Die grondeisekommissaris van Limpopo, mnr. Mashile Mokono, verskyn weer op 9 Januarie saam met vier van sy amptenare in die hof op 'n klagte van bedrog in 'n grondeis.
Die saak hou verband met die Dwarsloop-grondeis tussen Hoedspruit en Bosbokrand. Na verneem word is sowat R2,5 miljoen betrokke. Dié geld was glo bestem vir etlike begunstigdes "wat nie bestaan nie".
Begunstigde gesinne ontvang 'n vestigingstoelaag van R3 000 elk.
Volgens mnr. Tlali Tlali, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, is 100 bedrieglike eise ingedien en bankrekenings geopen waarin die geld betaal is. Hy sê dit is moontlik dat nóg klagte in die loop van die ondersoek bygevoeg kan word.
Dr. Theo de Jager, voorsitter van Agri SA se grondsakekomitee, sê dit is net die oortjies van die seekoei.
Landbouweekblad, 11 Januarie 2008