Landbou
Grondeise dalk nie klaar
Deur ISABEL STOLTZ

Dit is nie 'n uitgemaakte saak dat nie in die toekoms na nuwe grondeise gekyk sal word nie.

Volgens mnr. Tozi Gwanya, hoof Grondeisekommissaris, is 6 miljoen mense in die apartheids-era weens rassediskriminasie verskuif, maar slegs 79 696 eise is ingestel wat sowat 600 000 mense verteenwoordig."Sowat 90% van mense wat verskuif is, het nie eise ingedien nie."

Op 'n vraag of die moontlikheid dan steeds bestaan dat na nuwe eise gekyk gaan word, was me. Tumi Seboka, grondeisekommissaris van Gauteng en Noordwes, se kommentaar "nie in dié stadium nie. Die Grondeisekommissie se mandaat maak dit nie moontlik om verdere eise nou te aanvaar en te hanteer nie".

Volgens Gwanya het Suid-Afrika se "administratiewe benadering" tot grondeise hom 'n leier op dié gebied gemaak. Hy het verwys na Kanada, Australië en Nieu-Zeeland "waar dit gemiddeld 15 jaar vat om 1 eis af te handel, terwyl ons dit in 5 jaar doen en nou poog om dit deur onderhandeling verder te verminder na 18 maande."

Gwanya het gesê hy is nie tevrede met volhoubare oordrag soos dit dusver gedoen is nie, maar hy hou nie van die "negatiewe houding wat voorspel dat grond wat aan begunstigdes gegee word, produktiwiteit verminder nie".

"Ons wil graag meer strategiese vennootskappe en samewerking sien want as landbou nie 'n sukses is nie, sal dit waarskynlik die hele ekonomie afpluk."

Probleme wat die restitusieproses vertraag, is dispute rondom tradisionale leierskap en grense, ongeregistreerde grondregte, hoë pryse en die geldigheid van eise wat deur die hof beslis moet word.

Gwanya sê "die hof kan nie aangejaag word nie". Dié eise sal ná Maart 2008 afgehandel word "met die reëls wat dan geld".

Mnr. Piet Kemp, hoofbestuurder van die TLU SA Oos, sê dit hinder hom dat die debat oor mense wat nie geëis het nie, lewendig gehou word, terwyl 'n groot persentasie eise wat wel ingedien is reeds hoogs aanvegbaar is.

Hy is ook bekommerd oor die groot aantal eise wat nog uitstaande is wat ná Maart 2008 afgehandel sal word, "klaarblyklik met nuwe reëls".

18 Oktober 2007