Die Regering se nuwe plan vir grondhervorming het een doel: Om dié proses volhoubaar te bespoedig deur langdradige regs- en burokratiese prosesse te vermy. Gevolglik word uitgerekte onteieningsprosesse byvoorbeeld onnodig. Die beginsel van 'n gewillige koper en 'n gewillige verkoper bly egter behoue.
Faktore wat grondhervorming laat sloer, soos vertragings met die uitkenning van grond, swak samewerking binne die Departement van Landbou en Grondsake, te min kundige voorligters en 'n gebrek aan geld vir grondaankope word aangepak. Hóé presies, is egter nog vaag.
Verder is dit glad nie duidelik hoe 5 miljoen hektaar oor twee jaar aan sowat 10 000 begunstigdes oorgedra kan word nie. Volgens die Departement van Grondsake se nuutste jaarverslag is net 258 890 ha in die boekjaar 2006/'07 aan 9 425 begunstigdes oorgedra.
Me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, sê 12 jaar ná die oorgang na demokrasie is net 4% van die Regering se teiken van 30% grond in swart hande bereik. Dit beteken 3,5 miljoen ha sal jaarliks tot 2014 oorgedra moet word. Die nuwe plan, die Grond- en Landbouhervormingsprojek (Larp), word op vyf presidensiële voorrangsake geskoei, naamlik:
Mnr. Sibusiso Gamede, spesiale raadgewer vir die minister en hoof van die nuut gevestigde nasionale projekbestuureenheid (PMU) [Project Management Unit], sê in werklikheid is Larp niks anders nie as waarvoor reeds in die strategiese plan vir die sektor voorsiening gemaak word. Dit is 'n samestelling van huidige staatsprogramme, maar probeer om die geweldige burokrasie wat in die Departement van Landbou en Grondsake bestaan, uit die weg te ruim. Ook is besef die Regering kan nie self 'n projek soos Larp behartig nie. "Vennootskappe tussen die staat en die private sektor is belangrik."
Larp maak onder meer staat op eiendomsagente, gevestigde boere, private banke en die Land Bank. Dit werk só: Die PMU ken grond in konsultasie met belanghebbendes, soos boere en eiendomsagente, in 'n streek uit. Dit is noodsaaklik dat boere help om grond uit te ken en selfs vir eiendomsagente aan te bied.
Boere gaan ook gevra word om met voorligting aan en ondersteuning van die begunstigdes te help. Begunstigdes, wat plaaswerkers, plaasbewoners, swart entrepreneurs en opkomende boere insluit, word volgens hul eiesoortige behoeftes uit 'n databasis gekies.
Dié databasis is nog nie voltooi nie, maar Gamede sê dit is grootliks 'n lys van begunstigdes wat op die departemente se rekords is. Met behulp van eiendomsagente kan eiendomme binne 12 dae oorgedra word. Die grond sal eers onder beheer van die PMU val, terwyl die begunstigdes 'n tyd lank ondersteun word. Hy voorsien nie dat dit langer as ses maande in die PMU hoef te vestig nie.
Die PMU is drie maande gelede opgerig om Larp te ondersteun met eenhede in elke provinsie. Dit is belangrik om te beklemtoon dat die staat se eendoelinstelling (SPV) wat vroeër bekendgestel is, nie deur Larp vervang word nie, sê Gamede. Larp dien as 'n toets op kort termyn sodat lesse geleer kan word vir die toepassing van die SPV.
Ingeligtes sê 'n rede vir die totstandkoming van Larp is dat die Regering uitgevind het dit sal te lank duur om wetgewing ter ondersteuning van die SPV in te stel. Dít is glo ook hoekom die Land Bank se ontwikkelingsrol vanjaar sterk beklemtoon is.
Min van die 5 miljoen hektaar is al uitgeken. Gamede weet van 21 plase in Limpopo. Hy meen daar is minstens 'n miljoen hektaar in die Oos-Kaap.
Ander plekke waar ingegryp gaan word, is gebiede langs die N2 waar goeie infrastruktuur reeds bestaan. Sowat R24 miljard is by die Tesourie aangevra om grond te koop en 'n verdere R5 miljard om ondersteuning aan begunstigdes te kan bied. Met die bekendmaking van die mediumtermynbegroting vandeesweek sal die ministerie weet of die Tesourie die versoek goedgekeur het. Indien nie, sê mnr. Tozi Gwanya, hoofgrondeisekommissaris, sal die minister werk om meer politieke ondersteuning vir die plan te werf.
Nog 'n ou probleem is vermoë. Gamede raam hulle het drie keer soveel voorligters nodig as wat tans beskikbaar is.
Teen 2009 hoop die staat om met behulp van Larp 9% van sy teiken van 30% te bereik. Alles hang van goeie verhoudinge af. Hy meen sekere kwessies waaroor Xingwana en die georganiseerde landbou koppe stamp, word oordryf.
Me. Annelize Crosby, Agri SA se raadgewer oor regs- en grondsake, sê die idee van vennootskappe word verwelkom. Daar moet egter gewaak word teen oorhaastige optrede en planne wat nie behoorlik deurdink is nie. Boere behoort hul grond sonder druk te kan aanbied.
Landbouweekblad, 2 November 2007