Ek het eerstehandse ondervinding van die uitwerking op werkers en grondeienaars van 'n grondeis wat deurgevoer is.
By Newcastle in KwaZulu-Natal, waar ek geboer het, is 'n grondeis in die stadium waar die Departement van Grondsake met die boere oor grondpryse onderhandel. Daar is boere wat tevrede is en boere wat baklei, maar dit is nie wat ek wil bespreek nie.
Die grondeisers sowel as die mense wat met die eis werk, het met 'n skok besef die oomblik as die eienaarskap van die grond oorgaan na die nuwe eienaars toe, is die projekte wat werkskepping bevorder, vir hulle verlore.
Die boere besit nie net plase soos in die goeie oue tyd nie. 'n Boerdery is deesdae 'n stuk grond waarop 'n besigheid bedryf word wat werkgeleenthede bied en met gesonde bestuur wins genereer.
In hierdie omgewing werk sowat 2 000 mense op plase. Hulle is broodwinners vir sowat 10 000 mense, wat leerders, maar ook pensioentrekkers insluit.
Projekte soos 'n steenmakery, 'n meule om mielies te maal, 'n abattoir wat varke en skape slag, en die kweek van mielies onder besproeiing is reeds gevestig. Die plaaseienaars het dit gevestig en winsgewend bedryf. Die projekte het reeds die toets van die tyd deurstaan wat betref omgewingsfaktore, klimaat en lewensvatbaarheid.
Beproefde projekte wat 'n goeie inkomste vir die boer opgelewer het en nou lonend vir die nuwe eienaars kan wees, gaan tot niet omdat dit nie by die kooptransaksie ingesluit is nie.
Die nuwe eienaars word ontneem van al die beproefde werkskeppingsgeleenthede en die finansiële voordele wat die projekte hulle kan bied, want hulle het nie die ervaring of die kapitaal om dit self te bedryf nie.
Die verkoper wat die risiko geloop het om die projek aan te pak, te finansier en reeds die groot haakplekke uitgestryk het, is die aangewese mens om die nuwe eienaars te ondersteun en te onderrig.
Dit is egter ondenkbaar om samewerking te verwag as die vorige eienaar verontreg voel. Hartseer en frustrasie ontstaan as 'n boer gedwing word om sy grond te verkoop en hy boonop moet toesien dat die besigheid wat hom al die jare versorg het, tot niet gaan.
Die verkoper ervaar ook die emosie dat hy meteens werkloos is. Dit is nie altyd moontlik om die projek elders te bedryf nie en dit sal boonop in kompetisie met die kopers wees.
Die verkoper is die aangewese mens om die vaardighede wat nodig is om van die projek 'n sukses te maak, aan die kopers oor te dra. Die kopers word beskerm en die verkoper gemotiveer deur sy vergoeding te bereken as 'n persentasie van die netto wins.
Die verkoper se betrokkenheid en vrywillige samewerking kan verbeter word deur die volgende aspekte:
Oor die koop van die eiendom en van die besigheid wat bedryf word, en oor die bestuurshulp aan die nuwe eienaars moet gelyktydig onderhandel word.
As albei partye vertroud is met die bedrywighede van die projek kan gefokus word op die bestuursopleiding van die nuwe eienaars. Die vorige eienaar wat nou hierby betrokke is, ondergaan nie onmiddelik 'n lewenstylverandering nie en voel hy kan steeds 'n bydrae lewer. Gevolglik word hy dan deel van die grondhervormingsproses.
Die aankoop van die projekte is nie op dreef nie omdat ons nog nie die regte staatsdepartement vir finansiering kon identifiseer nie. Ek was verheug toe ek in Johan Coetsee se artikel "Opwindende nuwe denke oor grond" (LBW, 31 Augustus) lees die geld is beskikbaar. Nou moet ons net vasstel wie die regte mens is om mee te praat.
Ek bevraagteken egter die betrokkenheid van munisipaliteite by die grondhervormingproses. Dit is 'n resep vir 'n ramp om die ganse opheffingsprojek onder die bestuur te plaas van munisipaliteite wat nie die nodige insig en kennis van die betrokke bedryf het nie.
Boerdery en saamwerksituasies vereis vinnige en doeltreffende optrede wat nie juis munisipaliteite se sterk punte is nie.
Ek is gevra om as onderhandelaar op te tree, met die uitsluitlike doel om werkskepping te bevorder. Die afgelope 40 jaar was ek as boer en sakeman deel van die gemeenskap en ek doen my bes om vir al die betrokke partye die beste oplossing te beding.
Landbouweekblad, 28 September 2007
Die mening wat in hierdie artikel uitgespreek word, is dié van 'n leser. Landbouweekblad stem nie noodwendig daarmee saam nie.