Die hervestigingsprogram in Namibië ontwortel net soveel mense as wat daardeur hervestig word, blyk uit 'n verslag van die Law Assistance Centre (LAC), 'n nie-regerings- menseregteorganisasie in Windhoek.
Die program in sy huidige vorm verruil net een soort armoede vir 'n ander. Vir elke gemiddelde hervestigingsprogram in Namibië wat vyf "benadeelde" gesinne na 'n plaas verskuif, word ses plaaswerkers en hul gesinne verplaas na 'n lewe van armoede sonder 'n heenkome, word in die verslag gesê.
Die hervestigingsplase is nie suksesvol nie omdat dit te klein is - dit word onderverdeel in 'n vyfde of sewende van die oorspronklike plaasgrootte - en verouderde landboumetodes gebruik word.
Onteiening moet versnel word, maar steun daarvoor word bepaal deur openbare vertroue in die suksesvolle vestiging van swart boere, lui die verslag.
28 November 2007