Die eienaars van die mees unieke dorpsplase in die land is ná dekades van stryd steeds die willose slagoffers van belangegroepe. Dié plase word al hoe hewiger deur dorpsontwikkeling onder druk geplaas.
Binne enkele dae sal dit 350 jaar wees sedert die eerste Nederlandse nedersetters aan die Kaap "de groot berghriviere" bereik het. Dit het hulle gedoen min wetende van die ontwikkelings wat komende geslagte op veral landbougebied sou meemaak in die vallei wat later Drakenstein genoem sou word.
Sowat 30 jaar nadat Abraham Gabbema en sy geselskap deur die kloof tussen "den Diamandt en de Peerlbergh" na die rivier getrek het, is die eerste plase daar aan Franse Hugenote uitgegee.
Van dié plase het gestrek vanaf die huidige Paarlberg tot teenaan die Bergrivier, die slagaar van die vallei wat kronkel tussen die Paarlse granietberg en die blou "gebergtes van Afrika", soos Jan van Riebeeck dit genoem het.
'n Wapad het mettertyd die betrokke plase wes van die Bergrivier met mekaar verbind. Hierdie plase is stelselmatig tussen hierdie pad (nou die Paarl se hoofstraat) en die rivier onderverdeel, meestal as huiserwe wat hoofsaaklik deur handelaars gekoop is.
Die nedersetting het snel uitgebrei, maar die hoofdorp het met hierdie sogenaamde dorpsplase in sy midde oor geslagte heen sy landelike en estetiese karakter behou. Selfs tot vandag toe is die voorkoms en omvang van hierdie plase (waarvan enkeles nog tot teenaan die hoofstraat geleë is) uniek in die land. Met hul wingerde en historiese geboue is dit 'n absolute fees vir die oog en 'n lokmiddel vir toeriste van oraloor.
Sonder enige oorhoofse plan is dié plase en die gepaardgaande landbousektor met verloop van tyd egter al hoe meer deur dorpsontwikkeling onder druk geplaas. In só 'n mate was dit die geval dat 24 van die oorspronklike plase teen 1970 deur die destydse munisipaliteit geïdentifiseer is om feitlik ongeskonde behou te word sodat die landelike en historiese karakter van die dorp as 'n erfenisskat sou kon voortbestaan.
Aangesien die plase aan munisipale en streekdienstebelasting onderhewig was, was die idee dat die betrokke boere belastingtoegewings sou bekom en dat hulle boonop voorsien sou word van water - 'n hulpbron waartoe sommige van dié boere nie toegang gehad het nie.
Hierdie toegewings het egter nooit gematerialiseer nie, sê mnr. Derek Clift, een van die boere se segsmanne. Hy boer op die historiese plaas De Hoop, teen die hange van die Paarlberg. Hy woon nou op die grond wat in 1688 aan Jean Cloudon uitgegee is en wat nege geslagte lank in die besit van die Minnaar-familie was.
In 1959 het Clift se oupa, William, wat die onderneming JA Clift tot die grootste granietverwerker daar ontwikkel het, die plaas gekoop. Graniet word nou al langer as 'n eeu op De Hoop ontgin. Op die plaas word met tafel- en wyndruiwe geboer.
Aanvanklik was die Paarl se tafeldruiwe die vroegste op die mark, maar dit word nou reeds jare lank deur ander gebiede teen prima pryse vooruitgegaan.
"In die jongste dekades word tafeldruifprodusente op hierdie plase dus deur ekonomiese werklikhede gekonfronteer," sê Clift.
Boonop is die oorproduksie van wyn wêreldwyd 'n gegewe en duur dit 'n paar jaar voordat nuwe wingerde in drag kom.
Baie van die plase is nie meer ekonomiese boerdery-eenhede nie. Vir langer as sewe jaar al poog hierdie plaaseienaars om die Drakenstein-munisipaliteit te oortuig van die noodsaaklikheid van residensië-le ontwikkeling op hierdie grond wat binne die dorpsgrense beskikbaar is omdat daar geen ander residensiële bougrond in die Paarl is nie.
Terwyl die ekonomiese knyptang toenemend druk en dorpsontwikkeling en die groterwordende vraag na behuising die dorpsplase al hoe meer laat swig, is 'n nimmereindigende stryd tussen belanggegroepe dus ontketen.
Die munisipaliteit het wel oorgegaan tot die opstel van 'n dorpsplase-beleid vir die Paarl, maar die sprankie hoop wat hierdie konsepbeleid vyf jaar gelede aan die betrokke boere gebring het, het soos mis voor die son verdwyn, sê Clift. In dié dokument is onder meer voorgestel dat die betrokke boere nie van hul grond vir dorpsontwikkeling (dus ook vir behuisingsprojekte) mag afstaan nie. Indien hulle van die grond kon laat onderverdeel, sou dit sommige van hulle van 'n finansiële verknorsing kon red.
Die geelwortel wat egter uitgehou is, is dat hierdie boere darem vergoed sou word vir hul uitsluiting van ontwikkelingsregte.
"Dit was egter ook slegs 'n leë belofte. Ook die finale voorstel twee jaar gelede vir ondersteunende aksies om te verseker dat dorpsplase 'n waardevolle bate vir die huidige geslag en toekomstige geslagte sal bly, was net 'n rookskerm," sê Clift.
Slegs toeristeverwante ontwikkelings op grond, soos gastehuise en restaurante, word toegelaat, maar daarvan is daar reeds 'n ooraanbod.
Ondanks die ongelukkigheid wat uit hierdie toedrag van sake spruit, is daar tog 'n groot mate van wedersydse begrip vir die menings van die verskillende belanggegroepe. Dit sluit in die erfenisbewaarders wat die dorp se unieke karakter voorop stel, diegene wat hunker na dorpsuitbreiding ter wille van woongeriewe en uiteraard ook die betrokke boere wat in 'n oorlewingstryd gewikkel is.
Almal besef dat daar 'n balans tussen bewaring en vooruitgang en die belange van die inwoners en toerisme moet wees. Die vraag is egter wie hierdie balans gaan bepaal, sê Clift.
"Wat uiteindelik 'n deurslaggewende faktor is, is die waarde wat 'n spesifieke groep of individu aan die spesifieke grond heg. Vir sommige gaan dit net oor nuwe dorpsontwikkeling sodat voldoende behuising aan alle bevolkingsgroepe verskaf kan word en vir andere dalk weer om te oorleef op 'n historiese stuk aarde sonder om oordadig aan die karakter daarvan te verander. Dit is dus 'n uiters komplekse stryd wat nimmereindigend blyk te wees," meen Clift.
Volgens hom wil geen owerheid of instansie egter 'n objektiewe besluit neem oor watter deel van die dorp vir wie bewaar moet word nie of 'n finansiële waarde vir die spesifieke grond vasstel nie. Derhalwe word die dorp se toekomstige karakter uiteindelik vasgevang in 'n omstrede stryd sonder enige visie.
"Oor 'n aantal dekades heen moes ons boere die koste ter wille van bewaring dra, maar by gebrek aan wesenlike besluite word die kwessie 'n speelbal wat rondgegooi word tussen munisipale amptenare, die Departement van Grondsake, die provinsiale regering en die nasionale gesag. Uiteindelik beland dit weer by die munisipale owerheid." Intussen moet die boere en hul plaaswerkers oorleef, "maar ons kan nie geskiedenis eet en drink of rekeninge daarmee betaal nie," soos een van die boere dit stel.
Landbouweekblad, 19 oktober 2007