Landbou
Restitusie-spertyd ál nader
Deur JEAN-MARIE DE WAAL (jdewaal@landbou.com)

Lang ure, byna hartaanvalle, geen naweke of vakansiedae nie, ver afstande en deurgaans 'n horlosie wat die tyd kliphard aftel: Dít is die lewe van 'n grondeisekommissaris. Daar is nog net 'n paar maande oor van 'n opdraande pad wat sedert 1995 geloop is en waarvoor geen padkaart bestaan het nie.

Sedert die promulgering van die Wet op die Herstel van Grondregte (Wet 22 van 1994) - een van die eerste stukke wetgewing wat in demokratiese Suid-Afrika aanvaar is - is 74 539 grondeise afgehandel. Die oorblywende sowat 5 000 eise, bykans almal landelik, word egter as die grootste uitdaging beskou.

Nóg 'n uitdaging is om ondersteuning aan die begunstigdes te gee sodat hulle die grond volhoubaar kan benut. Daarvoor gee die wetgewing nie eens 'n mandaat aan die Kommissie op die Herstel van Grondregte nie. Hy het onlangs uit eie inisiatief 'n plan begin ontwikkel ter ondersteuning van begunstigdes. Meer as 47% van die grond wat teruggegee is, word vir landboudoeleindes gebruik.

Nuus oor bogenoemde uitdagings, en nie die versekerings van sukses wat amptenare oor die jare gemaak het nie, is wat die publiek sedertMaart vanjaar gereeld hoor. "Ons het tot die nugtere besef gekom dat ons dalk 30% van die orige eise nie teen 31 Maart volgende jaar afgehandel sal hê nie," het me. Tumi Seboka, grondeisekommissaris vir Gauteng en Noordwes, weer onlangs aan lede van die Nasionale Vergadering se portefeuljekomitee vir landbou en grondsake gesê.

Maar in die kommissie se jaarverslag vir die tydperk tot 31 Maart vanjaar sê me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, dat Suid-Afrika goed vaar vergeleke met ander lande. Tot nou toe is net meer as 93% van sy eise afgehandel.

Duitsland, een van die lande wat 'n restitusieproses het, staan op 80 %. Nieu-Seeland, Australië en Kanada het 5% tot 8% van húl eise afgehandel.

En in sy bydrae in die jaarverslag gebruik mnr. Tozi Gwanya, die hoofgrondeisekommissaris, die volgende aanhaling van Samuel Smiles, die Skotse skrywer van die boek Self-Help (uitgegee in 1859): "Dit is 'n fout om te veronderstel dat mense sukses behaal deur sukses; hulle behaal meer dikwels sukses deur mislukking. Voorskrifte, studie, raad en voorbeelde sou hulle nooit so goed soos mislukking kon leer nie."

Besteding in die boekjaar 2006/'07 het R2,3 miljard beloop - R500 miljoen meer as die vorige jaar. Maar R1 miljard is aan die Tesourie teruggegee, aangesien daar nie 'n stelsel was waarvolgens die geld bestee kon word nie, het mnr. Mashile Mokono, grondeisekommissaris vir Limpopo, aan die portefeuljekomitee verduidelik.

Die Tesourie is onlangs weer genader vir die einste geld sodat dit vir die ondersteuning van begunstigdes gebruik kan word. Gwanya sê eise wat na die Grondeisehof vir beslissing gestuur is, eise waar daar geskille met tradisionele leiers of grondeienaars is en eise waar die eisers nie opgespoor kan word nie, sal nie teen volgende jaar afgehandel wees nie.

Tot dusver is 1 650 851 hektaar grond aan die oorspronklike eienaars terugbesorg. Sedert die begin van die proses het die staat meer as R10,7 miljard aan die proses bestee.

Kenmerkend van die land se restitusieproses was verskeie versoeke wat aan die Regering gerig is om die afsnypunt vir die indiening van eise te verleng. Die Regering het egter geweier omdie proses te heropen. Nog 'n verskynsel was die sogenaamde tjekboek-restitusie, waar die begunstigdes geld eerder as grond verkies het.

Aan die einde van Julie het die kommissie hierdie uitdagings (asook 'n paar moontlike oplossings) aan verskeie portefeulje-komitees verduidelik. Volgens die kommissie bly grondpryse hoog en is die markgerigte benadering 'n probleem. Onafgebakende grond en ongeregistreerde grondregte, uitgerekte onderhandelinge met grondeienaars en gemeenskapsgeskille is verdere probleme.

