Landbou
Grondsake 'mors' R40 miljoen
ISABEL STOLTZ

Die Departement van Grondsake en die Grondeisekommissie het bykans net soveel belastinggeld gemors op hofsake in 'n grondhervormingstransaksie as wat hulle aangevoer het hulle belastingbetalers daarmee wou spaar.

Die georganiseerde landbou verdink die Departement van Grondsake van verskuilde agendas in die restitusie- en grondhervormingsproses nadat die Grondwethof hom moes dwing om agt plase vir die hervestiging van swart gemeenskappe by Badplaas in Mpumalanga te koop.

Mnr. Tozi Gwanya, vorige hoofgrondeisekommissaris en nou direkteur-generaal van Grondsake, asook me. Lulu Xingwana, minister van Grondsake, beveg die afgelope bykans vier jaar lank die saak in die Grondeisehof, die Appèlhof en nou die Grondwethof met belastingbetalers se geld.

Dié saak sloer al sedert Desember 2004 nadat die Grondeisekommissie die koop in 'n gevorderde stadium gekeer het op grond van 'n vermoede dat bedrog met waardasies gepleeg is.

Gwanya het aangevoer hy probeer die belastingbetaler sowat R40 miljoen spaar weens dié beweerde bedrog wat nooit bewys is nie. Die Grondeisehof en die Appèlhof het die argument verwerp en die Minister van Grondsake en Gwanya aangesê om die koop te eerbiedig.

Gwanya het in albei sy amptelike hoedanighede en met die steun van sy minister die Grondwethof genader om teen dié bevel te appelleer. Die Grondwethof het nou 'n finale stokkie voor verdere vertragings gesteek. Die minister én Gwanya is boonop beveel om die verweerders se regskoste te betaal.

Volgens Melany Welmans Prokureur wat die boere se saak hanteer, beloop die totale koste van dié saak baie ná aan die R40 miljoen wat Gwanya die belastingbetaler wou spaar. Dit sluit in die koopprys van die plase, 15,5 % saamgestelde rente per jaar daarop en regskoste wat nog bereken moet word, maar waarskynlik 'n hele paar miljoen rand sal beloop.

Sewe van die plase behoort aan mnr. John Clarke (wat intussen oorlede is) en sy vrou, Rosemary, en een aan mnr. Dennis Weavil. Die verkopers het deurentyd volgehou het dat geen bedrog plaasgevind het nie. 'n Herwaardasie van die plase was selfs hoër as dié waaroor Gwanya gekibbel het.

Mnr. Lourie Bosman, voorsitter van Agri SA, sê die departement se aksies en vermoë laat veel te wense oor.

"Dit is die Departement van Grondsake wat vertragingstaktiek in grondhervorming gebruik, nie die boere nie. Dit wil voorkom of die Regering ander motiewe het wat 'n rol speel om die proses van spoor af te bring.

"Daar is sóveel onreëlmatighede binne die departement dat restitusie en kommersiële boere deur lang regsprosessse benadeel word. Die grondeienaars sit nou al vir sowat drie jaar sonder hul grond en geld. Dit plaas boere in 'n finansiële krisis en is totaal onaanvaarbaar," het Bosman gesê.

Mnr. Dries Joubert, voorsitter van die TLU SA Noord, het die uitspraak verwelkom en gesê probleme met grondeise kon lankal opgelos wees as die minister en die hoofgrondeisekommissaris hul "administratiewe sabotasie en intimidasie" van wit grondeienaars beëindig. Hy sê dit is dalk deel van 'n groter strategie van die ANC.

"Die vraag is hoeveel keer nog moet die regstelsel in Suid-Afrika sommige staatsamptenare en politici 'n taai klap gee voordat hulle gaan leer dat hulle ook verbind word tot wetlik waardes?"

Landbouweekblad, 14 Maart 2008