Landbou
Staat wil grondplan regruk
Deur JEAN DU PREEZ

Die Regering wil selferkende leemtes in sy sloerende grondhervormingsprogram nou regruk met 'n splinternuwe skema wat al sy bestaande planne gaan integreer in een enkele "vlagskip"-projek waarby die private sektor ook betrek gaan word.

Dié nuwe plan, The Land and Agrarian Reform Project (LARP), is vervat in 'n amptelike konsep-dokument wat pas in Landbouweekblad se besit gekom het.

Daarin word onder meer ruiterlik erken dat grondoordrag na swart mense stadiger was as wat verwag is, en dat die 2014-teiken van 30% landbougrond in swart besit as gevolg daarvan wankel. Boonop is baie landbouvestigingsprojekte se gehalte en volhoubaarheid onder verdenking, lui die dokument.

Die plan met LARP is om alle bestaande grondhervormingskemas te integreer en tot so laag as distriksvlak te desentraliseer. Die dokument praat van landwye eenstop-winkels naby die bevoordeeldes van grondhervorming wat 'n omvattende diens aan plattelandse landbougemeenskappe sal lewer - van die identifisering van grond, beplanning en finansiering tot voorligting. In dié verband sal vennootskappe met die private sektor, boereverenigings ingesluit, ook ten volle benut word.

Die doel is onder meer om 5 miljoen hektaar landbougrond in wit besit na 10 000 nuwe opkomende boere oor te dra, swart entrepeneurs in die landbousakesektor met 10% te verhoog, landwye voorligtingsdienste aan die teikengroep te verskaf, en landbouproduksie in hierdie sektor met 10% tot 15% te verhoog.

Die dokument sê een van die belangrikste lesse wat tot dusver geleer is, is dat die Regering baie meer pro-aktief en geïntegreerd in sy benadering tot grondhervorming sal moet word.

Sekere fokus-gebiede gaan in elke provinsie geïdentifiseer word op grond van opnames oor landbougeleenthede, die mededingende voordeel van distrikte met bewese markgeleenthede, en die behoeftes van teikengroepe. In dié verband sal sg. landbou-korridors (hoëpotensiaal-landbougebiede naby hoofroetes), gebiede met 'n hoë konsentrasie van plaaswerkers, maar ook streke met 'n hoë voorkoms van plaasafsettings, voorkeur kry.

Uit die dokument is dit duidelik dat plaaswerkers geteiken sal word om as nuwe boere gevestig te word.

Die dokument maak melding van die stigting van landboudorpies, terwyl die nuwe plan ook gaan fokus op die verbetering van die landelike infrastruktuur. Die sterk verbintenis tussen grondhervorming en landelike dienslewering word in dié verband uitgelig.

Provinsiale LARP-forums bestaande uit al die belanghebbendes sal in elke provinsie gestig word, met komitees tot op distriksvlak. Dié sal moet verseker dat grondhervormingsprojekte lewensvatbaar en volhoubaar is. Elke nuwe projek sal individueel beplan en vir 'n "broeitydperk" van 5 jaar ondersteun word. Grond sal slegs oorgedra word aan bevoordeeldes met bewese boerderyvaardighede - en dan ook eers nadat hulle die toepaslike opleiding en 'n vaardigheidstoets ondergaan het.

Staatshulp ingevolge LARP sal aan individuele projekte verleen word op voorwaarde dat die bevoordeelde 'n lid is van 'n plaaslike boerevereniging of landboustudiegroep vir die volle duur van die vyfjaar-tydperk.

Op distriks- en munisipale vlak sal distrikskomitees verantwoordelik wees vir die volgende gesamentlike dienste:
Beplanning, die goedkeuring van fondse vir projekte, die identifisering van aspirant-boere en geskikte grond, die landboupotensiaal daarvan, asook onderhandeling oor die aankoop of onteiening (indien nodig) van grond, en die onderverdeling daarvan, waar nodig.

Dié komitees sal ook na die hervestiging van bevoordeeldes, die ontwikkeling van landbou-infrastruktuur en die voorsiening van voorligtingsdienste omsien.

'n LARP-projekplan, met teikens en 'n tydraamwerk vir die toepassing daarvan, sou volgens die konsep-dokument vroeg in April gereed gewees het vir amptelike goedkeuring.

10 April 2008