Die Demokratiese Alliansie (DA) gaan die voorgestelde nuwe Onteieningswet met al die middele tot sy beskikking beveg, het die party se landbouwoordvoerder, Maans Nel, Dinsdag in 'n persverklaring bekend gemaak.
"Hoewel ons sterk ten gunste is van 'n volhoubare en regverdige grondhervormingsprogram, kan ons nie 'n wet ondersteun wat ongrondwetlik is nie," het Nel gesê.
Die DA is in dié opsig nie die enigste wat beswaar maak nie. Etlike eiendoms- en grondwetkenners sowel as georganiseerde landbou het reeds ernstige bedenkinge geopper oor die grondwetlikheid van die voorgestelde wet.
Nel sê die hoof-besware teen die wet wentel om twee faktore. Die eerste is die baie breë omskrywing van openbare belang en doeleindes, gekoppel aan die besluit om weg te doen met markgerigte vergoeding ten gunste van regverdige en billike vergoeding.
Die tweede is die omvangryke magte wat aan die Minister van Openbare Werke gegee word.
"Behalwe dat dit ongrondwetlik is, is dit 'n skande dat die wet aan die portejeuljekomitee voorgelê is voordat hierdie probleme uitgestryk is. As dit nie verander word nie, bied die wet aan die minister buitensporige magte om te bepaal wat 'n persoon se eiendom werd is sonder dat daardie persoon volle toegang tot die hof het om die betrokke waardasie te laat hersien.
Artikel 25 van die Grondwet bepaal waar dit vir die staat nodig is om grond te onteien, moet 'n aantal faktore - insluitend die markwaarde van die grond - in ag geneem word om die vergoeding vas te stel wat daarvoor aangebied word. Verder moet ooreengekom word oor hierdie vergoeding, en moet dit deur die hof bekragtig word.
"Die voorgestelde wet ontneem die howe van hierdie mag," sê Nel. Dit plaas vergoeding uitsluitlik in die hande van die minister, aangesien slegs die proses wat die staat gevolg het om die vergoeding vas te stel, deur die hof betwis kan word - nie die vergoeding self nie.
Dit is 'n skending van artikel 33 van die Grondwet, wat alle Suid-Afrikaners regverdige, wettige en redelike optrede waarborg.
Nel sê die feit dat die Regering sleg vaar met sy mikpunt om 30% van landbougrond teen 2014 aan swart eienaars oor te dra, is nie weens verwringing of leemtes in die grondmark, of teenstand deur grondeienaars nie. Die rede is 'n gebrek aan inisiatief en vermoë, en ondoeltreffende bestuur van die regering se grondbeleid, asook te min fondse.
Pleks van wetgewing deur te voer wat reeds 'n invloed op plaaslike en internasionale sentiment het, behoort die Regering eerder planne deur te voer om gewillige kopers/verkopers te identifiseer, en meer geld vir herverspreiding en restitusie beskikbaar te stel. Die Regering moet ook baie meer aktief tot die grondmark toetree en munt slaan uit die sowat 4% private grond wat jaarliks in die mark kom.
"As die Regering vasbeslote is om met hierdie wetgewing deur te druk, sal die DA enige voorgestelde optrede in die Grondwethof steun, of, as dit nodig is, dié roete self volg," het Nel gesê.
1 April 2008