Dis duidelik dat almal die kompleksiteit van grondhervorming in Suid-Afrika onderskat het. Dit word nou bestempel as deurspek van probleme - met ernstige en onbedoelde nagevolge.
Dit is van die belangwekkende bevindings wat na vore kom in die Centre for Development and Enterprise (CDE) se navorsingsverslag oor die grondkwessie wat pas vrygestel is.
Die verslag spruit uit 'n rondetafel-gesprek wat die CDE in Oktober 2007 gereël het en waaraan 'n wye groep boere - swart en wit - asook ander belanghebbendes in die grondhervormingsproses deelgeneem het. Altesame 24 mense was teenwoordig, die meeste boere, met verteenwoordigers uit die finansierings- en ontwikkelingsektor, die Grondeisehof, koöperasies en produsente-organisasies wat ook insette gelewer het.
In hul opsomming van die gesprekke sê die CDE se uitvoerende direkteur, me. Anne Bernstein, asook die sameroeper van die byeenkoms, mnr. Jeff McCarthy, wat nou dringend nodig is, is 'n regeringsgeleide inisiatief waar reguit oor die kwelvrae gepraat en praktiese oplossings gevind kan word. Die probleem is nie 'n gebrek aan welwillendheid, of boere wat onwillig is om aan die grondproses deel te neem nie. Dis eerder 'n mengsel van faktore, insluitend die ingewikkeldheid van wat nou probeer word, wat lei tot onbedoelde en ernstige negatiewe gevolge.
Soos die SIS-verslag, wat pas deur Landbouminister Lulu Xingwana vrygestel is, wys die CDE-verslag ook op die "uitsonderlike" swak vermoë in die Regering om grondhervorming te laat slaag. Dit bemoeilik die restitusie- en hervormingsproses en voorkom in baie gevalle die gunstige gevolge wat die land nou nodig het.
Seker een van die belangwekkendste opmerkings is dat daar tans ernstige negatiewe sentiment in die landbousektor aan die opbou is. Dit lei tot 'n kwynende belegging in die sektor en 'n verskuiwing van SA landbou na ander lande.
In hierdie verband het een van die deelnemers aan die gesprek die volgende opmerking gemaak: "Ek vrees die dag gaan aanbreek dat ons (Suid-Afrika) 'n netto invoerder van ons eie produkte gaan word, verskaf deur ons eie boere wat in buurlande produseer omdat die kommunikasiekanale nie oop is nie."
27 Februarie 2008