek (doen-en-leer) is noodsaaklik. Mentors is veral by die doen-en-leer-tegniek noodsaaklik.
  • Skep 'n verenigde stelsel. Die huidige struktuur vereis afsonderlike aansoeke vir die finansiering en die bestuur van die verskillende afdelings van grondhervorming en plaasontwikkeling. Dit is baie ondoeltreffend. 'n Verenigde stelsel is nodig om die koop van grond, plaasontwikkeling, huisvesting, aanvangskapitaal en tegniese bystand in te sluit.
  • Oorweeg 'n "alles-in-een-winkel" vir grondhervorming en plaasontwikkeling. Die proses wat die staat tans volg om grond te koop, oor te dra, mense te vestig en infrastruktuur te ontwikkel, is omslagtig en tydrowend. Dit kan gladder verloop as alle staatsbetrokkenes as 'n span saamwerk. Die Departement van Landbou en Grondsake werk reeds aan só 'n plan.

    Henderson voeg nog lesse by:

  • Die sosiale aspekte van grondhervorming en die begunstigdes moet groot aandag geniet om armoede te verlig.
  • Die staat moet kleiner, maklik bestuurbare eenhede oorweeg, want nie alle begunstigdes se bestuurs- en finansiële vermoëns is ewe groot nie.

    Hy het ook raad vir boere wat deur grondeise geraak word. Hulle moet betrokke raak, al gaan hulle met baie frustrasies en trane te doen kry, anders sal dit nie suksesvol wees nie.

    Landbouweekblad, 7 September 2007.