Daar is nie eenstemmigheid oor nasionale voorrangsake nie -grondgebruik vir grondhervorming suig dikwels aan die agterspeen. Die Onteieningswet, wat met restitusie sal help, is byvoorbeeld nog nie gewysig nie.

Verder het eisers dikwels nie die nodige dokumente, soos 'n huweliksertifikaat of 'n identiteitsboekie nie. Familietwiste kom algemeen voor. Amptenare moet ook op die uitkyk wees vir bedrieglike eisers.

Die Wet op Kommunale Grondregte en sy toepassing al dan nie veroorsaak ook probleme. Die kommissie hoop dat die voorgestelde eendoel-instelling sal help om van hierdie uitdagings die hoof te bied. Sowat R10 miljoen is ook van die Belgiese regering ontvang om 'n konsortium vir ná-vestigingsondersteuning op die been te bring.

'n Plan teen bedrog en wanbestuur is nou reg om toegepas te word, verseker Seboka. Om markpryse dop te hou, is 'n nasionale waarderingspaneel op die been gebring. 'n Grondtrust is ingestel om grond namens begunstigdes te hou totdat hulle in staat is om die verantwoordelikheid oor te neem.

Wat geskille met tradisionele leiers betref, word politici nou betrek. 'n Agentskap is geskep om mediasie tussen familielede te behartig. Op ministeriële vlak kyk Xingwana tans na die kwessie van die beskikbaarheid van staatsgrond.

Restitusie is 'n ingewikkelde proses en amptenare moet kundig wees. Die kommissie ervaar egter deurgaans 'n hoë vlak van vakante poste. Tans beloop dit 42%. Meganismes vir die behoud van personeel word ontwikkel. Volgens Mokono sal die amptenare van die kommissie waarskynlik volgende jaar poste in die Departement van Grondsake kry.

Die uitdagings vir restitusie in die verskillende provinsies

Oos-Kaap:
600 uitstaande eise tot 31 Maart 2007

Vernaamste uitdagings:

  • Uitstaande eise op bosbou- en bewaringsgrond.
  • Geskille oor geldigheid van eise.
  • Tradisionele leiers en grensgeskille.

    Vrystaat:
    100 uitstaande eise tot 31 Maart 2007

    Noord-Kaap:
    229 uitstaande eise tot 31 Maart 2007

    Vernaamste uitdagings in die Vrystaat en Noord-Kaap:

  • Personeel verlaat poste.
  • Sommige grondeienaars se "negatiewe houding" teenoor die proses.
  • Daar is nie genoeg diensverskaffers nie.

    Gauteng:
    10 uitstaande eise tot 31 Maart 2007

    Noordwes:
    247 uitstaande eise tot 31 Maart 2007

    Vernaamse uitdagings in Gauteng en Noordwes:

  • Eisers vereis die onderverdeling van restitusiegrond.
  • Faksies in tradisionele leierskap en die kommunale eiendomsverenigings.
  • Eise wat in fases afgehandel word weens lang onderhandelings met grondeienaars bemoeilik beplanning.

    KwaZulu-Natal:
    1 822 uitstaande eise tot 31 Maart 2007

    Vernaamse uitdagings in KwaZulu-Natal:

  • Die volhoubaarheid van grondgebruik.
  • Weerstand van die plaasgemeenskap.
  • Familie- en gemeenskapgeskille.
  • 'n Personeeltekort.

    Mpumalanga:
    971 uitstaande eise tot 31 Maart 2007

    Vernaamse uitdagings in Mpumalanga:

  • Personeel verlaat poste.
  • Weerstand teen restitusie.
  • Eisers kan nie opgespoor word nie.

    Limpopo:
    700 uitstaande eise tot 31 Maart 2007

    Vernaamse uitdagings in Limpopo:

  • Geskille binne gemeenskappe.
  • Verskille oor grondpryse tussen eienaars en die kommissie.
  • Plaaslike owerhede wat 'n swak begrip van die restitusieproses het.
  • 'n Tekort aan kapasiteit en kundigheid.

    Wes-Kaap:
    600 uitstaand eise tot 31 Maart 2007

    Vernaamse uitdagings in die Wes-Kaap:

  • Politieke veranderings pooitjie onderhandelinge oor staatsgrond.
  • Uiters hoë markpryse.
  • Plaaslike regerings kan nie ondersteuning aan begunstigdes gee nie.

    Bron: Die Kommissie op die Herstel van Grondregte se jaarverslag vir die jaar tot 31 Maart 2007

    Landoubweekblad, 28 September 2007